Vertroue kan herstel word!
HOEWEL die huidige vertrouenskrisis ’n teken van “die laaste dae” is, was daar ook duisende jare gelede ’n duidelike gebrek aan vertroue (2 Timoteus 3:1). Dit het in ’n baie onwaarskynlike plek ontstaan—in ’n paradys. Die Bybel sê van die plek: “God [het] ’n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee. En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.”—Genesis 2:8, 9.
Die daaropvolgende verse werp lig op wat dit met die hedendaagse vertrouenskrisis te doen het. Ons lees: “Die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:16, 17). Het Adam enige rede gehad om wat Jehovah gesê het te betwyfel?
Ons lees verder: “Die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.”—Genesis 3:1-6.
Deur God se duidelike waarskuwing te ignoreer, het Adam en Eva ’n gebrek aan vertroue in Jehovah geopenbaar. Hulle het God se teenstander Satan nagevolg, wat deur middel van die letterlike slang met Eva gepraat het. Satan het ’n gebrek aan vertroue gehad in die manier waarop Jehovah geheers het. As gevolg hiervan sowel as ’n trotse en eersugtige hart het hy teen God in opstand gekom en mense mislei om dieselfde te doen. Hy het hulle beïnvloed om te dink dat God nie vertrou kan word nie.
Die gevolg? Gespanne verhoudings
Jy het moontlik al opgemerk dat mense wat ander nie vertrou nie dit moeilik vind om vriendskappe te behou. Publilius Syrus, ’n Latynse skrywer van die eerste eeu v.G.J., het geskryf: “Vertroue is die enigste vriendskapsband.” Deur hulle opstandige daad het Adam en Eva getoon dat hulle God nie vertrou het nie. Gevolglik het God sekerlik geen rede gehad om hulle te vertrou nie. Die eerste mense het God se vriendskap weens ’n verlies aan vertroue verloor. Daar is geen aanduiding dat Jehovah ooit weer met hulle gepraat het nadat hy hulle weens hulle opstand veroordeel het nie.
Die verhouding tussen Adam en Eva het ook skade gely. Jehovah het Eva gewaarsku: “Met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers.” (Genesis 3:16; ons kursiveer.) The Jerusalem Bible sê: “Hy sal oor jou baasspeel.” Pleks van liefdevolle hoofskap oor sy vrou uit te oefen, soos God wou hê, het Adam nou oor haar baasgespeel.
Nadat hulle gesondig het, het Adam sy vrou die skuld probeer gee. Na sy mening was dit as gevolg van wat sy gedoen het dat hulle uit ’n volmaakte tuin gesit is, op ’n onbewerkte aarde geplaas is en gevonnis is om onder alles behalwe ideale toestande te swoeg totdat hulle tot die stof terugkeer (Genesis 3:17-19). Ons kan ons goed voorstel dat dit spanning tussen die twee veroorsaak het. Adam het dalk oorgereageer en gesê dat hy nooit weer na Eva sou luister nie. Miskien het hy geregverdig gevoel om as ’t ware vir haar te sê: ‘Van nou af is ek baas!’ Daarenteen het Eva dalk gesien dat Adam misluk het in sy rol as gesinshoof, en as gevolg daarvan het sy vertroue in hom verloor. In alle geval, deur ’n gebrek aan vertroue in God te toon, het mense hulle vriendskap met hom verloor en hulle verhouding met mekaar skade berokken.
Wie kan ons vertrou?
Nie almal verdien ons vertroue nie, soos die voorbeeld van Adam en Eva toelig. Hoe kan ons weet wie ons vertroue verdien en wie nie?
Psalm 146:3 raai ons aan: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” En in Jeremia 17:5-7 lees ons: “Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.” Aan die ander kant, “geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.”
Dit is weliswaar nie altyd verkeerd om vertroue in mense te stel nie. Daardie tekste stel bloot die punt dat vertroue in God nooit misplaas is nie, maar dat dit soms tot rampspoed kan lei as ’n mens jou vertroue in onvolmaakte mense stel. Mense wat byvoorbeeld op ander mense vertrou om te bereik wat net God kan doen—om redding te voorsien en algehele vrede en veiligheid te bring—sal teleurgestel word.—Psalm 46:10; 1 Tessalonisense 5:3.
Mense en menslike instellings verdien in werklikheid net vertroue in die mate dat hulle in harmonie met God se voornemens handel en Goddelike beginsels openbaar. As ons dus vertroue by ander wil inboesem, moet ons die waarheid praat en eerlik en betroubaar wees (Spreuke 12:19; Efesiërs 4:25; Hebreërs 13:18). Slegs deur in ooreenstemming met Bybelbeginsels te lewe, sal die vertroue wat ander in ons stel geregverdig wees en ’n bron van wedersydse krag en aanmoediging wees.
Herstel vertroue
Jehovah se Getuies het ’n vaste grondslag om hulle vertroue in Jehovah te stel en ander aan te moedig om dieselfde te doen. Jehovah is getrou en lojaal, iemand op wie ’n mens altyd kan vertrou om te doen wat hy gesê het, want ‘dit is onmoontlik vir God om te lieg’. Vertroue wat in die God van liefde gestel word, sal nooit tot teleurstelling lei nie.—Hebreërs 6:18; Psalm 94:14; Jesaja 46:9-11; 1 Johannes 4:8.
Mense wat verenig is deur hulle vertroue in Jehovah en wat volgens sy beginsels lewe, het goeie rede om vertroue in mekaar aan die dag te lê. Wat ’n vreugde is dit tog om betroubare mense te vind in ’n wêreld wat ’n vertrouenskrisis ondervind! Stel jou voor hoe anders die wêreld sou wees as ons volkome vertroue kon hê in wat alle ander mense sê of doen! In die komende nuwe wêreld wat God beloof het, sal dit die geval wees. Nooit weer sal daar ’n vertrouenskrisis wees nie!
Sal jy graag dan wil lewe? Indien wel, nooi Jehovah se Getuies jou om jou vertroue in God en in sy beloftes te versterk deur meer oor sy vereistes vir die lewe te leer. ’n Studie van die Bybel bewys dat God bestaan, dat hy in die mensdom se welsyn belangstel en dat hy binnekort sal optree om wêreldprobleme deur middel van sy Koninkryk reg te stel. Miljoene het geleer om vertroue in God en in sy Woord, die Bybel, te stel. Jehovah se Getuies sal met graagte vir jou die Bybelstudiekursus demonstreer wat hulle gratis aanbied. Of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif vir verdere inligting.
[Lokteks op bladsy 5]
’n Gebrek aan vertroue in God lei tot beskadigde menseverhoudings
[Lokteks op bladsy 6]
Mense verdien net vertroue in die mate dat hulle in harmonie met Goddelike beginsels handel