Vrae van lesers
Beteken Mattheüs 28:17 dat sommige apostels nog getwyfel het lank nadat die verrese Jesus aan hulle verskyn het?
Nee, ons hoef nie tot hierdie gevolgtrekking te kom uit Mattheüs 28:16, 17 nie, wat lui: “Die elf dissipels het na Galilea gegaan, na die berg waar Jesus hulle bestel het. En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid; maar sommige het getwyfel.”
Jesus het lank voor die tyd sy dissipels probeer help om te besef “dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag [moes] opgewek word” (Mattheüs 16:21). Sy inhegtenisneming en teregstelling het nietemin sy dissipels teleurgesteld en verbysterd gelaat. Sy opstanding het blykbaar as ’n verrassing gekom. En toe hy hom in die gedaante van ’n mens aan hulle vertoon het, kon sommige “van blydskap nog nie . . . glo nie” (Lukas 24:36-41). Sy verskynings ná sy opstanding het egter sy intieme volgelinge gehelp om die werklikheid van sy opstanding te aanvaar; selfs die apostel Thomas is daarvan oortuig dat Jesus opgewek is.—Johannes 20:24-29.
Daarna het die 11 getroue apostels “na Galilea gegaan” (Mattheüs 28:16; Johannes 21:1). Terwyl hulle daar was, het Jesus “verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk” (1 Korinthiërs 15:6). Dit is teen hierdie agtergrond dat Mattheüs 28:17 sê “sommige het getwyfel”. Diegene wat nog getwyfel het, kon heel moontlik onder daardie 500 volgelinge gewees het.
Let op die interessante kommentaar wat C. T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, hieroor gelewer het:
“Ons kan nie redelikerwys aanneem dat enige van die elf apostels onder diegene was wat getwyfel het nie, want hulle was heeltemal seker, ten volle oortuig, en het dit self vantevore gesê. Diegene wat getwyfel het, moes, na ons mening, van die ‘vyfhonderd broeders’ gewees het wat by hierdie afgesproke plek byeengekom het en wat hom nog nie ná sy opstanding gesien het nie, en ons kan redelikerwys aanneem dat sommige van hulle swakker in die geloof was as die apostels en die spesiale vriende met wie hy al na sy opstanding in aanraking was. Die uitdrukking ‘sommige het getwyfel’ bewys die eerlikheid van die Evangelis se verslag. Dit toon ook vir ons dat die Here se volgelinge nie goedgelowig was nie, maar eerder die bewyse wat aan hulle voorgelê is, sou ondersoek en oorweeg, en die gevolglike ywer, energie en selfopofferende gees van diegene wat geglo het, lewer vir ons oorvloedige bewys van die opregtheid van hulle oortuiging aangaande ons Here se opstanding, wat hulle sowel as ons inderdaad as die hoeksteen van ons geloof in hom beskou. Indien Christus nie opgewek is nie, is ons geloof tevergeefs en is ons nog in ons sondes.—1 Kor. 15:17.”—Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence, 1 Mei 1901, bladsy 152.
Ons kan ook terloops daarop let dat die manier waarop Mattheüs hierdie punt aanroer vir ons bewys lewer van die betroubaarheid en eerlikheid van die Bybel. As iemand ’n verslag versin het, sou hy besonderhede probeer gee wat sy storie geloofwaardig sou laat klink; hy sou heel waarskynlik meen dat dit twyfel op sy versinsel sou werp as hy besonderhede uitlaat of oënskynlike gapings laat. Wat van Mattheüs?
Hy het nie verplig gevoel om sy opmerking “sommige het getwyfel” breedvoerig te verduidelik nie. Die verslae deur Markus, Lukas en Johannes maak geen melding hiervan nie, gevolglik kan Mattheüs se opmerking op sigself die indruk gee dat dit die 11 apostels, waarvan hy een was, ingesluit het. Maar Mattheüs het die kort kommentaar gelewer sonder om enige verduideliking te gee. Ongeveer 14 jaar later het die apostel Paulus die boek Eerste Korinthiërs geskryf. In die lig van die besonderhede wat hy in 1 Korinthiërs 15:6 verstrek het, kan ons tot die aanneemlike gevolgtrekking kom dat diegene wat getwyfel het nie die apostels was nie, maar dissipels in Galilea aan wie Jesus nog nie vantevore verskyn het nie. Mattheüs se kommentaar “sommige het getwyfel” klink dus waar; dit is waarlik die woorde van ’n eerlike skrywer wat ’n betroubare verslag gee sonder om elke fyn besonderheid te probeer verduidelik.