Ou muntstukke getuig van profetiese waarheid
DIE muntstukke wat in jou sak of beursie klingel, dra moontlik niks meer oor as die boodskap dat jy dit kan bekostig om die een of ander klein item te koop nie. Maar sekere muntstukke dra ’n veel gewigtiger boodskap.
Kort voor sy dood het Jesus voorspel dat ’n vreeslike vernietiging oor Jerusalem, die hoofstad van die ontroue nasie Israel, sou kom (Mattheüs 23:37–24:2). Jesus het gesê: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; . . . Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word.”—Lukas 21:20-22.
Die Jode was destyds onder die streng beheer van magtige Rome. Hoe kon Jesus se profesie dus bewaarheid word? Wel, die Jode het in 66 G.J. in opstand gekom. Onder leiding van Cestius Gallus het kragtige Romeinse magte teen hulle opgeruk en Jerusalem selfs omsingel, soos Jesus voorspel het. Toe het die Romeine sonder enige oënskynlike rede halsoorkop teruggetrek. Die rebelle het hulle verheug in ’n oorwinning wat op die oog af uiteindelik vryheid voorspel het. Hulle het selfs munte, soos die een wat hier gesien kan word, (Nommers 1, 2) geslaan.
Maar Christus se dissipels is nie mislei nie. Hulle het ag geslaan op sy waarskuwing om ‘na die berge te vlug’ en het hulle huise in Judea verlaat. Hulle het na en oor die Jordaanrivier en toe noord gevlug en hulle in Pella gevestig. Maar was dit nodig, aangesien ’n paar jaar verloop het en die Jode in Jerusalem vry gebly het? Hoewel daardie Jode hulle eie munte gehad het, sou hulle spoedig geen voedsel vind wat hulle daarmee kon koop nie. Waarom nie?
Kyk na die muntstuk wat by nommers 3 en 4 geïllustreer word. Jy sien die kop van Romeinse generaal Vespasianus, wat aangestel is om by Cestius Gallus oor te neem. Volgens die Encyclopædia Britannica moes Vespasianus “die oorlog in Judea aanvoer, wat algemene oproer dwarsdeur die Ooste laat dreig het weens ’n wydverspreide opvatting in daardie dele dat die toekomstige heersers van die wêreld uit Judea sou kom. Vespasianus, wat baie bygelowig was, is wysgemaak dat hy self aan hierdie verwagting moes voldoen.” Die geskiedkundige Josephus gee ’n aanskoulike vertelling oor die oorloë wat gevolg het. Nadat Vespasianus in 69 G.J. keiser geword het, het sy seun Titus die oorlog voortgesit en Jerusalem selfs omsingel. Hongersnood en vrees het diegene wat binne vasgekeer was, geteister. Toe die stad geval het, is sy mure afgebreek en sy tempel vernietig.
Watter prys moes diegene betaal wat Jesus se waarskuwing veronagsaam het? “Ondanks die feit dat hulle half-verhongerde manne was, het hulle hul vesting met verbasende hardnekkigheid verdedig, en meer as honderdduisend van hulle het in die proses omgekom. Byna net soveel is, nadat hulle verplig is om die pynlike gesig te aanskou van hulle heilige tempel wat afgebrand, geplunder en geheel en al vernietig is, in slawerny geneem, waarna talle van hulle gedwing is . . . om tydens die skouspelagtige ‘spele’ wat deur die seëvierende Titus gereël is as gedoemde gladiatore of as hulpelose prooi vir wilde diere te dien.”—Coins of Bible Days.
Hierdie boek verduidelik dat Vespasianus en Titus in 71 G.J. seëvierend deur Rome gemarsjeer het om hierdie oorwinning te vier. Maar “die talle ‘oorwinnings’-muntstukke was duursamer as enige optogte of feeste”. Een hiervan was hierdie goue muntstuk (Nommer 5) wat deur Vespasianus geslaan is om die Romeinse verowering van Judea te herdenk.
Hoewel baie Jode Jesus se profetiese stelling oor die einde van die Joodse stelsel miskien bespot het, is sy woorde bewaarheid, soos hierdie muntstukke getuig. Jesus se profesie het vandag ’n groter vervulling, wat op ’n naderende ramp vir die teenswoordige wêreldstelsel dui. Jy is dit aan jouself verskuldig om te leer wat hierdie hedendaagse boodskap is en hoe jy kan voorkom dat jy ’n slagoffer van hierdie naderende ramp word.
[Venster/Prente op bladsy 31]
1. Voorkant: Bronsprutah (of perutah) wat ná die Eerste Opstand (66-70 G.J.) geslaan is, waarop ’n amfora (erdevaas met twee ore) verskyn. Die Hebreeuse omskrif sê “Jaar twee”, wat 67 G.J. beteken, die tweede jaar van die Joodse selfregering
2. Keersy: ’n Druiweblaar, omring deur die woorde “Vryheid van Sion” of “Verlossing van Sion”
3. Voorkant: ’n Bronssestertius wat deur keiser Vespasianus geslaan is om die verowering van Judea te herdenk. Die Latynse afkortings rondom sy kop is IMP[erator] (keiser) CAES[ar] VESPASIAN[us] AVG[ustus] P[ontifex] M[aximus] (hoëpriester) TR[ibunicia] P[otestate] (houer van die tribuun se mag) P[ater] P[atriae] (vader van die vaderland) CO[n]S[ul] III (in sy derde konsulskap), wat die muntstuk tot 71 G.J. terugvoer
4. Keersy: Aan die linkerkant is die triomfantlike keiser Vespasianus (of generaal Titus), wat ’n spies en ’n dolk vashou, geharnas en met sy voet op ’n stormhoed. Aan die regterkant is ’n Jodin wat op ’n borsplaat onder ’n dadelpalm sit; sy is in die rou en ween. Die woorde IVDAEA CAPTA beteken “Gevange Judea”. Hierdie munt is gesmee met die letters S[enatus] C[onsulto], “met die toestemming van die Senaat”
5. Keersy: ’n Aureus (goue muntstuk) deur Vespasianus wat Judea in die rou afbeeld
[Erkenning]
Prente-argief (Nabye Oosterse geskiedenis)