Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 8/15 bl. 15-20
  • Hoe ons ons vertroue in God se regverdigheid kan versterk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ons ons vertroue in God se regverdigheid kan versterk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • As ons meen dat ons onnodig gely het
  • Leer by Jona
  • Dit is nou die tyd om ons vertroue te versterk!
  • Jehovah se oordeel sal regverdig wees
  • Jehovah moet ons vertroue wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Vertroue kan herstel word!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Hy het ’n les in barmhartigheid geleer
    Volg hulle geloof na
  • Hy het ’n les in barmhartigheid geleer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 8/15 bl. 15-20

Hoe ons ons vertroue in God se regverdigheid kan versterk

“Sodat jou vertroue op Jehovah self kan wees, het ek vandag vir jou kennis gegee.”—SPREUKE 22:19, NW.

1, 2. (a) Waarom openbaar Jehovah se Getuies vertroue in Jehovah? (Spreuke 22:19, NW) (b) Wat toon dat sommige individue hulle persoonlike vertroue in Jehovah moet versterk?

WARE Christene is geseën met juiste kennis van Jehovah en van sy voornemens. ’n “Getroue en verstandige slaaf” voorsien hulle liefdevol van geestelike “voedsel op die regte tyd” (Matteus 24:45). Die kennis wat hulle opdoen, gee hulle ’n vaste fondament waarop hulle hulle vertroue in God kan grond. As ’n groep openbaar Jehovah se Getuies gevolglik merkwaardige vertroue in Jehovah en in sy regverdigheid.

2 Maar dit lyk asof daar individuele Getuies is wat hierdie vertroue moet versterk. Die Genootskap ontvang soms briewe wat onsekerheid uitspreek oor verduidelikings wat in die publikasies gegee word. Hierdie twyfelgedagtes is moontlik ’n reaksie op wysigings in ons begrip, of dit handel dalk oor sake wat die navraer raak, veral emosioneel.—Vergelyk Johannes 6:60, 61.

3. Wat kan selfs met getroue knegte van Jehovah gebeur, en waarom?

3 Selfs ware knegte van Jehovah ondervind die waaragtigheid van Prediker 9:11: “Weer het ek onder die son gesien dat die wedloop nie is vir die vinniges en die oorlog nie vir die helde nie; en ook die brood is nie vir die wyse of ook rykdom vir die slimmes of ook guns vir die verstandiges nie; want tyd en lotgeval tref hulle almal.” Hoe kan dit waar wees in ’n uitgebreide, of geestelike, sin? Ons het moontlik al Christene geken wat gou was om Bybelraad toe te pas, groot verdedigers van die waarheid was, Bybelbeginsels verstandig toegepas het en juiste kennis ywerig nagestreef het. Maar weens “tyd en lotgeval” is sommige dalk nou beperk as gevolg van ’n ongeluk of bejaardheid. Hulle wonder dalk of hulle God se nuwe wêreld sal binnegaan sonder om ooit te sterf.

4, 5. Waarom het Christene geen rede om hulle vertroue in Jehovah se regverdigheid te verloor nie?

4 Wanneer ’n Christen sy huweliksmaat verloor, is die pyn en gevoel van verlies intens. Hulle het Jehovah dalk jare of selfs dekades lank saam as ’n egpaar gedien. Die oorlewende huweliksmaat weet dat die dood die huweliksband verbreeka (1 Korintiërs 7:39). Hy moet nou sy emosies beheers sodat sy vertroue nie ondermyn word nie.—Vergelyk Markus 16:8.

5 Hoe verstandig is dit tog om die dood van ’n maat, ouer, kind of intieme Christenvriend as ’n geleentheid te beskou om vertroue in Jehovah se regverdigheid te toon! Selfs wanneer ons ’n persoonlike verlies ly, kan ons die vertroue hê dat Jehovah nie onregverdig is nie. Ons kan seker wees dat almal wat die ewige lewe verkry—hetsy deur oorlewing of deur ’n opstanding—gelukkig sal wees. Die psalmis sê aangaande God: “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae. Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid. Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.”—Psalm 145:16-19.

As ons meen dat ons onnodig gely het

6, 7. (a) Waarom het sommige Getuies wat in die verlede gely het dalk nou ’n ander beskouing? (b) Waarom moet ons Jehovah nie as onregverdig beskou omdat hy sulke lyding in die verlede toegelaat het nie?

6 Party Getuies het in die verlede gely omdat hulle geweier het om aan ’n bedrywigheid deel te neem wat hulle gewete hulle dalk nou toelaat om aan deel te neem. Dit was dalk jare gelede byvoorbeeld hulle keuse wat sekere soorte burgerlike diens betref. ’n Broer meen dalk nou dat hy gewetensgetrou sulke diens kan doen sonder om sy Christelike neutraliteit met betrekking tot die huidige stelsel van dinge te skend.

7 Was dit onregverdig van Jehovah om hom te laat ly vir iets wat hy nie gedoen het nie, maar wat hy dalk nou sonder enige negatiewe gevolge mag doen? Die meeste wat daardie ondervinding gehad het, sal nie so dink nie. Hulle is eerder bly dat hulle die geleentheid gehad het om openlik en duidelik te toon dat hulle vasbeslote was om onwrikbaar te wees ten opsigte van die geskil van universele soewereiniteit. (Vergelyk Job 27:5, NW.) Watter rede kan enigiemand hê om spyt te wees dat hy sy gewete gevolg het toe hy ’n ferm standpunt vir Jehovah ingeneem het? Deur lojaal Christelike beginsels te handhaaf soos hulle dit verstaan het of deur na die stem van hulle gewete te luister, het hulle getoon dat hulle Jehovah se vriendskap waardig is. Dit is beslis verstandig om ’n weg te vermy wat jou gewete sal kwel of wat ander moontlik kan laat struikel. Ons kan in hierdie verband dink aan die voorbeeld wat die apostel Paulus gestel het.—1 Korintiërs 8:12, 13; 10:31-33.

8. Waarom het Joodse Christene, wat vroeër die Wet nagekom het, geen rede gehad om Jehovah se regverdigheid te betwyfel nie?

8 Om Jehovah te behaag, moes die Jode die Tien Gebooie asook ’n wye verskeidenheid van ongeveer 600 bykomende wette gehoorsaam. Later, onder die Christelike reëling, was gehoorsaamheid aan hierdie wette nie meer ’n vereiste om Jehovah te dien nie, nie eers vir vleeslike Jode nie. Die wette wat nie meer van krag was nie, was onder meer dié in verband met die besnydenis, die viering van die Sabbat, diereofferandes en die nakoming van sekere dieetkundige beperkings (1 Korintiërs 7:19; 10:25; Kolossense 2:16, 17; Hebreërs 10:1, 11-14). Jode—met inbegrip van die apostels—wat Christene geword het, is vrygespreek van die verpligting om wette na te kom wat hulle moes gehoorsaam toe hulle onder die Wetsverbond was. Het hulle gekla dat God se reëling onregverdig was omdat hy vroeër dinge van hulle vereis het wat nie meer nodig was nie? Nee, hulle het hulle verheug in hulle breër begrip van Jehovah se voornemens.—Handelinge 16:4, 5.

9. Wat is waar van sommige Getuies, maar waarom het hulle geen rede om spyt te voel nie?

9 In hedendaagse tye was daar sommige Getuies wat baie streng was in hulle beskouing van wat hulle sou en nie sou doen nie. As gevolg hiervan het hulle meer as ander gely. Later het vermeerderde kennis hulle gehelp om hulle beskouing van sake te verbreed. Maar hulle het geen rede om spyt te voel omdat hulle vroeër in ooreenstemming met hulle gewete opgetree het nie, selfs wanneer dit moontlik bykomende lyding veroorsaak het. Dit is waarlik prysenswaardig dat hulle hulle gewilligheid getoon het om uit getrouheid aan Jehovah te ly, om ‘alles ter wille van die goeie nuus te doen’. Jehovah seën sulke godvrugtige toegewydheid (1 Korintiërs 9:23; Hebreërs 6:10). Die apostel Petrus het sy insig getoon en geskryf: “As julle, wanneer julle goed doen en ly, dit verduur, is dit iets welgevalligs by God.”—1 Petrus 2:20.

Leer by Jona

10, 11. Hoe het Jona ’n gebrek aan vertroue in Jehovah getoon (a) toe hy na Nineve gestuur is? (b) toe God nie die Nineviete vernietig het nie?

10 Toe Jona beveel is om na Nineve te gaan, het hy ’n gebrek aan waardering getoon vir die vertroue wat Jehovah in hom gestel het. Ná ’n verskriklike ondervinding weens sy eie ongehoorsaamheid het Jona tot sy sinne gekom, sy fout besef, sy buitelandse toewysing aanvaar en die Nineviete oor die naderende vernietiging gewaarsku. Toe gebeur die onverwagte: Weens die Nineviete se berouvolle gesindheid het Jehovah besluit om hulle nie te vernietig nie.—Jona 1:1–3:10.

11 Jona se reaksie? Hy was ontevrede en het in gebed tot God gekla. Die kern van sy beswaar was: ‘Ek het geweet dit gaan gebeur. Dit is waarom ek nie in die eerste plek na Nineve wou kom nie. Nou dít, ná alles wat ek deurgemaak het, onder andere die angs en vernedering om deur ’n groot vis ingesluk te word en nadat ek hard gewerk het om die Nineviete oor die naderende vernietiging te waarsku! Al my werk en lyding was tevergeefs! Ek kan net so wel maar dood wees!’—Jona 4:1-3.

12. Wat kan ons uit Jona se ondervinding leer?

12 Het Jona ’n geldige rede gehad om te kla? Was dit onregverdig van Jehovah om barmhartigheid aan berouvolle kwaaddoeners te bewys? Jona moes eintlik bly gewees het; tienduisende het teregstelling ontkom! (Jona 4:11). Maar sy oneerbiedige, klaende gesindheid het getoon dat hy nie heeltemal op Jehovah se regverdigheid vertrou het nie. Hy het te veel aan homself en te min aan ander gedink. Laat ons by Jona leer deur onsself en ons persoonlike gevoelens op die agtergrond te hou. Laat ons daarvan oortuig wees dat dit vir ons die beste is om gehoorsaam aan Jehovah te wees, die riglyne wat deur sy organisasie gegee word te volg en die besluite wat dit neem te aanvaar. Ons is oortuig dat “dit goed sal gaan met die wat God vrees”.—Prediker 8:12.

Dit is nou die tyd om ons vertroue te versterk!

13. Hoe kan ons almal ons vertroue in Jehovah versterk?

13 Dit is verstandig om ons vertroue in Jehovah te versterk (Spreuke 3:5-8). Ons moet natuurlik meer doen as om net te bid dat Jehovah ons help om groter vertroue te hê. Ons vertroue groei namate ons juiste kennis opdoen, daarom moet ons persoonlike Bybelstudie, om die Bybel asook Bybelpublikasies te lees, deel van ons daaglikse roetine maak. Die gereelde bywoning van Christelike vergaderinge is noodsaaklik, sowel as goeie voorbereiding en deelname tot die mate waarin dit moontlik is. As ons dit ’n gewoonte maak om Bybelwaarhede aan ander mee te deel en besware taktvol te oorkom, versterk dit ook ons vertroue in Jehovah en in sy Woord. Ons kom sodoende daagliks nader aan hom.

14. Waarom sal daar binnekort van God se volk verwag word om hulle vertroue meer as ooit tevore in Jehovah te openbaar?

14 In die nabye toekoms sal die grootste tyd van verdrukking wat die mensdom nog getref het skielik uitbreek (Matteus 24:21). Wanneer dit gebeur, sal knegte van God meer as ooit tevore hulle vertroue moet openbaar in Jehovah se regverdigheid en in die riglyne wat deur sy organisasie voorsien word. Hulle sal dan in simboliese sin God se opdrag met vertroue gehoorsaam: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan” (Jesaja 26:20). Hulle het alreeds die beskutte atmosfeer van meer as 85 000 gemeentes in 232 lande ingegaan. Ongeag wat nog by die opdrag “gaan in jou binnekamers” ingesluit sal word, ons kan vol vertroue wees dat Jehovah ons sal help om dit uit te voer.

15. Hoe is die kwessie van vertroue gedurende 1998 beklemtoon, en waarom is dit gepas?

15 Dit is lewensbelangrik dat ons nóú ons vertroue versterk. As ons nie vertroue het in ons Christenbroers, in Jehovah se organisasie en bowenal in Jehovah self nie, sal dit onmoontlik wees om behoue te bly. Hoe gepas is dit dus tog dat Jehovah se Getuies regoor die wêreld gedurende 1998 herhaaldelik deur die woorde van hulle jaarteks herinner is: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word”! (Romeine 10:13). Ons moet altyd vertroue hierin behou. As ons selfs die geringste teken van onsekerheid in hierdie vertroue bespeur, moet ons stappe doen om dit nóú, ja, vandag nog, reg te stel.

Jehovah se oordeel sal regverdig wees

16. Wat kan met vertroue gebeur as dit nie gekweek word nie, en hoe kan ons voorkom dat dit gebeur?

16 In Hebreërs 3:14 word gesalfde Christene gewaarsku: “Ons word in werklikheid slegs deelgenote van die Christus as ons tot die einde toe stewig vashou aan die vertroue wat ons aan die begin gehad het.” Hierdie woorde is in beginsel ook van toepassing op Christene met ’n aardse hoop. Vertroue wat ons aanvanklik gehad het, kan ondermyn word as dit nie gekweek word nie. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons voortgaan om juiste kennis op te doen en sodoende die fondament versterk waarop ons vertroue gegrond is!

17. Waarom kan ons seker wees dat Jesus reg sal oordeel wat oorlewing betref?

17 Alle nasies sal binnekort deur Christus ondersoek word sodat hy “mense van mekaar [kan] afskei, net soos ’n herder die skape van die bokke afskei” (Matteus 25:31-33). Ons kan seker wees dat Christus in regverdigheid sal oordeel wie waardig is om behoue te bly. Jehovah het hom die wysheid, insig en ander nodige eienskappe gegee “om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel” (Handelinge 17:30, 31). Laat ons vertroue wees soos dié van Abraham, wat gesê het: “Dit is nie denkbaar van u [Jehovah] dat u op hierdie manier handel om die regverdige saam met die goddelose dood te maak sodat dit met die regverdige moet gebeur soos met die goddelose nie! Dit is ondenkbaar van u. Gaan die Regter van die hele aarde nie doen wat reg is nie?”—Genesis 18:25, NW.

18. Waarom moet ons nie te besorg raak oor wat ons dalk nie tans weet nie?

18 Omdat ons ten volle op Jehovah se regverdigheid vertrou, hoef ons nie daaroor besorg te wees om antwoorde te vind op vrae soos: ‘Hoe sal babas en klein kindertjies geoordeel word? Kan dit wees dat daar baie mense sal wees wat nog nie van die goeie nuus gehoor het wanneer Armageddon kom nie? Wat van die sielsiekes? Wat van . . . ?’ Ons weet weliswaar nie tans hoe Jehovah hierdie kwessies gaan oplos nie. Maar hy sal dit op ’n regverdige en barmhartige wyse doen. Ons moet nooit daaraan twyfel nie. Trouens, ons sal dalk verbaas en verheug wees om te sien hoe hy hulle op ’n wyse oplos waaraan ons nooit eers gedink het nie.—Vergelyk Job 42:3; Psalm 78:11-16; 136:4-9; Matteus 15:31; Lukas 2:47.

19, 20. (a) Waarom is dit nie verkeerd om redelike vrae te vra nie? (b) Wanneer sal Jehovah die nodige antwoorde gee?

19 Jehovah se organisasie ontmoedig nie opregte, tydige vrae, soos party teenstanders verkeerdelik beweer nie (1 Petrus 1:10-12). Maar die Bybel raai ons aan om dwase, spekulatiewe vrae te vermy (Titus 3:9). As ons redelike vrae vra en God se Woord en Christelike publikasies ondersoek om skriftuurlike antwoorde te vind, kan dit ons juiste kennis vergroot en dus ons vertroue in Jehovah versterk. Die organisasie volg Jesus se voorbeeld na. Hy het nie kommentaar gelewer op vrae waarvoor dit nog nie die regte tyd was om ’n antwoord te gee nie. Hy het verduidelik: “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie” (Johannes 16:12). Hy het ook erken dat daar dinge was wat hy destyds self nie geweet het nie.—Matteus 24:36.

20 Jehovah moet nog baie dinge openbaar. Hoe verstandig is dit tog om op hom te wag, met die vertroue dat hy sy voornemens op die regte tyd daarvoor sal openbaar. Ons kan vol vertroue wees dat ons die vreugde sal hê om groter insig in Jehovah se weë te verkry wanneer sy bestemde tyd aangebreek het. Ja, ons sal beloon word mits ons algehele vertroue stel in Jehovah en in die organisasie wat hy gebruik. Spreuke 14:26 (NW) verseker ons: “In die vrees van Jehovah lê sterk vertroue, en vir sy kinders sal daar ’n toevlug wees.”

[Voetnoot]

a Sien The Watchtower van 15 Oktober 1967, bladsy 638 en Die Wagtoring van 1 Junie 1987, bladsy 30.

Wat dink jy?

◻ Waarom is dit onverstandig om toe te laat dat ons emosies ons vertroue in Jehovah ondermyn?

◻ Wat kan ons uit Jona se ondervinding leer?

◻ Waarom is Bybelstudie en vergaderingbywoning so belangrik?

[Prent op bladsy 16]

Selfs wanneer ons ’n persoonlike verlies ly, kan ons die vertroue hê dat Jehovah regverdig is

[Prente op bladsy 18]

Is jy seker dat jou vertroue in Jehovah is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel