Jesus, ’n voorbeeld om noukeurig te volg
“Hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe [noukeurig] kan navolg.”—1 PETRUS 2:21, vgl. NW.
1, 2. Watter soort dissipel was Petrus gedurende sy bediening saam met Jesus?
GEDURENDE ’n tydperk van drie en ’n half jaar het Simon, wat bekend geraak het as Cefas, of Petrus, die voorreg gehad om intieme omgang met Christus Jesus te geniet (Johannes 1:35-43). Na ongeveer ’n jaar van dissipelskap is hy as een van die 12 apostels benoem (Markus 3:13-19). Die Evangelieverhale toon dat Petrus moedig, impulsief en ekspressief was. Dit was hy wat gesê het dat hy Christus nooit sou verloën nie, wat ook al gebeur. Maar onder druk het hy hom drie keer verloën, net soos Jesus voorspel het.—Mattheüs 26:31-35; Markus 14:66-72.
2 Petrus was die apostel wat vir Jesus gesê het: “U sal my voete in der ewigheid nie was nie!” Toe Jesus hom tereggewys het, het hy tot die ander uiterste oorgehel en gesê: “Heer, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof” (Johannes 13:1-17). Dit was hierdie selfde Simon Petrus wat ten tye van Jesus se inhegtenisname moedig opgetree het deur sy swaard uit te trek en die regteroor van Malchus, die hoëpriester se dienskneg, afgekap het. Die daad het ook ’n bestraffing van Jesus uitgelok: “Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?”—Johannes 18:10, 11.
3. Wat kan ons uit Petrus se voorbeeld leer?
3 Wat toon hierdie en ander voorvalle omtrent Petrus? Dat hy heel dikwels nie soos Jesus gedink en geredeneer het nie. En dat hy nie altyd die sin van Christus gehad het nie. Dit is dikwels met ons die geval. Ons siening van sake strook nie altyd met Jesus se denkwyse nie. Ons reaksies word bederf deur ons onvolmaakte menslike natuur.—Lukas 9:46-50; Romeine 7:21-23.
4. Watter gebeure het later Petrus se denkwyse beïnvloed? (Kyk Galasiërs 2:11-14.)
4 Maar van Pinkster af het dinge vir Petrus begin verander. Besiel deur die heilige gees het hy aan die spits gestaan van die predikingswerk onder die Jode in Jerusalem (Handelinge, hoofstukke 2-5). Onder die verligting van die heilige gees het hy ook sy denke aangepas om met die sin van Christus ooreen te stem wat die nie-Jode betref (Handelinge, hoofstuk 10). Petrus het nederigheid geopenbaar, ’n eienskap wat vir ons onontbeerlik is as ons in harmoniemet Christus wil wees.—Mattheüs 18:3; 23:12.
Ongesien maar bekend
5, 6. Verhinder die feit dat ons Christus nooit gesien het nie ons om sy voorbeeld te volg?
5 Teen die tyd dat Petrus sy eerste geïnspireerde brief omstreeks 62-64 G.J. geskryf het, het hy tyd gehad om oor sy bediening saam met Jesus na te dink en om Jesus se beskouing van sake beter te verstaan. Vroeg in sy brief erken die apostel ’n eenvoudige feit—dat die meeste van die broers in Klein-Asië Jesus nooit persoonlik geken het soos hy Jesus geken het nie. Maar het dit hulle verhinder om die sin van Christus te hê en sy voorbeeld na te volg? Petrus sê: “Vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap, en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.”—1 Petrus 1:8, 9.
6 Petrus se woorde behoort ewe veel van toepassing te wees op al die lede van Jehovah se hedendaagse volk. Ons het Christus nie persoonlik geken nie, maar as ons ‘ondersoek en navors’ en ‘naspeur’ soos die profete gedoen het, kan ons in ’n groter mate die sin van Christus verkry.—1 Petrus 1:10, 11.
Jesus, die volmaakte voorbeeld
7, 8. (a) Watter algemene raad gee Petrus in sy eerste brief? (b) Wat is die basiese betekenis van hy·po·gram·mosʹ? Hoe pas Petrus dit toe?
7 Met sy duideliker begrip van Jesus se denke en onder die leiding van die heilige gees kon Petrus vir sy medegelowiges raad gee oor hoe om die sin van Christus in hulle verskillende omstandighede te weerspieël (2 Timotheüs 3:16). Hy vermaan dus alle Christene “as bywoners en vreemdelinge” om hulle van vleeslike begeertes te onthou. Al ly hulle ter wille van die geregtigheid, spoor hy hulle aan om goeie gedrag in hulle daaglikse lewens te handhaaf.—1 Petrus 2:11, 12.
8 ’n Paar reëls verder lei Petrus ’n subtiele gelykenis in deur te sê: “As julle verdra wanneer julle goed doen en ly—dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe [noukeurig] kan navolg” (1 Petrus 2:20, 21, vgl. NW). Die Griekse woord wat met “voorbeeld” vertaal word, is hi·pogram·mosʹ. Dit beteken letterlik “onderskrif”, of “skrifvoorbeeld wat al die letters van die alfabet bevat en aan beginners gegee word om hulle te help om die letters te leer teken” (A Greek-English Lexicon of the New Testament, J. H. Thayer). Daar is dus soms wasbedekte tafels aan skoolseuns gegee waarop die onderwyser letters met ’n stif in skoonskrif geskryf het. Die leerling moes die voorbeeld volg en probeer om ’n noukeurige afskrif onderaan te maak. Petrus stel hier ’n sterk punt, want hy is die enigste skrywer van die Griekse Skrifte wat die woord hi·pogram·mosʹ gebruik. Hy beklemtoon aldus die feit dat Jesus ’n volmaakte voorbeeld vir sy volgelinge nagelaat het.
9. Wat word te kenne gegee deur die Griekse woord wat met “gesindheid” vertaal word? (Vergelyk Mattheüs 20:28.)
9 Later trek Petrus vir ons ’n les uit die feit dat Christus lyding verduur het. “Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte [Grieks, enʹnoi·an; “gesindheid”, NW]” (1 Petrus 4:1). Hier gebruik hy weer eens ’n ongewone woord, enʹnoi·a, wat slegs twee maal in die Griekse Skrifte aangetref word. (Kyk Hebreërs 4:12, The Kingdom Interlinear Translation.) Volgens J. H. Thayer beteken enʹnoi·a “verstand, begrip, wil; denk- en gevoelswyse”. Ons moet ons dus aanpas by Christus se denk- en gevoelswyse. Maar hoe kan ons daardie aanpassing maak? In watter mate moet ons dit maak?
10. Wat bedoel Petrus met die uitdrukking ‘julle moet julle wapen’?
10 Petrus maak sonderlinge gebruik van die Griekse werkwoord ho·pliʹsa·sthe, wat beteken ‘om jouself as ’n soldaat te wapen’. Dit is onwaarskynlik dat enige soldaat wat homself halfhartig wapen lank in die geveg aan die lewe sal bly. Petrus se woorde laat dus geen ruimte vir halfhartige navolging van Jesus se denkwyse nie. Ons moet heelhartig begeer om Christus se “gesindheid” of “denkwyse” te hê (1 Petrus 4:1, Today’s English Version). Dit herinner ons aan hoe Paulus beklemtoon het dat ’n Christen homself met “die volle wapenrusting van God” moet wapen om staande te kan bly teen Satan en sy wêreld.—Efesiërs 6:11-18.
Christus se gesindheid vir vroue
11. Watter raad gee Petrus aan Christenvroue?
11 Halfpad deur sy brief vestig Petrus sy aandag op vrouens en mans. In daardie eertydse heidense wêreld, waar vroue bitter min regte gehad het, was dit uiters moeilik vir ’n Christin met ’n ongelowige man om haar onkreukbaarheid te handhaaf. Sy moes skeltaal, lyding en ’n moontlike egskeiding verduur omdat sy die gode van haar voorvaders verlaat het. In ons dag verskil die situasie nie veel nie. Maar Petrus beklemtoon weer eens die belangrikheid daarvan om Christus se gesindheid te hê en gewillig te wees om ter wille van die geregtigheid te ly. Hy sê: “Net so [soos Christus, wat in die voorafgaande verse gemeld is] moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.”—1 Petrus 3:1, 2.
12. (a) Hoe weerspieël ’n vrou se onderdanige, sagmoedige gees Jesus se voorbeeld? (1 Korinthiërs 11:3). (b) Hoe beskou God haar sagmoedige gees, en hoe beskou haar man dit moontlik?
12 Ja, ’n ongelowige huweliksmaat kan soms gewin word, nie noodwendig deur volgehoue preektaktiek nie, maar deur die “diepe eerbied” en ‘godvresende en voorbeeldige gedrag’ van die onderdanige vrou (1 Petrus 3:1,2, NW; NAV). Haar “sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God”, kan haar man ook help om te sien wat die gevolge is as ’n mens die sin van Christus in die daaglikse lewe het (1 Petrus 3:4). Waarom weerspieël daardie sagmoedige gees die gesindheid van Jesus? Omdat Jesus self gesê het: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele.”—Mattheüs 11:29.
Christus se gesindheid vir mans
13. Hoe moet mans hulle vrouens behandel? (Efesiërs 5:28, 29, 33).
13 Mans moet eweneens Christus se gesindheid weerspieël terwyl hulle ware liefde teenoor hulle vrouens openbaar. Petrus vermaan weer: “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys” (1 Petrus 3:7). Vir daardie eertydse heidense wêreld was hierdie raad verrassend—om aan ’n vrou eer te bewys! Maar die Christengemeente moes anders wees as die wêreld. In die Christelike huwelik moes daar waardigheid en wedersydse eerbied wees.—1 Petrus 4:3, 4.
14. Hoe kan ’n man sy vrou eer en in ag neem?
14 Christus was altyd bedagsaam teenoor sy dissipels en teenoor die skares wat hom gevolg het (Markus 6:30-44). Dit kom mooi ooreen met Petrus se raad aan mans om hulle vrouens se vroulike toestand in ag te neem. ’n Spaanse vertaling stel dit soos volg: “Aangaande mans: openbaar takt in julle lewe saam, neem die vrou in ag, want sy het ’n delikater gestel” (Nueva Biblia Española). As ’n man Christus se voorbeeld volg, sal hy die delikate, vroulike sy van sy vrou se lewe in ag neem. Dit sluit daardie moeilike dae in wanneer sy meer vriendelikheid, geduld en bedagsaamheid nodig het. ’n Liefdevolle man sal beslis selfbeheersing uitoefen en nie by sulke geleenthede veeleisend wees nie. Ware liefde is selfopofferend.—Vergelyk Levitikus 15:24; 20:18; 1 Korinthiërs 7:3-6.
15. Watter voorbeeld het Jesus ten opsigte van hoofskap gestel?
15 “Die man” is nou wel “die hoof van die vrou”. Maar wie is sy voorbeeld in die wyse waarop daardie hoofskap uitgeoefen word? Paulus helder die saak op deur by te voeg “soos Christus ook Hoof is van die gemeente” (Efesiërs 5:23). Hierdie bepalende woorde laat geen ruimte vir despotisme en kleingeestige tirannie in die Christelike huweliksverwantskap nie. In sy handelinge met die dissipels het Christus nooit sy mag (sy hoofskap) misbruik nie, maar eerder sy mag ooreenkomstig Bybelbeginsels gebruik.—Vergelyk Mattheüs 16:13-17, 20; Lukas 9:18-21.
Christus se voorbeeld vir manne
16. (a) Waarom was Petrus deeglik bewus van die behoefte aan nederigheid? (b) Veral wie moet hierdie eienskap openbaar?
16 In sy bediening het Jesus voortdurend nederigheid sterk laat uitkom. In sy gelykenis van diegene wat na ’n bruilof uitgenooi is, het hy gesê: “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word” (Lukas 14:11). Petrus was baie bewus van Jesus se gesindheid in hierdie opsig. Kon hy dan nie die voorbeeld onthou wat Jesus gestel het deur die dissipels se voete te was nie? (Johannes 13:4-17). In sy eerste brief vermaan hy die ouer manne en die jongeres gevolglik om nederigheid te openbaar. Die ouere manne ‘moet nie oor die gemeente heers nie, maar voorbeelde vir die kudde wees’. Die jonger manne moet aan die ouere manne onderdanig wees. Maar dan moet hulle almal, jonk en oud, ‘hulself met ootmoed beklee, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade’.—1 Petrus 5:1-5.
17. Hoe laat die Griekse werkwoord vir ‘beklee julself’ nederige diens sterk uitkom?
17 Petrus gebruik hier weer eens ’n woord op unieke wyse om sy punt oor nederigheid te laat inslaan. Hy sê: “Wees almal met ootmoed bekleed [Grieks, eg·kom·boʹsa·sthe].” Hierdie werkwoord kom van ’n wortel wat beteken om te knoop of vas te knoop, en die betekenis daarvan hou verband met “die wit serp of voorskoot van slawe, wat aan die gordel van die kleed vasgemaak is . . . en slawe van vrymanne onderskei het; gevolglik, . . . beklee julle met nederigheid as julle knegsgewaad . . . d.w.s. toon julle onderdanigheid aan mekaar deur julle met nederigheid te beklee”.—A Greek-English Lexicon of the New Testament, J. H. Thayer.
18. (a) Wat moet toegewyde manne in gedagte hê waar dit by hulle beweegrede kom? (b) In watter besondere opsig is talle susters ’n voorbeeld van nederigheid?
18 Hoe kan toegewyde manne vandag daardie raad toepas? Deur te besef dat enige posisie van verantwoordelikheid in die Christengemeente ’n toewysing van nederige diens is. Sommige kan verkeerdelik dink dat iemand wat ’n bedieningskneg, ’n gemeentelike ouere man, ’n kring-, streek- of Bethelopsiener is, ’n posisie van aansien en mag bereik het. In daardie geval het hulle nie die sin van Christus in die saak nie. Daar is geen plek vir selfsugtige ambisie as ons Christus se gesindheid het nie. Ons beweegrede om God en ons broers te dien, moet suiwer wees. Baie van ons Christensusters gaan ander byvoorbeeld voor in die pionierdiens en sendingwerk. Ander is ywerige verkondigers van die goeie nuus ondanks vervolging of gesinsteenstand. En hulle doen dit sonder enige aansporing om ooit bedieningsknegte of opsieners te word!
Liefde—die hoeksteen van Christus se voorbeeld
19. Wat is die hoeksteen van Christus se voorbeeld? Hoe weet ons dit?
19 Wat beklemtoon Petrus bowenal in verband met die sin van Christus? Hy skryf: “Bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek” (1 Petrus 4:8). Hoe het Jesus daardie liefde weerspieël? Hy het geleer: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Johannes 15:12, 13). Kort daarna het Jesus sy lewe ten behoewe van die mensdom afgelê. En sy liefde het beslis ’n menigte sondes bedek! As ons dus werklik dieselfde gesindheid het wat Jesus gehad het, sal ook ons “mekaar vurig liefhê” en vergewensgesind wees.—Kolossense 3:12-14; Spreuke 10:12.
20. Wat moet ons almal doen as ons Christus se voorbeeld noukeurig wil volg?
20 Christus se voorbeeld word met een woord opgesom—liefde. As ons waarlik Jesus se voorbeeld volg in alles wat ons dink, sê en doen, sal ons ook liefde bewys. Soos Petrus gesê het: “En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik. Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.”—1 Petrus 3: 8,9.
Onthou jy?
◻ Hoe moet ons die voorbeeld volg wat Christus gestel het?
◻ Hoe moet ’n Christenvrou Christus se voorbeeld volg?
◻ Hoe moet Christenmans hulle vrouens eer?
◻ Hoe het Petrus nederigheid beklemtoon?
◻ Wat is die hoeksteen van Jesus se voorbeeld?
[Prent op bladsy 18]
Die onderwyser het ’n meesterteks op die boonste reëls geskryf, en die leerling het probeer om ’n volmaakte afskrif daarvan te maak (hi·po·gram·mosʹ)