Die Bybelse beskouing
Christus is teenwoordig!
“MANDELA kom! Mandela kom!” het die kinders van Soweto gesing. Nelson Mandela se vrylating uit gevangenskap op 11 Februarie 1990 sou na alle verwagtinge die begin van veranderinge in Suid-Afrika wees. Maar baie jare voordat hy vrygelaat is, kon sy teenwoordigheid gevoel word. Terwyl hy nog in die gevangenis was, was hy aktief besig met ’n “onverbiddelike kruistog om apartheid af te skaf”. Soos een internasionale nuustydskrif gesê het, het die 27 jaar van gevangenskap nie “sy teenwoordigheid—of sy strydlustigheid—laat verflou nie”. Sy vrylating uit gevangenskap lig die verskil tussen ’n koms en ’n teenwoordigheid goed toe.
Met verwysing na Jesus Christus se aanneming van sy koninklike mag maak die eerste-eeuse Bybelskrywers eweneens ’n onderskeid tussen sy koms en sy teenwoordigheid. Christus Jesus se teenwoordigheid in koninklike mag sou baie jare voordat hy ‘op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid kom’, waargeneem en herken word (Mattheüs 24:30). Christus se onsigbare teenwoordigheid (Grieks, pa·rou·siʹa) sou hierdie koms (Grieks, erʹkho·mai) om oordeel aan ’n opstandige en goddelose geslag te voltrek, voorafgaan.
Pa·rou·siʹa—Wat beteken dit?
Die Griekse woord pa·rou·siʹa beteken letterlik “om langsaan te wees” en “het die amptelike uitdrukking geword vir ’n besoek van ’n persoon wat ’n hoë posisie beklee het, veral konings en keisers wat ’n provinsie besoek het”. Die Theological Dictionary of the New Testament sê: “[Parousia] beteken veral aktiewe teenwoordigheid.” En die boek The Parousia sê die volgende oor Christus Jesus se teenwoordigheid: “Die Skrif praat nooit van ’n ‘tweede Parousia’ nie. Wat dit ook al sou wees, dit was iets vreemds, iets wat nooit tevore plaasgevind het nie en nooit weer sal plaasvind nie. Dit sou ’n teenwoordigheid wees wat anders en beter as alle ander kere sou wees wat hy hom aan mense geopenbaar het.”
Waar professor A. T. Robertson in Word Pictures in the New Testament kommentaar lewer oor Jesus se profetiese woorde in antwoord op die apostels se vrae op die Olyfberg skryf hy dat Jesus “die vernietiging van die tempel en van Jerusalem wat in daardie geslag van 70 AD plaasgevind het ook as ’n simbool van sy eie tweede koms en van die voleinding van die wêreld . . . of voleinding van die tydperk gebruik het”. Wat was hierdie vrae, en wat het Jesus geantwoord?
Die teken van Christus se teenwoordigheid
Soos opgeteken in Mattheüs 24:3 het die apostels gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms [“teenwoordigheid”, NW] en van die voleinding van die wêreld?” In sy antwoord het Jesus die dissipels ’n teken gegee wat as ’n sigbare bewys van sy onsigbare teenwoordigheid in koninklike mag sou dien. Die volledige teken het ongeëwenaarde oorloë, hongersnode op verskillende plekke, verwoestende aardbewings, pessiektes en ’n vermeerdering in misdaad en vrees ingesluit. Christus se teenwoordigheid sou ’n tyd van wêreldwye verwarring en angs wees. Menseregerings en wêreldleiers sou onsuksesvol wees in hulle pogings om die krisis van ’n stelsel wat ineenstort die hoof te bied.—Mattheüs 24:7, 12; Lukas 21:11.
’n Professor in die studie van die politiek, John Meisel, het die werklikheid van Jesus se profetiese woorde bevestig en gesê: “’n Belangrike epog kom tot ’n end en sal vervang word deur een waarvan die opset nog net vaagweg verstaan word.” Nadat professor Meisel oor die afskaffing van Kommunisme, die mislukking van sosialisme en die ontoereikendheid van kapitalisme kommentaar gelewer het, het hy gesê: “Talle mensedilemmas val buite die grense van die sosiale wetenskappe en moet op ’n ander manier opgelos word.” En wat beteken dit? “Die ideologiese fondament van die hedendaagse wêreld is besig om ineen te stort en moet vervang word.”
Christus se aktiewe teenwoordigheid
Ten spyte van die benarde toestande van ’n verslegtende wêreldtoneel het Jesus se teenwoordigheid in koninklike mag meer as 75 jaar gelede begin en is dit op ’n onmiskenbare en positiewe manier gevoel.a Ondanks die vernietiging wat deur twee wêreldoorloë veroorsaak is, het die gekroonde Koning, Christus Jesus, ’n daadwerklike aandeel daaraan gehad om die weg te baan vir ’n nuwe nasie—’n volk vir Jehovah se naam “uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Christus se aktiewe teenwoordigheid het ’n wêreldwye predikings- en onderrigtingsprogram op tou gesit wat die harte geraak het van miljoene mense wat na regverdigheid neig. Hulle is daartoe beweeg om hulle aan die kant van Jehovah se Koninkryk in die hande van Christus Jesus te skaar.—Openbaring 7:9, 10.
Met die oog op al hoe meer daaglikse bewyse dat die teken van Christus se teenwoordigheid, wat uit baie aspekte bestaan, nou vervul word, is dit vir waaksame Christene duidelik dat ons die einde van ’n epog nader. Dit is nou die tyd om ‘des te meer ag te gee’ op die gekroonde Koning, Christus Jesus (Hebreërs 2:1). Hy vermaan ons: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”—Lukas 21:36.
[Voetnoot]
a Jesus Christus se koninklike heerskappy het in 1914 begin. Sien hoofstukke 16 tot 18 van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat in 1982 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee is, vir ’n breedvoeriger verduideliking van hierdie onderwerp.