Jerusalem in Bybeltye—Wat openbaar die argeologie?
INTERESSANTE grootskaalse argeologiese bedrywighede vind veral sedert 1967 in Jerusalem plaas. Baie van die opgrawingsterreine is nou vir die publiek oopgestel; laat ons dus party van hulle besoek en sien hoe die argeologie Bybelgeskiedenis bevestig.
Die Jerusalem van koning Dawid
Die gebied waarna die Bybel verwys as die berg Sion, waarop die eertydse stad van Dawid gebou was, lyk maar onbeduidend in die metropolis van hedendaagse Jerusalem. Opgrawings van die stad van Dawid, wat tussen 1978-85 deur wyle professor Yigal Shiloh gelei is, het ’n enorme trapvormige steenstruktuur, of steunmuur, aan die oostekant van die heuwel blootgelê.
Professor Shiloh het beweer dat dit die oorblyfsels van ’n reusagtige fondament van terrasmure moet wees waarop die Jebusiete (inwoners voor Dawid se verowering) ’n vesting gebou het. Hy het verduidelik dat die trapvormige steenstruktuur wat hy bo-op hierdie terrasmure gevind het deel was van die nuwe bergvesting wat Dawid op die terrein van die Jebusiete se vesting gebou het. In 2 Samuel 5:9 lees ons: “Dawid het in die bergvesting gaan woon en dit die stad van Dawid genoem; en Dawid het rondom, van Millo af na die binnekant, gebou.”
Naby hierdie struktuur is die ingange van die stad se eertydse waterstelsels, waarvan sommige dele blykbaar uit Dawid se tyd dateer. Party verklarings in die Bybel oor Jerusalem se watertonnelstelsel het vrae laat ontstaan. Dawid het byvoorbeeld vir sy manne gesê: “Laat enigeen wat die Jebusiete doodslaan deur middel van die watertonnel in aanraking kom [met die vyand]” (2 Samuel 5:8, NW). Dawid se bevelvoerder Joab het dit gedoen. Presies wat word bedoel met die “watertonnel”?
Ander vrae is geopper oor die bekende Siloamtonnel, wat waarskynlik in die agtste eeu v.G.J deur koning Hiskia se ingenieurs gegrawe is en waarna daar in 2 Konings 20:20 en 2 Kronieke 32:30 verwys word. Hoe het die twee spanne tonnelgrawers, wat van die teenoorgestelde kante begin grawe het, dit reggekry om te ontmoet? Waarom het hulle ’n kronkelroete gevolg, wat die tonnel aansienlik langer gemaak het as ’n reguit tonnel? Hoe het hulle genoeg lug gekry om asem te haal, veral aangesien hulle waarskynlik olielampe sou gebruik het?
Die tydskrif Biblical Archaeology Review het moontlike antwoorde op hierdie vrae voorgestel. Dan Gill, ’n geologiese raadgewer van die opgrawing, het volgens ’n aanhaling gesê: “Onder die stad van Dawid is daar ’n goed ontwikkelde natuurlike karststelsel. Karst is ’n geologiese term wat ’n ongelyke gebied beskryf met sinkgate, spelonke en kanale wat deur grondwater veroorsaak word wanneer dit deur ondergrondse rotsformasies sypel en vloei. . . . Ons geologiese ondersoek van die onderaardse waterwerke onder die stad van Dawid toon dat dit hoofsaaklik gevorm is deur mense wat op vaardige wyse natuurlike (karst-) dissolusiekanale en -skagte vergroot het en dit deel van funksionele watervoorsieningstelsels gemaak het.”
Dit help moontlik om te verduidelik hoe die Siloamtonnel uitgegrawe is. Dit het moontlik die kronkelende roete van ’n natuurlike kanaal onder die heuwel gevolg. Spanne wat van albei kante af gewerk het, het moontlik ’n voorlopige tonnel gegrawe deur bestaande spelonke te verander. Toe is ’n dalende kanaal gegrawe sodat die water van die Gihonfontein na die bad Siloam, wat waarskynlik binne die stadsmure was, kon vloei. Dit was werklik ’n ingenieursprestasie, want die hoogteverskil tussen die twee punte is net 32 sentimeter, al is dit 533 meter lank.
Geleerdes erken al lank dat die Gihonfontein die eertydse stad se hoofwaterbron was. Dit was buite die stadsmure geleë, maar naby genoeg sodat ’n tonnel en ’n skag van 11 meter diep uitgegrawe kon word, wat die inwoners in staat sou stel om water te kry sonder om buite die beskermende mure te gaan. Dit staan bekend as Warren se Skag en is na Charles Warren vernoem, wat die stelsel in 1867 ontdek het. Maar wanneer is die tonnel en skag gemaak? Het dit in Dawid se tyd bestaan? Is dit die watertonnel wat Joab gebruik het? Dan Gill antwoord: “Ons het ’n fragment van die kalkagtige kors van die oneffe wande vir koolstof-14 getoets om te bepaal of Warren se Skag eintlik ’n natuurlike sinkgat is. Dit het niks bevat nie, wat aandui dat die kors meer as 40000 jaar oud is: Dit voorsien onteenseglike bewys dat die skag nie deur mense gegrawe kon gewees het nie.”
Oorblyfsels uit Hiskia se tyd
Koning Hiskia het gelewe toe die nasie Assirië alles wat in hulle pad gekom het voor hulle weggevee het. In die sesde jaar van sy bewind het die Assiriërs Samaria, die hoofstad van die tienstammeryk, verower. Agt jaar later (732 v.G.J.) was die Assiriërs weer terug en het hulle Juda en Jerusalem bedreig. Tweede Kronieke 32:1-8 beskryf Hiskia se verdedigingstrategie. Is daar enige sigbare bewyse uit hierdie tydperk?
Ja, in 1969 het professor Nahman Avigad oorblyfsels uit hierdie tydperk ontdek. Opgrawings het ’n deel van ’n enorme muur blootgelê, waarvan die eerste deel 40 meter lank, 7 meter breed en, volgens skattings, 8 meter hoog is. Die muur het gedeeltelik op rotsbodem en gedeeltelik op pasgeboude huise gestaan. Wie het die muur gebou en wanneer? “Twee Skrifgedeeltes het Avigad gehelp om die presiese datum en doel van die muur te bepaal”, berig ’n argeologiese tydskrif. Hierdie gedeeltes lui: “En hy het moed geskep en die hele muur opgetrek wat afgebreek was, en daar torings op gebou, ook die ander muur buitekant het hy gebou” (2 Kronieke 32:5). “Die huise breek julle af om die muur te versterk” (Jesaja 22:10). Vandag kan besoekers deel van hierdie so genoemde Breë Muur in die Joodse wyk van die Ou Stad sien.
Verskillende opgrawings toon ook dat Jerusalem destyds baie groter was as wat voorheen gemeen is, waarskynlik weens die toestroming van vlugtelinge uit die noordelike koninkryk ná die Assiriërs dit verower het. Professor Shiloh skat dat die Jebusitiese stad ’n gebied van ongeveer ses hektaar beslaan het. In Salomo se tyd het dit amper 16 hektaar beslaan. Teen die tyd van koning Hiskia, 300 jaar later, het die versterkte gebied van die stad tot sowat 60 hektaar gegroei.
Die begraafplase van die Eerste Tempeltydperk
Die begraafplase uit die Eerste Tempeltydperk, dit wil sê, voor die Babiloniërs Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig het, was nog ’n inligtingsbron. ’n Opsienbarende vonds is gedoen toe ’n groep grotte wat as grafte gedien het in 1979/80 teen die hange van die Hinnomvallei opgegrawe is. “In die hele geskiedenis van argeologiese navorsing in Jerusalem is dit een van die baie min begraafplekke uit die Eerste Tempeltyd wat met sy hele inhoud gevind is. Dit het meer as duisend voorwerpe bevat”, sê die argeoloog Gabriel Barkay. Hy sê voorts: “Dit is elke argeoloog wat in Israel, en veral in Jerusalem, werk se grootste droom om geskrewe materiaal te vind.” Twee klein silwerboekrolle is gevind, maar wat het daarop gestaan?
Barkay verduidelik: “Toe ek die oopgerolde silwerstrokie sien en dit onder die vergrootglas plaas, kon ek sien dat daar delikaat gevormde karakters op die oppervlak daarvan was, wat met ’n skerp instrument op die uiters dun en maklik breekbare silwerstrokie uitgekrap is. . . . Die Goddelike Naam wat duidelik in die inskripsie gesien kan word, bestaan uit die vier Hebreeuse karakters wat in eertydse Hebreeuse skrif, jod-he-wau-he, geskryf is.” In ’n latere publikasie het Barkay bygevoeg: “Tot ons verbasing was daar op albei silwerplaatjies inskripsies met seënformules wat amper identies is aan die Priesterlike Seën in die Bybel” (Numeri 6:24-26). Dit was die eerste keer dat Jehovah se naam in ’n inskripsie gevind is wat in Jerusalem ontdek is.
Hoe het die geleerdes hierdie silwerboekrolle gedateer? Hoofsaaklik deur middel van die argeologiese konteks waarin dit ontdek is. Daar is meer as 300 stukke dateerbare erdewerk in die begraafplek gevind wat op die sewende en sesde eeu v.G.J dui. Wanneer die skrif met ander gedateerde inskripsies vergelyk word, dui dit op dieselfde tydperk. Die rolle word in die Israel-museum in Jerusalem uitgestal.
Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J.
Die Bybel vertel in 2 Konings hoofstuk 25, 2 Kronieke hoofstuk 36 en Jeremia hoofstuk 39 van Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. en sê dat Nebukadnesar se leër die stad aan die brand gesteek het. Het onlangse opgrawings hierdie geskiedkundige verslag gestaaf? Volgens professor Yigal Shiloh “word die getuienis [van die Babiloniese vernietiging] in die Bybel . . . aangevul deur die duidelike argeologiese getuienis; die algehele vernietiging van die verskillende strukture en ’n verwoestende brand wat die verskillende houtdele van die huise verteer het”. Hy het verder gesê: “Tekens van hierdie vernietiging is gevind in elkeen van die opgrawings wat in Jerusalem gedoen is.”
Besoekers kan oorblyfsels van hierdie vernietiging sien wat meer as 2500 jaar gelede plaasgevind het. Die Israelitiese Toring, die Brandkamer en die Seëlhuis is name van gewilde argeologiese terreine wat bewaar is en vir die publiek oopgestel is. Argeoloë Jane M. Cahill en David Tarler sê ter opsomming in hulle boek Ancient Jerusalem Revealed: “Die omvattende vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs blyk nie alleen duidelik uit die dik lae half verbrande oorblyfsels wat in strukture soos die Brandkamer en die Seëlhuis uitgegrawe is nie, maar ook uit die diep steenrommel van ineengestorte geboue wat op die oostelike hang gevind is. Die Bybelse beskrywings van die stad se vernietiging . . . vul die argeologiese getuienis aan.”
Die Bybel se beeld van Jerusalem van Dawid se tyd tot sy vernietiging in 607 v.G.J. is dus op baie maniere gestaaf deur argeologiese opgrawings wat gedurende die laaste 25 jaar gedoen is. Maar wat van Jerusalem van die eerste eeu G.J.?
Jerusalem in Jesus se dag
Opgrawings, die Bybel, die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Josefus en ander bronne help geleerdes om ’n beeld te vorm van die Jerusalem van Jesus se dag, voor die Romeine dit in 70 G.J. vernietig het. ’n Model, wat agter ’n groot hotel in Jerusalem uitgestal word, word gereeld bygewerk volgens wat nuwe opgrawings aan die lig bring. Die hoofkenmerk van die stad was die Tempelberg, wat Herodes twee maal so groot gemaak het as wat dit in Salomo se tyd was. Dit was die grootste mensgemaakte platform in die antieke wêreld, ongeveer 480 meter by 280 meter. Party boustene het 50 ton geweeg, een selfs amper 400 ton en is volgens een geleerde “wat grootte betref sonder gelyke in die antieke wêreld”.
Dit is geen wonder nie dat party mense geskok was toe hulle hoor hoe Jesus sê: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal ek dit oprig.” Hulle het gedink dat hy die groot tempelgebou bedoel het, terwyl hy “die tempel van sy liggaam” bedoel het. Daarom het hulle gesê: “Hierdie tempel is in ses-en-veertig jaar gebou, en sal jy dit in drie dae oprig?” (Johannes 2:19-21). As gevolg van opgrawings in die omgewing van die Tempelberg kan besoekers nou dele van die mure en ander argeologiese kenmerke van Jesus se tyd sien en selfs teen dieselfde trappe uitklim as wat hy gebruik het om na die suidelike tempelpoorte te gaan.
Nie ver van die westelike muur van die Tempelberg nie, in die Joodse wyk van die Ou Stad, is twee pragtig herstelde opgrawingsterreine uit die eerste eeu G.J., wat as die Brandhuis en die Herodiaanse wyk bekend staan. Ná die ontdekking van die Brandhuis het die argeoloog Nahman Avigad geskryf: “Dit was nou heel duidelik dat hierdie gebou in 70 n.C., tydens die vernietiging van Jerusalem, deur die Romeine afgebrand is. Vir die eerste keer in die geskiedenis van opgrawings in die stad het aanskoulike en duidelike argeologiese getuienis van die verbranding van die stad aan die lig gekom.”—Sien foto’s op bladsy 12.
Party van hierdie ontdekkings werp lig op party van die gebeure in Jesus se lewe. Die geboue was geleë in die Bo-stad, waar die ryk mense van Jerusalem gewoon het, onder wie die hoëpriesters. ’n Groot aantal rituele baddens is in die huise gevind. Een geleerde sê: “Die groot aantal baddens getuig van die streng onderhouding van die wette van rituele reinheid deur die inwoners van die Bo-stad gedurende die Tweede Tempeltydperk. (Hierdie wette is opgeteken in die Misjna, wat tien hoofstukke aan die besonderhede van die mikvê wy.)” Hierdie inligting help ons om Jesus se opmerkings oor hierdie rituele aan die Fariseërs en skrifgeleerdes te waardeer.—Matteus 15:1-20; Markus 7:1-15.
’n Verrassende groot aantal kliphouers is ook in Jerusalem gevind. Nahman Avigad sê: “Waarom het hulle so skielik en in sulke hoeveelhede in die huise van Jerusalem voorgekom? Die antwoord hou verband met die halakah, die Joodse wet van rituele reinheid. Die Misjna sê vir ons dat kliphouers onder daardie voorwerpe is wat nie onrein kan word nie . . . Klip kon eenvoudig nie ritueel besmet word nie.” Daar word aan die hand gedoen dat dit moontlik is waarom die water wat Jesus in wyn verander het eerder in kliphouers as in erdehouers bewaar is.—Levitikus 11:33; Johannes 2:6.
As ’n mens die Israel-museum besoek, sal jy twee ongewone ossuariums sien. Biblical Archaeology Review verduidelik: “Ossuariums is hoofsaaklik gebruik in die ongeveer honderd jaar voor die Romeinse vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. . . . Die afgestorwene is in ’n holte geplaas wat uit die muur van ’n grot gekap is wat as graf gebruik is; nadat die vlees ontbind het, is die beendere bymekaargemaak en in ’n ossuarium geplaas—’n houer wat gewoonlik van versierde kalksteen gemaak is.” Die twee wat vertoon word, is in November 1990 in ’n begraafgrot gevind. Argeoloog Zvi Greenhut sê: “Die woord . . . ‘Kajafa’ op twee van die ossuariums in die graf verskyn hier vir die eerste keer in ’n argeologiese konteks. Dit is waarskynlik die naam van die familie van die hoëpriester Kajafas, wat . . . in die Nuwe Testament . . . genoem word. Dit was vanuit sy huis in Jerusalem dat Jesus aan die Romeinse prokurator Pontius Pilatus oorgelewer is.” Een ossuarium het die beendere bevat van ’n man wat ongeveer 60 jaar oud was. Geleerdes gis dat dit in werklikheid Kajafas se beendere is. Een geleerde het gesê dat die vonds uit die tyd van Jesus kom: “’n Munt wat in een van die ander ossuariums gevind is, is deur Herodes Agrippa (37-44 G.J.) geslaan. Die twee Kajafas-ossuariums kan selfs uit die begin van die eeu dateer.”
William G. Denver, professor van Nabye-Oosterse argeologie aan die Universiteit van Arizona het van Jerusalem gesê: “Dit is geen oordrywing nie om te sê dat ons in die laaste 15 jaar meer geleer het van die argeologiese geskiedenis van hierdie belangrike terrein as in die vorige 150 jaar.” Baie van die groot argeologiese bedrywighede in Jerusalem gedurende onlangse dekades het beslis vondse opgelewer wat Bybelgeskiedenis toelig.
[Foto-erkenning op bladsy 9]
Voorstelling van die stad Jerusalem ten tye van die Tweede Tempel – geleë op die terrein van die Holyland Hotel, Jerusalem
[Prent op bladsy 10]
Bo: Suidwestelike hoek van Jerusalem se Tempelberg
Regs: Warren se Skag