“Hierdie dinge moet plaasvind”
“Jesus het . . . vir hulle gesê: ‘. . . Hierdie dinge moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.’”—MATTEUS 24:4-6.
1. In watter onderwerp behoort ons belang te stel?
JY STEL ongetwyfeld in jou lewe en in jou toekoms belang. Dan behoort jy ook belang te stel in ’n onderwerp wat C. T. Russell se belangstelling in 1877 in beslag geneem het. Russell, wat later die Wagtoringgenootskap gestig het, het The Object and Manner of Our Lord’s Return geskryf. Hierdie boekie met 64 bladsye het oor Jesus se terugkeer, of toekomstige koms, gehandel (Johannes 14:3). Terwyl die apostels eenkeer op die Olyfberg was, het hulle oor daardie terugkeer gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid [of “koms”, AB] en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?”—Matteus 24:3.
2. Waarom is daar talle botsende beskouings oor wat Jesus voorspel het?
2 Weet jy wat Jesus se antwoord was, en verstaan jy dit? Dit word in drie van die Evangelies gevind. Professor D. A. Carson sê: “Min hoofstukke in die Bybel het al meer meningsverskille onder kommentators uitgelok as Matteus 24 en die parallelle verslae in Markus 13 en Lukas 21.” Daarna gee hy sy eie mening—net nog ’n botsende menslike beskouing. Gedurende die afgelope eeu of wat het baie van hierdie beskouings ’n gebrek aan geloof weerspieël. Diegene wat hierdie beskouings gehuldig het, het beweer dat Jesus nooit gesê het wat ons in die Evangelies lees nie, dat sy woorde later verander is of dat sy voorspelling nie bewaarheid is nie—beskouings wat deur hoër kritici gevorm is. Een kommentator het Markus se Evangelie selfs ‘in die lig van die filosofie van Mahajana-Boeddhisme’ benader!
3. Hoe benader Jehovah se Getuies Jesus se profesie?
3 In teenstelling hiermee aanvaar Jehovah se Getuies die egtheid en betroubaarheid van die Bybel, met inbegrip van wat Jesus vir die vier apostels gesê het wat drie dae voor sy dood saam met hom op die Olyfberg was. Van die tyd van C. T. Russell af het God se volk progressief ’n duideliker begrip verkry van die profesie wat Jesus daar uitgespreek het. In die laaste paar jaar het Die Wagtoring hulle begrip van hierdie profesie selfs verder opgeklaar. Het jy daardie inligting jou eie gemaak en die uitwerking daarvan op jou lewe gesien?a Kom ons hersien dit.
’n Tragiese vervulling is op hande
4. Wat was dalk die rede waarom die apostels Jesus oor die toekoms uitgevra het?
4 Die apostels het geweet dat Jesus die Messias is. Toe hulle hom dus oor sy dood, opstanding en terugkeer hoor praat het, het hulle ongetwyfeld gewonder: ‘Hoe kan Jesus die wonderlike dinge doen wat van die Messias verwag word as hy sterf en weggaan?’ Jesus het verder gepraat oor die einde van Jerusalem en sy tempel. Die apostels het moontlik gewonder: ‘Wanneer en hoe sal dit plaasvind?’ Die apostels het hierdie dinge probeer verstaan en gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken wees wanneer al hierdie dinge bestem is om tot ’n voleinding te kom?”—Markus 13:4; Matteus 16:21, 27, 28; 23:37–24:2.
5. Hoe is Jesus se woorde in die eerste eeu vervul?
5 Jesus het voorspel dat daar oorloë, hongersnode, peste, aardbewings, haat en vervolging van Christene, valse messiasse en ’n wydverspreide verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk sou wees. Dan sou die einde kom (Matteus 24:4-14; Markus 13:5-13; Lukas 21:8-19). Jesus het dit vroeg in 33 G.J. gesê. Gedurende die daaropvolgende dekades kon sy waaksame dissipels onderskei dat die voorspelde gebeure wel op ’n betekenisvolle wyse plaasvind. Ja, die geskiedenis bewys dat die teken ’n vervulling in daardie tyd gehad het, wat in 66-70 G.J. deur die toedoen van die Romeine tot die einde van die Joodse stelsel van dinge gelei het. Hoe het dit gebeur?
6. Wat het in 66 G.J. tussen die Romeine en die Jode gebeur?
6 Gedurende die warm Judese somer van 66 G.J. het Joodse Selote ’n aanval op Romeinse wagte in ’n fort naby die tempel in Jerusalem gelei, wat geweld in ander dele van die land ontketen het. Professor Heinrich Graetz sê in History of the Jews: “Cestius Gallus, wie se plig dit as goewerneur van Sirië was om die eer van die Romeinse leër te beskerm, . . . kon nie langer toekyk hoe die opstand om hom versprei sonder om dit te probeer onderdruk nie. Hy het sy legioene versamel, en die naburige prinse het hulle leërmagte vrywillig gestuur.” Hierdie leër van 30 000 het Jerusalem omsingel. Nadat hulle ’n rukkie geveg het, het die Jode tot agter mure naby die tempel teruggeval. “Die Romeine het vyf agtereenvolgende dae die mure bestorm, maar hulle is elke keer genoodsaak om weens die projektiele van die Judeërs terug te val. Dit was eers op die sesde dag dat hulle ’n deel van die noordelike muur voor die Tempel kon ondergrawe.”
7. Waarom kon Jesus se dissipels sake uit ’n ander oogpunt beskou as die meeste Jode?
7 Dink net hoe verward die Jode moes gewees het, aangesien hulle lank gemeen het dat God hulle en hulle heilige stad sou beskerm! Jesus se dissipels is egter vooraf gewaarsku dat rampspoed Jerusalem sou tref. Jesus het voorspel: “Die dae sal oor jou kom wanneer jou vyande ’n verskansing met spits pale rondom jou sal bou en jou sal omsingel en jou van alle kante in benoudheid sal bring, en hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter, en hulle sal in jou nie ’n klip op ’n klip laat nie” (Lukas 19:43, 44). Maar het dit beteken dat Christene wat in 66 G.J. in Jerusalem was, sou sterf?
8. Watter tragedie het Jesus voorspel, en wie was “die uitverkorenes” vir wie die dae verkort sou word?
8 Toe Jesus die apostels op die Olyfberg geantwoord het, het hy voorspel: “Daardie dae sal dae van ’n verdrukking wees soos daar sedert die begin van die skepping wat God geskep het tot op daardie tyd nie plaasgevind het nie en nie weer sal plaasvind nie. Trouens, as Jehovah die dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie. Maar weens die uitverkorenes wat hy uitgekies het, het hy die dae verkort” (Markus 13:19, 20; Matteus 24:21, 22). Die dae sou dus verkort word en “die uitverkorenes” sou gered word. Wie was hulle? Dit was beslis nie opstandige Jode wat beweer het dat hulle Jehovah aanbid, maar sy Seun verwerp het nie (Johannes 19:1-7; Handelinge 2:22, 23, 36). Die ware uitverkorenes was destyds daardie Jode en nie-Jode wat geloof in Jesus as die Messias en Redder beoefen het. God het hulle gekies en hulle op Pinkster 33 G.J. in ’n nuwe geestelike nasie, “die Israel van God”, gevorm.—Galasiërs 6:16; Lukas 18:7; Handelinge 10:34-45; 1 Petrus 2:9.
9, 10. Hoe is die dae van die Romeinse aanval “verkort”, en met watter gevolg?
9 Is die dae “verkort” en die gesalfde uitverkorenes in Jerusalem gered? Professor Graetz sê: “[Cestius Gallus] het dit onraadsaam geag om die stryd teen heldhaftige dwepers voort te sit en ’n uitgerekte kampanje in daardie seisoen aan te pak, wanneer die herfsreën binnekort sou begin . . . en dalk sou keer dat die leër voorraad ontvang. Hy het waarskynlik om dié rede gedink dat dit verstandiger sou wees om terug te val.” Ongeag wat Cestius Gallus se redes was, die Romeinse leër het van die stad af teruggetrek en die Jode wat hulle agternagesit het, het hulle swaar verliese toegedien.
10 Die feit dat die Romeine onverwags teruggetrek het, het dit moontlik gemaak dat “vlees”—Jesus se dissipels wat in Jerusalem in gevaar verkeer het—gered kon word. Volgens die geskiedenis het Christene uit die gebied gevlug toe hierdie geleentheid hom voorgedoen het. Wat ’n wonderlike bewys van God se vermoë om die toekoms vooruit te sien en om die behoud van sy aanbidders te verseker! Maar wat van ongelowige Jode wat in Jerusalem en Judea agtergebly het?
Tydgenote sou dit sien
11. Wat het Jesus oor “hierdie geslag” gesê?
11 Baie Jode het gemeen dat hulle stelsel van aanbidding, waarvan die tempel die middelpunt gevorm het, nog lank sou voortbestaan. Maar Jesus het gesê: “Leer dít van die vyeboom . . . : Sodra sy jong tak sag word en hy blare kry, weet julle dat die somer naby is. Net so moet julle, wanneer julle al hierdie dinge sien, ook weet dat hy naby is, voor die deur. Voorwaar, ek sê vir julle dat hierdie geslag hoegenaamd nie sal verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie. Hemel en aarde sal verbygaan, maar my woorde sal hoegenaamd nie verbygaan nie.”—Matteus 24:32-35.
12, 13. Hoe sou die dissipels Jesus se verwysing na “hierdie geslag” verstaan het?
12 In die jare voor 66 G.J. het Christene ongetwyfeld gesien hoe baie van die inleidende elemente van die saamgestelde teken vervul word—oorloë, hongersnode, selfs ’n uitgebreide verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk (Handelinge 11:28; Kolossense 1:23). Maar wanneer sou die einde kom? Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: ‘Hierdie geslag [Grieks, ge·ne·aʹ] sal nie verbygaan nie’? Jesus het dikwels die skares vyandige Jode wat in daardie tyd gelewe het, wat die godsdiensleiers ingesluit het, ‘’n goddelose, owerspelige geslag’ genoem (Matteus 11:16; 12:39, 45; 16:4; 17:17; 23:36). Toe hy dus weer van “hierdie geslag” op die Olyfberg gepraat het, het hy klaarblyklik nie na die hele Joodse ras deur die geskiedenis heen verwys nie; hy het ook nie na sy volgelinge verwys nie, selfs al was hulle “’n uitverkore ras” (1 Petrus 2:9). Jesus het ook nie bedoel dat “hierdie geslag” ’n tydperk is nie.
13 Jesus het eerder die vyandige Jode van daardie tyd in gedagte gehad wat die vervulling sou sien van die teken wat hy gegee het. Professor Joel B. Green sê in verband met die verwysing na “hierdie geslag” in Lukas 21:32: “In die Derde Evangelie het ‘hierdie geslag’ (en verwante uitdrukkings) dikwels op ’n groep mense gedui wat God se voorneme teëstaan. . . . [Dit verwys] na mense wat op hardnekkige wyse God se voorneme verwerp.”b
14. Wat het daardie “geslag” ondervind, maar hoe was dit anders vir die Christene?
14 Die goddelose geslag van Joodse teenstanders wat kon sien hoe die teken vervul word, sou ook deur die einde oorval word (Matteus 24:6, 13, 14). En hulle ís ook! In 70 G.J. het die Romeinse leër onder leiding van Titus, die seun van keiser Vespasianus, teruggekeer. Die lyding van die Jode wat weer eens in die stad vasgekeer was, was byna ongelooflik.c Teen die tyd dat die Romeine die stad vernietig het, berig Flavius Josefus, ’n ooggetuie van hierdie gebeure, het ongeveer 1 100 000 Jode gesterf en is sowat 100 000 gevange geneem, waarvan die meeste kort daarna ’n verskriklike dood sou sterf, óf van hongersnood óf in die Romeinse arenas. Die verdrukking van 66-70 G.J. was werklik die grootste verdrukking wat Jerusalem en die Joodse stelsel nog ondervind het of ooit sou ondervind. Hoe het dit tog verskil van wat met Christene gebeur het wat op Jesus se profetiese waarskuwing ag geslaan het en Jerusalem verlaat het ná die Romeinse leërs in 66 G.J. teruggetrek het! Die gesalfde Christene, die “uitverkorenes”, is in 70 G.J. “gered”, of het veilig behoue gebly.—Matteus 24:16, 22.
Nog ’n vervulling in die toekoms
15. Hoe kan ons seker wees dat Jesus se profesie ’n groter vervulling ná 70 G.J. sou hê?
15 Maar dit was nie die einde nie. Jesus het vroeër aangedui dat hy in Jehovah se naam sou kom nadat die stad vernietig is (Matteus 23:38, 39; 24:2). Hy het toe meer lig op hierdie saak gewerp in sy profesie op die Olyfberg. Nadat hy die komende “groot verdrukking” gemeld het, het hy gesê dat valse Christusse daarna sou verskyn en dat Jerusalem lank deur die nasies vertrap sou word (Matteus 24:21, 23-28; Lukas 21:24). Was dit moontlik dat daar ’n ander, groter vervulling in die toekoms sou wees? Die feite sê ja. Wanneer ons Openbaring 6:2-8 (wat geskryf is ná die verdrukking wat in 70 G.J. oor Jerusalem gekom het) met Matteus 24:6-8 en Lukas 21:10, 11 vergelyk, sien ons dat oorlogvoering, voedseltekorte en pessiektes op ’n groter skaal voorgelê het. Hierdie groter vervulling van Jesus se woorde vind plaas sedert die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het.
16-18. Wat verwag ons sal nog gebeur?
16 Jehovah se Getuies verkondig nou al dekades lank dat die huidige vervulling van die teken toon dat ’n “groot verdrukking” nog moet kom. Die huidige goddelose “geslag” sal daardie verdrukking sien. Dit lyk of daar weer ’n eerste fase (’n aanval op alle valse godsdiens) sal wees, net soos Gallus se aanval in 66 G.J. die begin was van die verdrukking oor Jerusalem.d Dan, nadat ’n onbepaalde tyd verloop het, sal die einde kom—’n wêreldwye vernietiging wat ooreen sal stem met wat in 70 G.J. gebeur het.
17 Met verwysing na die verdrukking wat op hande is, het Jesus gesê: “Onmiddellik ná die verdrukking van daardie dae [die vernietiging van valse godsdiens] sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde hulleself in weeklag slaan, en hulle sal die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom.”—Matteus 24:29, 30.
18 Jesus sê dus self dat daar “ná die verdrukking van daardie dae” hemelse verskynsels van die een of ander aard sal wees. (Vergelyk Joël 2:28-32; 3:15.) Dit sal ongehoorsame mense so verskrik en skok dat hulle ‘hulleself in weeklag sal slaan’. Baie sal “flou word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat oor die bewoonde aarde kom”. Maar dit sal nie met ware Christene die geval wees nie! Hulle sal ‘hulle hoofde ophef, want hulle verlossing kom nader’.—Lukas 21:25, 26, 28.
Oordeel lê voor!
19. Hoe kan ons bepaal wanneer die gelykenis van die skape en die bokke vervul sal word?
19 Let op dat Matteus 24:29-31 voorspel dat (1) die Seun van die mens kom, (2) hierdie koms met groot heerlikheid sal wees, (3) die engele saam met hom sal wees en (4) al die stamme van die aarde hom sal sien. Jesus herhaal hierdie aspekte in die gelykenis van die skape en die bokke (Matteus 25:31-46). Ons kan dus aflei dat hierdie gelykenis betrekking het op die tyd, ná die eerste fase van die verdrukking begin het, wanneer Jesus met sy engele sal kom en op sy troon sal sit om te oordeel. (Johannes 5:22; Handelinge 17:31; vergelyk 1 Konings 7:7; Daniël 7:10, 13, 14, 22, 26; Matteus 19:28.) Wie sal geoordeel word, en wat sal die gevolg wees? Die gelykenis toon dat Jesus alle nasies sal oordeel, asof hulle reg voor sy hemelse troon versamel is.
20, 21. (a) Wat sal met die skape van Jesus se gelykenis gebeur? (b) Wat sal in die toekoms met die bokke gebeur?
20 Skaapgeaarde mans en vroue sal na Jesus se regterkant van guns afgeskei word. Waarom? Omdat hulle die geleenthede wat hulle gehad het, gebruik het om goed te doen aan sy broers—gesalfde Christene, wat saam met Christus in sy hemelse Koninkryk sal regeer (Daniël 7:27; Hebreërs 2:9–3:1). In ooreenstemming met die gelykenis het miljoene skaapgeaarde Christene Jesus se geestelike broers erken en werk hulle saam met hulle. Gevolglik het die “groot skare” die Bybelse hoop om “die groot verdrukking” te oorleef en dan vir ewig in die Paradys, die aardse ryk van God se Koninkryk, te lewe.—Openbaring 7:9, 14; 21:3, 4; Johannes 10:16.
21 Hoe verskil dit tog van wat met die bokke sal gebeur! Matteus 24:30 sê dat hulle “hulleself in weeklag slaan” wanneer Jesus kom. En hulle sal inderdaad rede hê om dit te doen, want hulle het ’n reputasie opgebou as mense wat die goeie nuus van die Koninkryk verwerp het, Jesus se dissipels teëgestaan het en die verbygaande wêreld verkies het (Matteus 10:16-18; 1 Johannes 2:15-17). Jesus—nie enigeen van sy dissipels op die aarde nie—bepaal wie die bokke is. Oor hulle sê hy: “Hulle sal weggaan, die ewige afsnyding in.”—Matteus 25:46.
22. Watter deel van Jesus se profesie verdien ons verdere aandag?
22 Ons progressiewe begrip van die profesie in Matteus hoofstuk 24 en 25 is opwindend. Daar is egter ’n deel van Jesus se profesie wat ons verdere aandag verdien—‘die walglike ding wat verwoesting veroorsaak en in ’n heilige plek staan’. Jesus het sy volgelinge aangespoor om onderskeidingsvermoë in hierdie saak te gebruik en gereed te wees om op te tree (Matteus 24:15, 16). Wat is hierdie “walglike ding”? Wanneer staan dit in ’n heilige plek? En hoe hou ons huidige en toekomstige lewensvooruitsigte daarmee verband? Die volgende artikel sal dit bespreek.
[Voetnote]
a Sien die studieartikels in Die Wagtoring van 15 Februarie 1994; 15 Oktober en 1 November 1995 en 15 Augustus 1996.
b Die Britse geleerde G. R. Beasley-Murray sê: “Die uitdrukking ‘hierdie geslag’ behoort nie vir kommentators enige probleme op te lewer nie. Genea het weliswaar in ouer Grieks geboorte, afstammeling en gevolglik ras beteken, . . . maar dit het in die [Griekse Septuagint] meestal die Hebreeuse woord dôr weergegee, wat era, mense-era of geslag in die sin van mense wat in dieselfde tyd lewe, beteken. . . . In aanhalings wat aan Jesus toegeskryf word, het die woord blykbaar ’n tweeledige konnotasie: aan die een kant verwys dit altyd na sy tydgenote en aan die ander kant impliseer dit altyd kritiek.”
c In History of the Jews sê professor Graetz dat die Romeine soms 500 gevangenes per dag aan die paal gehang het. Ander Joodse gevangenes se hande is afgekap en dan is hulle teruggejaag in die stad in. Hoe was toestande in die stad? “Geld het sy waarde verloor, want dit kon nie brood koop nie. Manne het desperaat in die strate geveg oor die afstootlikste en walglikste kos, ’n handvol strooi, ’n stuk leer of oorskietkos wat vir die honde gegooi is. . . . Die lyke wat nie begrawe is nie, het vinnig meer geword, sodat allerhande pessiektes deur die warm somerlug oorgedra is, en die mense het slagoffers geword van siekte, hongersnood en die swaard.”
d Die volgende artikel bespreek hierdie aspek van die toekomstige verdrukking.
Onthou jy?
◻ Hoe is Matteus 24:4-14 in die eerste eeu vervul?
◻ Hoe is dae verkort en vlees gered in die apostels se tyd, soos in Matteus 24:21, 22 voorspel is?
◻ Wat het die “geslag” gekenmerk wat in Matteus 24:34 gemeld word?
◻ Hoe weet ons dat die profesie wat op die Olyfberg uitgespreek is ’n ander, groter vervulling sal hê?
◻ Wanneer en hoe sal die gelykenis van die skape en bokke vervul word?
[Prent op bladsy 12]
Detail op die Titusboog in Rome, wat toon hoe buit uit die verwoeste Jerusalem geneem word
[Erkenning]
Soprintendenza Archeologica di Roma