“Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees?”
“Nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor.”—JESAJA 42:9.
1, 2. (a) Wat het Jesus se apostels oor die toekoms gevra? (b) Hoe is Jesus se antwoord oor ’n saamgestelde teken vervul?
GODDELIKE onderrigting het sy oorsprong by Jehovah God, ‘die Een wat van die begin af die einde verkondig’ (Jesaja 46:10). Soos die vorige artikel getoon het, wou die apostels sulke onderrigting van Jesus hê toe hulle hom gevra het: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken wees wanneer al hierdie dinge tot ’n voleinding gaan kom?”—Markus 13:4, NW.
2 In antwoord hierop het Jesus ’n saamgestelde “teken” beskryf van gebeure wat sou bewys dat die Joodse stelsel spoedig sou eindig. Dit is met Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. vervul. Maar Jesus se profesie sou veel later in die tydstroom ’n groter vervulling hê. Nadat “die vasgestelde tye van die nasies” in 1914 geëindig het, sou ’n omvangryke teken duidelik word, wat bewys sou lewer dat die huidige goddelose stelsel kort voor lank in ’n “groot verdrukking” sou eindiga (Lukas 21:24). Miljoene mense wat vandag lewe, kan daarvan getuig dat hierdie teken in die wêreldoorloë en ander betekenisvolle gebeure van die 20ste eeu vervul is. Hierdie gebeure kenmerk ook die grootste vervulling van Jesus se profesie, soos afgeskadu deur die dinge wat tussen 33 en 70 G.J. plaasgevind het.
3. Watter bykomende dinge het Jesus voorspel toe hy van ’n ander teken gepraat het?
3 Nadat Lukas die vasgestelde tye van die nasies gemeld het, beskryf die ooreenstemmende verslae in Mattheüs, Markus en Lukas ’n verdere reeks gebeurtenisse wat ’n teken bo en behalwe die saamgestelde ‘teken van die voleinding van die stelsel van dinge’ insluit (Mattheüs 24:3, NW). (Hierdie punt in die verslag word op bladsy 15 deur ’n dubbele lyn aangedui.) Mattheüs sê: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”—Mattheüs 24:29-31.
Verdrukking en hemelse verskynsels
4. Watter vrae ontstaan oor die hemelse verskynsels wat Jesus gemeld het?
4 Wanneer sou dit vervul word? Al drie die Evangelieverslae meld dinge wat ons hemelse verskynsels kan noem—son en maan wat verduister word en sterre wat val. Jesus het gesê dat hierdie dinge op “die verdrukking” sou volg. Het Jesus die verdrukking in gedagte gehad wat sy hoogtepunt in 70 G.J. bereik het of het hy gepraat van die groot verdrukking wat nog vir ons tyd voorlê?—Mattheüs 24:29; Markus 13:24.
5. Watter beskouing is aanvanklik oor die verdrukking in hedendaagse tye gehuldig?
5 Sedert die vasgestelde tye van die nasies in 1914 geëindig het, het God se volk nog altyd ’n lewendige belangstelling in “die groot verdrukking” getoon (Openbaring 7:14). Hulle het jare lank gedink dat die hedendaagse groot verdrukking gedurende die tyd van die Eerste Wêreldoorlog begin het, dat daar toe ’n onderbreking was en dat dit eindelik sou eindig met die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”. Indien dit die geval was, wat sou tussenin, gedurende die dekades van die “voleinding van die stelsel”, gebeur?—Openbaring 16:14; Mattheüs 13:39; 24:3, NW; 28:20, NW.
6. Hoe is daar aanvanklik gemeen dat Jesus se profesie oor hemelse verskynsels vervul sou word?
6 Wel, daar is gemeen dat die saamgestelde teken gedurende hierdie onderbreking gesien sou word, wat die predikingswerk deur God se ingesamelde volk sou insluit. Dit het ook gelyk of die voorspelde hemelse verskynsels gedurende hierdie onderbreking, ná die aanvangsfase in 1914-18, verwag kon word (Mattheüs 24:29; Markus 13:24, 25; Lukas 21:25). Die aandag is gevestig op letterlike dinge in die hemele—ruimteverkenningstuie, vuurpyle, kosmiese of gammastrale en maanlandings of -basisse.
7. Watter gewysigde begrip oor die groot verdrukking is voorsien?
7 Maar Die Wagtoring van 1 April 1970 het Jesus se profesie, veral die komende groot verdrukking, weer ondersoek. Met die oog op wat in die eerste eeu gebeur het, het dit getoon dat die hedendaagse verdrukking nie in 1914-18 kon begin het, dan dekades lank onderbreek kon word en later weer kon begin nie. Daardie tydskrif het tot die volgende slotsom gekom: “Die ‘groot verdrukking’ soos daar nooit weer sal wees nie, lê nog voor, want dit beteken die vernietiging van die wêreldryk van valse godsdiens (met inbegrip van die Christendom), gevolg deur die ‘oorlog van daardie groot dag van die almagtige God’ by Armageddon.”
8. Hoe is Mattheüs 24:29 in die lig van die gewysigde beskouing van die hedendaagse verdrukking verduidelik?
8 Maar Mattheüs 24:29 sê dat die hemelse verskynsels “dadelik ná die verdrukking” plaasvind. Hoe is dit moontlik? Die Wagtoring van 15 Julie 1975 het aan die hand gedoen dat “die verdrukking” hier verwys het na die een wat destyds in 70 G.J. sy hoogtepunt bereik het. In watter sin kon daar egter gesê word dat hemelse verskynsels in ons tyd “dadelik” ná ’n gebeurtenis in 70 G.J. plaasvind? Daar is geredeneer dat die eeue tussenin vir God kort sou wees (Romeine 16:20; 2 Petrus 3:8). ’n Dieper ondersoek van hierdie profesie, veral van Mattheüs 24:29-31, wys egter op ’n heeltemal ander verduideliking. Dit toon hoe ons pad “al helderder word tot die volle dag toe” (Spreuke 4:18).b Kom ons kyk nou waarom ’n nuwe, of hersiene, verduideliking gepas is.
9. Hoe voorsien die Hebreeuse Geskrifte agtergrond vir Jesus se woorde oor die verskynsels in die hemele?
9 Jesus het die profesie omtrent ‘die son wat sou verduister, die maan wat sy lig nie sou gee nie en die sterre wat sou val’ aan vier van sy apostels vertel. As Jode sou hulle besef dat sulke taal in die Hebreeuse Geskrifte voorkom, soos waar daar byvoorbeeld in Sefanja 1:15 van God se oordeelstyd gepraat word as “’n dag van woestheid [“storms”, NAV] en verwoesting, ’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag”. Verskeie Hebreeuse profete het ook ’n beskrywing gegee van die son wat verduister word, die maan wat nie skyn nie en die sterre wat nie lig gee nie. ’n Mens vind soortgelyke taal in Goddelike boodskappe teen Babilon, Edom, Egipte en die noordelike koninkryk van Israel.—Jesaja 13:9, 10; 34:4, 5; Jeremia 4:28; Esegiël 32:2, 6-8; Amos 5:20; 8:2, 9.
10, 11. (a) Wat het Joël oor die dinge in die hemele voorspel? (b) Watter aspekte van Joël se profesie is in 33 G.J. vervul, en watter is nie?
10 Toe hulle gehoor het wat Jesus sê, het Petrus en die ander drie waarskynlik Joël se profesie in Joël 2:28-31 en 3:15 onthou: “Ek [sal] my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer . . . Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom.” “Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in.”
11 Soos ons in Handelinge 2:1-4 en 14-21 sien, het God met Pinkster 33 G.J. heilige gees op 120 dissipels, manne sowel as vroue, uitgestort. Die apostel Petrus het bekend gemaak dat dít was wat Joël voorspel het. Maar wat van Joël se woorde oor ‘die son wat donker sou word en die maan wat in bloed sou verander en die sterre wat hulle glans sou intrek’? Niks dui daarop dat dit in 33 G.J. of gedurende die meer as 30 jaar lange voleinding van die Joodse stelsel van dinge vervul is nie.
12, 13. Hoe is die hemelse verskynsels wat Joël voorspel het, vervul?
12 Die laaste deel van Joël se voorspelling het klaarblyklik nouer saamgehang met die koms van “die groot en deurlugtige dag van die HERE”—die vernietiging van Jerusalem. Die Wagtoring van 1 Februarie 1967 het aangaande die verdrukking wat in 70 G.J. oor Jerusalem gekom het, gesê: “Dit was sekerlik ’n ‘dag van [Jehovah]’ met betrekking tot Jerusalem en haar kinders. En in verband met daardie dag was daar oorvloedig ‘bloed en vuur en rookpilare’, bedags het die son nie die somberheid van die stad verhelder nie, en die maan het jou laat dink aan vergote bloed, nie aan vreedsame, silwer maanlig snags nie.”c
13 Ja, soos in die geval van die ander profesieë wat ons al in oënskou geneem het, is die hemelse verskynsels wat Joël voorspel het, vervul toe Jehovah oordeel voltrek het. Die verduistering van die son, maan en sterre het plaasgevind toe die teregstellingsmagte Jerusalem binnegeval het, en nie gedurende die volle duur van die voleinding van die Joodse stelsel nie. Ons kan logieserwys ’n groter vervulling van daardie deel van Joël se profesie verwag wanneer God se teregstelling van die huidige stelsel begin.
Watter verdrukking voor die hemelse verskynsels?
14, 15. Hoe help Joël se profesie ons om Mattheüs 24:29 te verstaan?
14 Die vervulling van Joël se profesie (net soos ander profesieë wat soortgelyke taal gebruik) help ons om die woorde in Mattheüs 24:29 te verstaan. Wat Jesus gesê het oor ‘die son wat sou verduister, die maan wat sy lig nie sou gee nie en die sterre wat sou val’, verwys klaarblyklik nie na ruimtevuurpyle, maanlandings en dergelike dinge wat oor die talle dekades van die voleinding van die huidige stelsel plaasvind nie. Nee, hy het gewys op gebeure wat verband hou met “die groot en deurlugtige dag van die HERE”—die vernietiging wat nog sou kom.
15 Dit help ons om te verstaan hoe die hemelse verskynsels “dadelik ná die verdrukking” sou kom. Jesus het nie na die verdrukking verwys wat sy hoogtepunt in 70 G.J. bereik het nie. Hy het eerder gewys op die begin van die groot verdrukking wat in die toekoms as hoogtepunt van sy beloofde “teenwoordigheid” oor die wêreldstelsel sou kom (Mattheüs 24:3, NW). Daardie verdrukking lê nog voor.
16. Na watter verdrukking het Markus 13:24 verwys, en waarom sê ons so?
16 Wat van die woorde in Markus 13:24: “In daardie dae, ná daardie verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie”? (NW). Hier gee die woord “daardie” ’n vorm weer van die Griekse woord e·keiʹnos, ’n aanwysende voornaamwoord wat iets ver in die verlede of toekoms aandui. E·keiʹnos kan gebruik word om iets aan te dui wat lank reeds verby is (of wat voorheen gemeld is) of in verband met iets in die verre toekoms (Mattheüs 3:1; 7:22; 10:19; 24:38, NW; Markus 13:11, NW, 17, 32; 14:25; Lukas 10:12, NW; 2 Thessalonicense 1:10). Markus 13:24 verwys derhalwe na “daardie verdrukking”, nie na die verdrukking wat deur die Romeine veroorsaak is nie, maar na Jehovah se magtige daad aan die einde van die huidige stelsel.
17, 18. Watter lig werp Openbaring op hoe die groot verdrukking sal verloop?
17 Hoofstukke 17 tot 19 van Openbaring strook met en bevestig hierdie gewysigde siening van Mattheüs 24:29-31, Markus 13:24-27 en Lukas 21:25-28. Hoe? Die Evangelies toon dat hierdie verdrukking nie met een groot slag sal begin en eindig nie. Nadat dit begin het, sal ’n deel van die ongehoorsame mensdom nog lewe om “die teken van die Seun van die mens” te sien en daarop te reageer—daaroor te weeklaag en volgens Lukas 21:26 te “beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”. Daardie oorweldigende vrees sal te wyte wees aan die feit dat hulle “die teken” sal sien wat op hulle naderende vernietiging dui.
18 Die verslag in Openbaring toon dat die toekomstige groot verdrukking sal begin wanneer die gemilitariseerde “horings” van die internasionale “wilde dier” teen “die groot hoer”, Babilon die Grote, draai en haar verwoes (Openbaring 17:1, 10-16).d Maar baie mense sal oorbly, want konings, handelaars, stuurmanne en ander beween die einde van valse godsdiens. Baie sal ongetwyfeld besef dat hulle volgende geoordeel sal word.—Openbaring 18:9-19.
Wat lê nog voor?
19. Wat kan ons verwag wanneer die groot verdrukking begin?
19 Die Evangelieverslae in Mattheüs, Markus en Lukas, tesame met Openbaring hoofstukke 17-19, werp heelwat lig op wat binnekort gaan gebeur. Op God se vasgestelde tyd sal die groot verdrukking begin met ’n aanval op die wêreldryk van valse godsdiens (Babilon die Grote). Dit sal veral hewig wees teen die Christendom, wat met ontroue Jerusalem ooreenstem. “Dadelik ná” hierdie fase van die verdrukking sal “daar tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde [ongekende] benoudheid van nasies”.—Mattheüs 24:29; Lukas 21:25.
20. Watter hemelse verskynsels kan ons nog verwag?
20 In watter sin sal ‘die son verduister word, die maan sy lig nie gee nie, die sterre uit die hemel val en die kragte van die hemel geskud word’? In die vroeë deel van die groot verdrukking sal baie ligte—prominente geestelikes van die godsdienswêreld—ongetwyfeld reeds deur “die tien horings”, wat in Openbaring 17:16 gemeld word, blootgestel en uitgewis wees. Die politieke magte sal ongetwyfeld ook reeds geskud wees. Sal daar dalk ook skrikwekkende dinge in die fisiese hemele gebeur? Heel waarskynlik, en dit sal baie ontsagwekkender wees as dié wat volgens Josephus kort voor die einde van die Joodse stelsel plaasgevind het. Ons weet dat God in die verre verlede sy krag getoon het deur sulke skrikwekkende verskynsels te veroorsaak, en hy kan dit weer doen.—Exodus 10:21-23; Josua 10:12-14; Rigters 5:20; Lukas 23:44, 45.
21. Hoe sal ’n toekomstige “teken” vervul word?
21 Op hierdie stadium gebruik al drie Evangelieskrywers toʹte (dan) om die volgende gebeurtenis in te lei. “Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn” (Mattheüs 24:30; Markus 13:26; Lukas 21:27). Sedert die Eerste Wêreldoorlog het Jesus se ware dissipels die saamgestelde teken van sy onsigbare teenwoordigheid onderskei, terwyl die meeste mense dit nie herken het nie. Maar Mattheüs 24:30 wys op ’n verdere “teken” wat in die toekoms sal verskyn, die teken van “die Seun van die mens”, en al die nasies sal genoodsaak wees om daarvan kennis te neem. Wanneer Jesus met die wolke van onsigbaarheid kom, sal menslike teenstanders wêreldwyd genoodsaak wees om daardie ‘koms’ (Grieks, er·khoʹme·non) weens ’n bonatuurlike vertoning van sy koninklike mag te herken.—Openbaring 1:7.
22. Wat sal die uitwerking wees wanneer “die teken” van Mattheüs 24:30 gesien word?
22 Mattheüs 24:30 gebruik toʹte nog ’n keer om wat volgende gebeur in te lei. Dan sal die nasies, wat nou van die gevolge van hulle situasie bewus word, rou bedryf aangesien hulle moontlik besef dat hulle vernietiging op hande is. Hoe anders is dit tog nie in die geval van God se knegte nie, want ons sal ons hoofde kan ophef in die wete dat verlossing naby is! (Lukas 21:28). Openbaring 19:1-6 toon ook hoe ware aanbidders in die hemel en op die aarde hulle oor die vernietiging van die groot hoer verheug.
23. (a) Hoe sal Jesus ten opsigte van die uitverkorenes optree? (b) Wat kan gesê word oor wanneer die oorblyfsel hemel toe geneem sal word?
23 Jesus se profesie sê verder in Markus 13:27: “Dan [toʹte] sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.” Hier vestig Jesus die aandag op die oorblyfsel van die 144 000 “uitverkorenes” wat nog op die aarde lewe. Vroeg in die voleinding van die stelsel van dinge is hierdie gesalfde dissipels van Jesus in teokratiese eenheid verenig. Maar volgens die volgorde wat gebruik is, beskryf Markus 13:27 en Mattheüs 24:31 iets anders. “Met harde trompetgeluid” word die oorblywende “uitverkorenes” van die eindes van die aarde af versamel. Hoe word hulle versamel? Hulle sal onteenseglik “verseël” word en onmiskenbaar deur Jehovah geïdentifiseer word as deel van “die wat . . . geroepe en uitverkore en getrou” is. En op God se aangewese tyd sal hulle na die hemel toe versamel word om konings en priesters te wees.e Dit sal vreugde bring vir hulle en hulle getroue metgeselle, die “groot menigte”, wat ook gemerk sal wees as mense wat “uit die groot verdrukking kom” om seëninge op ’n paradysaarde te geniet.—Mattheüs 24:22; Openbaring 7:3, 4, 9-17; 17:14; 20:6; Esegiël 9:4, 6.
24. Watter volgorde ten opsigte van die komende verloop van gebeure word in Mattheüs 24:29-31 geopenbaar?
24 Toe die apostels gesê het: “Sê vir ons . . .”, het Jesus se antwoord meer behels as wat hulle kon verstaan. Hulle het hulle nietemin verheug om die tipiese vervulling van sy profesie nog in hulle tyd te sien. Ons ondersoek van Jesus se antwoord het die aandag gevestig op die deel van sy profesie wat in die nabye toekoms vervul gaan word (Mattheüs 24:29-31; Markus 13:24-27; Lukas 21:25-28). Ons kan reeds sien dat ons verlossing nader kom. Ons kan na die begin van die groot verdrukking uitsien, dan na die teken van die Seun van die mens en dan na God se versameling van die uitverkorenes. Laastens sal ons Stryder-Koning, die gekroonde Jesus, as Jehovah se Skerpregter by Armageddon ‘sy oorwinning voltooi’ (Openbaring 6:2, NW). Daardie dag van Jehovah, wanneer hy sy wraak uitoefen, sal kom as ’n groot slot tot die voleinding van die stelsel van dinge wat die dag van die Here Jesus sedert 1914 kenmerk.
25. Hoe kan ons ’n deel hê aan die toekomstige vervulling van Lukas 21:28?
25 Mag julle aanhou om die voordeel van Goddelike onderrigting te geniet sodat julle gehoor kan gee aan die toekomstige vervulling van Jesus se woorde: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28). Wat ’n toekoms lê daar tog vir die uitverkorenes en die groot menigte voor wanneer Jehovah voortgaan om sy groot naam te heilig!
[Voetnote]
a Dit is vir Jehovah se Getuies ’n genoeë om bewyse hiervoor te verskaf en te toon hoe die fisiese feite van ons dag Bybelprofesieë vervul.
b Bykomende materiaal het verskyn op bladsye 296-323 van God’s Kingdom of a Thousand Years Has Approached, wat in 1973 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is asook in Die Wagtoring van 1 Desember 1982, bladsye 21-6.
c Josephus skryf soos volg oor gebeure tussen die Romeine se aanvanklike aanslag op Jerusalem (66 G.J.) en sy vernietiging: “Gedurende die nag het ’n verwoestende storm losgebars; ’n orkaan het gewoed, reën het in stortvloede neergegiet, weerlig het aanhoudend geflits, die donderslae was skrikwekkend, die aarde het geskud met oorverdowende gedreun. Rampspoed vir die mensdom is ongetwyfeld deur hierdie ineenstorting van die hele raamwerk van dinge afgeskadu, en niemand kon daaraan twyfel dat die voortekens op ’n ongeëwenaarde katastrofe gedui het nie.”
d Toe Jesus van ’n “groot verdrukking” en “’n verdrukking” gepraat het, het hy dit aanvanklik toegepas op die vernietiging van die Joodse stelsel. Maar in verse wat net op ons dag van toepassing is, het hy die bepalende lidwoord “die” gebruik deur “die verdrukking” te sê (Mattheüs 24:21, 29; Markus 13:19, 24). Openbaring 7:14 het hierdie toekomstige gebeurtenis “die groot verdrukking”, letterlik “die verdrukking die grote”, genoem.
e Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Augustus 1990.
Onthou jy?
◻ Hoe is aspekte van Joël 2:28-31 en 3:15 in die eerste eeu vervul?
◻ Na watter verdrukking verwys Mattheüs 24:29, en waarom sê ons so?
◻ Na watter hemelse verskynsels verwys Mattheüs 24:29, en hoe kan dit dadelik ná die groot verdrukking kom?
◻ Hoe sal Lukas 21:26, 28 in die toekoms vervul word?
[Prent op bladsy 16, 17]
Tempelgebied
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.