Vrae van lesers
▪ Het Jesus in Johannes 6:53 net gesalfde Christene in gedagte gehad toe hy gesê het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie”?
Ons het baie jare lank die toepassing van hierdie woorde beperk tot gesalfde Christene wat na die hemel geneem sal word om saam met Jesus Christus te regeer. Maar ’n verdere studie van hierdie saak toon dat ’n breër toepassing van Johannes 6:53 in orde is.
Deur die jare heen het ons hierdie teks beskou in die lig van ander verse wat soortgelyke uitdrukkings gebruik. Die uitdrukking ‘lewe in julleself hê’ kom byvoorbeeld ooreen met Jesus se woorde in Johannes 5:26, wat uitsluitlik oor Jehovah en Jesus handel. Maar soos op bladsye 11 en 12 van hierdie tydskrif uiteengesit, bied die verband van Johannes 5:26 die grondslag vir ons begrip van die woorde “lewe het in Homself” in daardie vers. Maar Johannes 6:53 is ’n jaar later geuiter, en die verband is anders.
Nog iets wat ons vroeëre beskouing van Johannes 6:53 beïnvloed het, was Jesus se kommentaar oor ‘die eet van sy vlees en die drink van sy bloed’. Dit is soortgelyk aan wat Christus gesê het toe hy die Here se Aandmaal ingestel het. By daardie geleentheid het hy van sy vlees en bloed gepraat en beveel dat embleme hiervan (ongesuurde brood en wyn) gebruik moes word deur sy volgelinge met wie die nuwe verbond en die verbond vir ’n koninkryk gesluit is (Lukas 22:14-22, 28-30, vgl. NW). Maar ook in hierdie geval moet die verband van Johannes 6:53 in aanmerking geneom word.
Toe Jesus die woorde in Johannes 6:53 gespreek het, was dit nog ’n jaar voor die instelling van die Here se Aandmaal. Niemand wat Jesus gehoor het, het enige idee gehad van ’n jaarlikse viering met letterlike embleme wat Christus se vlees en bloed voorgestel het nie. Jesus se tema, of redenasie, in Johannes hoofstuk 6 het eerder te doen gehad met die feit dat sy vlees soos manna was. Daar was egter ’n verskil. Sy vlees (en, het hy bygevoeg, sy bloed) was beter as letterlike manna in die opsig dat sy vlees gegee is vir die lewe van die wêreld, iets wat die ewige lewe moontlik maak.—Johannes 6:48-51.
Bykomende navorsing het dit onlangs duidelik laat word dat Jesus se kommentare in Johannes 5:26 en sy woorde in Johannes hoofstuk 6 ’n jaar uitmekaar was; en daarna het nog ’n jaar verloop voor hy die Here se Aandmaal ingestel het. Groter gewig is ook verleen aan die onmiddellike verband van Johannes 6:53. Die artikel op bladsye 15-20 bied derhalwe ’n breër toepassing van Johannes 6:53. Dit sluit diegene in met wie die nuwe verbond vir hemelse lewe gesluit is sowel as diegene wat die vooruitsig op eindelose lewe op ’n paradysaarde het.
▪ Evangelieverslae en naslaanwerke is dit skynbaar oneens oor wanneer Jesus in die huis van Simon die melaatse in Betanië geëet het en met kosbare olie gesalf is. Wanneer was dit?
Dit wil voorkom of hierdie gebeurtenisse op 9 Nisan (Joodse kalender) van 33 G.J. plaasgevind het. Maar soos hieronder in die redes vir hierdie gevolgtrekking gemeld word, sal jy sien waarom volgehoue studie van God se Woord jou kennis en begrip kan verbeter.
Die besonderhede van hierdie fees word in drie van die vier Evangelies verstrek (Mattheüs 26:6-13; Markus 14:3-9; Johannes 12:2-8). Mattheüs en Markus meld daardie fees nadat dit vertel het van Jesus se triomftog in Jerusalem in, sy vervloeking van die onvrugbare vyeboom en sy antwoord op die apostels se vraag oor die voleinding van die wêreld. Sowel Mattheüs as Markus vertel daarna van Judas se onderhandelinge met die Joodse leiers om Jesus te verraai. Die plasing van die maaltyd in hierdie twee verslae wil daarop dui dat dit op 12 Nisan plaasgevind het, net twee dae voor Jesus op 14 Nisan verraai en terreggestel is. Die datum van die fees word dus as 12 Nisan aangegee op baie tabelle wat die gebeurtenisse van Jesus se lewe uiteensit, en dit geld ook vir sommige van ons vroeëre publikasies.
In Johannes hoofstuk 12 word die maaltyd by Simon se huis in ’n ander agtergrond geplaas. Johannes 12:1 sê dat Jesus “ses dae voor die pasga” in Betanië naby Jerusalem aangekom het. Dit sou 8 Nisan wees. Dan beskryf verse 2-8 ’n aandmaal in Betanië, en verse 9-11 deel ons mee dat Jode wat van Jesus se teenwoordigheid gehoor het, gekom het om hom te sien. Verse 12-15 sê dat Christus “die volgende dag” triomfantelik in Jerusalem ingery het. (Vergelyk Handelinge 20:7-11.) Johannes 12:1-15 toon dus dat die maaltyd by Simon se huis gedurende die aand van 9 Nisan plaasgevind het, wat in die Joodse kalender die begin van ’n nuwe dag sou beteken, gevolg deur Jesus se intog in Jerusalem gedurende die dagliggedeelte van daardie dag (9 Nisan).
Die tweede van hierdie twee moontlikhede dra skynbaar meer gewig. Waarom? Wel, laat ons die verslae en elkeen se verband ondersoek. Nòg Mattheüs nòg Markus verstrek enige datum vir die fees in Simon se huis. Hulle meld wel dat daar klagtes was oor Maria se gebruik van duur salf, en Johannes dui aan dat die gierige Judas die vernaamste klaer was (Mattheüs 26:8, 9; Markus 14:4, 5; Johannes 12:4-6). Soos ons gesien het, word die episode van die fees in sowel Mattheüs en Markus gevolg deur Judas se onderhandelinge met die priesters oor hoeveel hy betaal sou word om Christus te verraai. Dit is dus heeltemal moontlik dat Mattheüs en Markus die verhaal van die fees om tematiese redes so geplaas het dat een bewys van Judas se gierigheid met die finale uiting daarvan verbind word.
Johannes verstrek andersyds ’n bepaalde datum vir die fees en dui aan dat hy dit op sy chronologiese plek plaas. Dit steun die gevolgtrekking dat die aandmaal by Simon se huis gevolg het op Jesus se aankoms in Betanië op 8 Nisan 33 G.J. Onthou boonop dat Johannes melding maak van Jode wat ‘verneem het dat Jesus nou in Betanië was’ en wat van Jerusalem gekom het om hom en Lasarus, wat ook in Betanië gewoon het en wie se suster by die fees was, te sien. Dit is waarskynliker dat hierdie besoek deur Jode wat pas tevore “verneem” het dat Jesus in Betanië is vóór sy intog in Jerusalem sou plaasgevind het en dit het moontlik bygedra tot die geesdriftige ontvangs wat Christus “die volgende dag”, die dagperiode van 9 Nisan, ontvang het tydens sy intog in die stad.
Die bykomende, sorgvuldige navorsing wat tot hierdie slotsom gelei het, word weerspieël in onlangse uitgawes van die tabel “Vernaamste gebeurtenisse van Jesus se aardse lewe”, soos in die 1985-uitgawe van The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures. Ofskoon dit na ’n oënskynlik tegniese puntjie lyk, lig dit toe hoe ons almal voortdurend kan vermeerder in kennis en begrip van die fynere besonderhede in God se Woord.