Groter bedrywighede gedurende Christus se teenwoordigheid
“Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.”—MATTHEÜS 25:34.
1. In watter opsig sou Christus se pa·rou·siʹa net soos “die dae van Noag” wees?
CHRISTUS se teenwoordigheid—die langverwagte gebeurtenis! Die tyd soos “die dae van Noag”, waarvan Jesus gepraat het in verband met “die voleinding van die wêreld”, het in die jaar 1914 aangebreek (Mattheüs 24:3, 37). Maar wat sou Christus se teenwoordigheid, of pa·rou·siʹa, vir die gesalfde oorblyfsel van “die getroue en verstandige slaaf” beteken? (Mattheüs 24:45, NW). Wel, dat hulle al hoe besiger moes raak as ligdraers! Wonderlike dinge sou gebeur! ’n Ongeëwenaarde versamelingswerk sou spoedig begin.
2. Watter reiniging het ter vervulling van Maleagi 3:1-5 plaasgevind?
2 Maar eers moes hierdie gesalfde Christene gereinig word. Soos Maleagi 3:1-5 voorspel het, het Jehovah God en sy “Engel van die verbond”, Jesus Christus, in die voorjaar van 1918 gekom om inspeksie te hou van die geestelike tempel. Die oordeel moes by “die huis van God” begin (1 Petrus 4:17). Maleagi 3:3 het voorspel: “Hy [Jehovah] sal sit: ’n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer.” Dit was ’n tydperk van loutering en reiniging.
3. Waarom was dit noodsaaklik dat ’n geestelike reiniging moes plaasvind?
3 Die oorblyfsel van die slaafklas wat deur hierdie oordeelstyd gegaan het, ’n oordeelstyd wat sy hoogtepunt in 1918 bereik het, is gereinig van wêreldse en godsdienstige besoedeling. Waarom het Jehovah hulle gereinig? Omdat dit om sy geestelike tempel gegaan het. Dit is die tempelagtige reëling om Jehovah te aanbid op die basis van die soenoffer van Jesus Christus. Jehovah wou sy tempel in ’n rein toestand hê sodat wanneer die groot getalle aanbidders met ’n aardse hoop ingebring word, hulle ’n plek sou vind waar sy universele soewereiniteit geëerbiedig word, waar sy Goddelike naam geheilig word en waar sy regverdige wette gehoorsaam word. Gevolglik sou hulle Jehovah waardeer en ook begin om sy wonderlike voornemens bekend te maak.
Bykomende voorregte
4, 5. (a) Hoe bied ’n vraag wat Jesus gestel het vandag ’n uitdaging aan elkeen van die slaafklas? (b) Op watter maniere moet die uitdrukkings “getroue en verstandige slaaf” en “sy diensvolk” verstaan word? (c) Watter opdrag het Jesus die slaaf gegee?
4 In 1919 kon die gereinigde slaafklas uitsien na immer toenemende bedrywighede. In 1914 het Jesus Christus, hulle Heer, ’n hemelse Koninkryk ontvang. Toe hy teruggekeer het na sy huispersoneel om inspeksie van al sy “diensvolk” te hou, was hy beklee met koninklike waardigheid, wat hy nie gehad het toe hy hier op die aarde was nie. Wat het hy gevind? Was die slaafklas besig om na die Heer se belange om te sien? Soos opgeteken in Mattheüs 24:45-47 het Jesus ’n vraag gestel wat ’n uitdaging is aan elke gesalfde dissipel om sy persoonlike toegewydheid aan Jehovah se Messias te ondersoek: “Wie is dan die getroue en verstandige [slaaf] vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie [slaaf] vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”—Vergelyk NW.
5 Dit spreek vanself dat Jesus se beskrywing van hierdie getroue slaaf nie betrekking het op enige bepaalde mens nie. Nee, maar dit beskryf Christus se getroue gesalfde gemeente in sy geheel, as ’n groep. Die diensvolk is Christus se gesalfde volgelinge as individue. Jesus het geweet hy gaan hierdie gesalfdes met sy eie bloed koop, daarom het hy gepas na hulle gesamentlik as sy slaaf verwys. Eerste Korinthiërs 7:23 sê aangaande hulle: “Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie.” Jesus het sy slaafklas die opdrag gegee om hulle lig te laat skyn om ander te trek en dissipels van hulle te maak en om sy diensvolk progressief te voed deur aan hulle hulle geestelike voedsel op die regte tyd te gee.
6. Hoe is die slaaf na aanleiding van Jesus se inspeksie beloon?
6 Sedert Christus se teenwoordigheid begin het en tot 1918 het die slaafklas, ondanks ongewildheid, vervolging en selfs ’n mate van verwarring, daarna gestreef om voedsel op tyd aan die diensvolk te gee. Dit is wat die Heer gevind het toe hy met sy inspeksie begin het. Dit het die Here Jesus behaag, en in 1919 het hy die goedgekeurde ‘getroue slaaf’-klas gelukkig verklaar. Wat was die slaaf se vreugdevolle beloning omdat hy gedoen het wat sy Heer hom aangestel het om te doen? Hy is bevorder! Ja, hy het groter verantwoordelikhede ontvang om sy Heer se belange te bevorder. Aangesien die Heer nou ’n hemelse Koning is, het sy aardse besittings inderdaad selfs nog kosbaarder geword.
7, 8. (a) Wat is ‘al die besittings’ van die Heer? (b) Wat word van die slaaf vereis om toesig oor hierdie besittings te hou?
7 Wat is dan “al sy besittings”? Dit is al die geestelike dinge op aarde wat Christus se eiendom geword het ingevolge sy gesag as hemelse Koning. Dit sluit beslis die opdrag in om dissipels van Christus te maak, asook die wonderlike voorreg om as verteenwoordigers van God se opgerigte Koninkryk in al die nasies van die wêreld te dien.
8 So ’n bevordering om toesig te hou oor al die Heer se besittings het vereis dat die slaafklas meer tyd en aandag daaraan bestee om die Koninkrykswerk gedoen te kry en, ja, om groter fasiliteite vir hierdie werk te ontwikkel. Die slaafklas het nou ’n baie groter arbeidsveld gehad—die hele bewoonde aarde.
Die skape word versamel
9. Wat was die resultaat van die uitbreiding van die slaaf se bedrywighede?
9 Christus se “getroue en verstandige slaaf”-klas het dus sy bedrywighede gehoorsaam uitgebrei. Met watter resultaat? Die laaste lede van die gesalfde 144 000 is versamel. Toe het Johannes se visioen wat in Openbaring 7:9-17 opgeteken is ’n opwindende, hartverblydende werklikheid geword. Die slaafklas het hulle veral sedert 1935 verheug om te sien op watter bestendige wyse hierdie visioen vervul word. Van oor die hele aarde stroom “’n groot menigte” van miljoene na die voorhowe van Jehovah se geestelike tempel as sy aanbidders. Jehovah se engel het Johannes meegedeel dat niemand hierdie groot menigte kon tel nie. Dit beteken daar is geen beperking op die aantal mense wat die slaafklas in Jehovah se geestelike tempel moet inbring nie. So lank as wat die geleentheid oop is, sal die werk om hulle te versamel voortgaan.
10. Met watter liefdevolle bedrywigheid is die slaaf vandag besig?
10 Die ‘getroue slaaf’-klas het ’n gewigtige verantwoordelikheid om na die steeds groeiende getalle van die “ander skape” om te sien in die wete dat hierdie skaapgeaardes uit al die nasies baie kosbaar vir die Heer, Jesus, is. Hulle is in werklikheid sy kudde (Johannes 10:16; Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:2-4). Uit liefde vir die Heer en vir die skape sien die slaafklas dus met genoeë om na die groot menigte se geestelike behoeftes.
11-13. Watter gepaste kommentaar het die Wagtoringgenootskap se voormalige president aangaande die slaaf se bedrywighede gemaak?
11 Ja, die grootste deel van die slaaf se ligdraende opdrag is om hierdie aardse onderdane van God se Koninkryk te versamel. F. W. Franz, die Wagtoringgenootskap se voormalige president, het toe hy net voor sy dood in Desember 1992 die immer toenemende bedrywighede van die getroue slaaf bespreek het, gesê:
12 “Jesus Christus het, volgens my 99 jaar van lewenservaring, die organisasie deurentyd op ’n toenemend wonderbare wyse gebruik. Dit is geen blote mens wat die organisasie rig nie, maar dit moet die Here Jesus Christus wees. Want dinge het op ’n baie groter en wonderliker wyse verloop as wat ons ooit verwag het. Vandag het ons ’n organisasie wat oor die hele wêreld heen uitgebrei het. Die organisasie is bedrywig in die Noordelike Halfrond en in die Suidelike Halfrond, in die Ooste en in die Weste. Daar is net een persoon aan wie hierdie merkwaardige uitbreiding te danke kan wees—die Seun van God, wat in beheer van die ‘getroue en verstandige slaaf’-klas is. Hy het bewys dat hy opgewasse is vir sy verantwoordelikhede, en dit verklaar hierdie wonderlike uitbreiding wat ons gesien het.
13 “Dit is nie die werk van een mens nie. Ons het ’n organisasie wat teokraties is, en die organisasie werk op ’n teokratiese manier, soos God hom rig. Geen mens, nie eers die stigter van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, kan hom die eer toe-eien of die eer ontvang vir wat op ’n wêreldomvattende skaal tot stand gebring is nie. Dit is eenvoudig wonderlik.” En stem almal wat lede van die groot menigte is nie van ganser harte saam met wat wyle broer Franz gesê het nie? Ja, hulle is inderdaad innig dankbaar vir die groter bedrywighede van die getroue slaaf.
Onderdane van die Koninkryk
14, 15. (a) Wat het Jesus in die gelykenis van die talente getoon? (Mattheüs 25:14-30). (b) Wat volg heel gepas in Mattheüs hoofstuk 25?
14 In Mattheüs hoofstuk 25 beskryf Jesus se gelykenis van die skape en die bokke hierdie groot werk om die aardse onderdane van God se Koninkryk te versamel. In die voorafgaande gelykenis, die gelykenis van die talente, het Jesus getoon dat die gesalfde dissipels wat hoop om saam met hom in sy hemelse Koninkryk te heers, moet werk om sy aardse besittings te vermeerder. Dit is dus heel gepas dat Jesus in sy volgende gelykenis uitbeeld wat van diegene verwag word wat onderdane van sy hemelse Koninkryk wil word.
15 Let op wat hy in Mattheüs 25:31-33 sê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.”
16. Hoe word die nasies versamel en die mense afgeskei?
16 Jesus het in 1914 in sy heerlikheid gekom. Hy het, met al sy engele, tot die offensief oorgegaan, sy demoonvyande aangeval en hulle uit die hemel uitgewerp. Wat vervolgens in sy gelykenis gemeld word, help ons om te besef dat Jesus se posisie waar hy op ’n heerlike troon sit ’n oordeelshouding gedurende sy teenwoordigheid simboliseer. Die versameling van al die nasies voor hom beteken dat Jesus al die nasies figuurlik gesproke as sy toekomstige kudde ontvang. Dit is ’n kudde wat uit skape en bokke bestaan. In die geval van ’n letterlike kudde kan die skape binne ’n deel van ’n dag van die bokke afgeskei word, maar die wêreldwye skeiding van mense wat wilsvryheid besit, neem baie langer. Dit is omdat die skeiding op grond van hulle individuele gedrag geskied.
17. Waarom is die situasie vandag vir alle mense ernstig?
17 In die gelykenis plaas die Herder-Koning die skaapgeaardes aan sy regterhand en die bokagtiges aan sy linkerhand. Dit blyk dat die regterkant ’n oordeel met ’n gunstige uiteinde is—die ewige lewe. Die linkerkant verteenwoordig ’n ongunstige oordeel—naamlik ewige vernietiging. Die Koning se oordeel lei tot ernstige gevolge.
18. Waarom kan niemand die Koning se onsigbaarheid as verskoning gebruik nie?
18 Niemand kan die feit dat die heersende Seun van die mens gedurende sy teenwoordigheid, of pa·rou·siʹa, onsigbaar is as verskoning gebruik nie. Al hoe meer skaapgeaardes sluit hulle vandag by die slaafklas aan om die goeie nuus van God se Koninkryk wêreldwyd te verkondig en hulle lig te laat skyn. Hulle getuienis het inderdaad die uithoeke van die aarde bereik.—Mattheüs 24:14.
19. Watter eienskappe van die skaapklas word in die gelykenis van die skape en die bokke toegelig?
19 Waarom beloon die Herder-Koning die skaapgeaarde klas met ’n geseënde toekoms? Omdat hulle hulle heelhartige ondersteuning aan die Koninkrykspredikingswerk gee en omdat hulle goedheid betoon teenoor sy gesalfde broers, wat Jesus beskou asof dit aan hom gedoen is. Daarom sê die koninklike Seun van die mens aan hulle: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.”—Mattheüs 25:34; 28:19.
Hulle help die Koning
20, 21. Watter bewys lewer die skape dat hulle hulle aan die kant van die Koninkryk skaar?
20 Let daarop dat hierdie skape hulle verbasing uitspreek wanneer die Koning hulle nooi om in die aardse ryk van God se Koninkryk in te gaan. Hulle vra hom: ‘Here, wanneer het ons al hierdie dinge aan u gedoen?’ Hy antwoord: “Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen” (Mattheüs 25:40). Toe Jesus op die dag van sy opstanding aan Maria Magdalena verskyn het, het hy van sy geestelike broers gepraat toe hy vir haar gesê het: “Gaan na my broeders” (Johannes 20:17). Gedurende die tydperk van sy onsigbare teenwoordigheid het Jesus slegs ’n klein oorblyfsel van sy 144 000 geestelike broers wat nog in die vlees op aarde is.
21 Aangesien Jesus onsigbaar in die hemel is, het die skaapgeaardes hierdie liefdevolle dinge net onregstreeks aan hom gedoen. Hulle sien hom slegs met hulle oë van die geloof op sy troon. Jesus het waardering vir alles wat hulle doen om sy geestelike broers, wat sy hemelse mede-erfgename gaan word, te help. Wat hulle aan sy broers doen, beskou hy asof dit aan hom persoonlik gedoen is. Die skaapgeaardes doen doelbewus goed aan Christus se broers omdat hulle besef dat dit sy broers is. Hulle besef dat Jesus se geestelike broers die ambassadeurs van Jehovah se Koninkryk is, en hulle wil tasbare bewys lewer dat hulle hulle saam met Jesus se broers aan die kant van daardie Koninkryk skaar.
22. Hoe word die skaapklas beloon? (Vergelyk Openbaring 7:14-17.)
22 Jehovah het vooruitgesien dat hierdie skaapgeaarde klas gedurende hierdie tydperk van sy Seun se teenwoordigheid hulle verskyning sou maak, en daar wag ’n wonderlike beloning van hom op hulle! Die groot menigte sal die seëninge van vrede hier op aarde beërf gedurende die gelukkige Duisendjarige Heerskappy van Jehovah se Koning, Jesus Christus.
23. Op watter maniere help die skape die Koning se broers doelbewus?
23 Wat sien ons as ons die Bybelprofesieë oor die tyd van Christus se teenwoordigheid, asook Jesus se gelykenis van die skape en die bokke, in oënskou neem? Dit: Iemand word nie as ’n skaap met ’n regverdige posisie voor God en sy Koning geklassifiseer bloot omdat hy onwetend en per toeval aan een van die Koning se geestelike broers goed doen nie. Diegene van die skaapklas weet wat hulle doen, al sien hulle nie die heersende Koning met hulle letterlike oë nie. Hulle probeer nie net die Koning se broers op ’n materiële wyse help nie, maar ook op ’n geestelike wyse. Hoe? Deur hulle te help met die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk en deur Bybelstudies te hou om dissipels van Christus te maak. Gevolglik is daar vandag meer as viermiljoen ligdraende verkondigers van God se Koninkryk.
Groter bedrywighede
24. Watter liefdevolle werke maak die slaafklas vandag die gelukkigste mense op aarde?
24 Kom ons som die talle goeie werke van die ‘getroue slaaf’-klas op. Eerstens is die slaafklas aangestel oor al die Heer se besittings—sy Koninkryksbelange op aarde—en hierdie besittings vermeerder voortdurend. Tweedens voed hierdie klas nie net die gesalfde diensvolk met geestelike voedsel nie, maar ook ’n immer groeiende groot menigte ander skape. Derdens neem die slaafklas die leiding in die verspreiding van die Koninkrykslig. Vierdens is die slaafklas se grootste uitbreiding van bedrywighede daarop gemik om die groot menigte ander skape te versamel en hulle na Jehovah se geestelike tempel te bring. Vyfdens voorsien die slaafklas, met die heelhartige ondersteuning van die skaapgeaardes, vergrote fasiliteite vir takorganisasies oor die aarde heen, asook by die hoofkwartier in die Verenigde State. Hierdie liefdevolle arbeid het die slaafklas vandag die gelukkigste mense op aarde gemaak, en hulle het miljoene ander mense ook gelukkig gemaak. Hulle almal dank Jehovah God en Jesus Christus wat die groter bedrywighede van die verstandige slaaf gerig het!
25. Hoe kan die skaapgeaardes voortgaan om die slaafklas te ondersteun, en met watter vooruitsig?
25 Die slaafklas werk nou harder as ooit aan sy godgegewe pligte. Die tyd wat oor is voordat die “groot verdrukking” gaan losbars, is feitlik verstreke! (Mattheüs 24:21). Hoe lewensbelangrik is dit tog dat diegene wat God se skape is aan sy Herder-Koning se regterhand van guns moet bly! Laat almal dan met ywer voortgaan om die getroue en verstandige slaaf te ondersteun. Want alleenlik as hulle dit doen, sal alle skaapgeaardes op ’n dag wat binnekort gaan aanbreek die verblydende woorde hoor: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.”
Kan jy die volgende antwoord?
◻ Watter oordeel het eerste plaasgevind ná die Koning se troonbestyging?
◻ Hoe het Mattheüs 24:45-47 ’n hedendaagse vervulling ondergaan?
◻ Waarvoor is die slaafklas en die groot menigte die dankbaarste wat hulle groter bedrywighede betref?
◻ Hoe is Mattheüs 25:34-40 gedurende die pa·rou·siʹa vervul?
[Prent op bladsy 16]
Die Heer vertrou al sy besittings aan die getroue slaaf toe
[Prent op bladsy 18]
Jesus het sy heerlike troon bestyg om nasies en mense te oordeel