Hoofstuk 8
Streef daarna om oorwinnaars te wees
SMIRNA
1. (a) Watter gemeente ontvang vervolgens ’n boodskap van die verheerlikte Jesus? (b) Waaraan het Jesus die Christene in daardie gemeente herinner deur homself “die Eerste en die Laaste” te noem?
EERTYDSE Efese is vandag ’n puinhoop. Maar daar is nog steeds ’n bedrywige stad op die plek waarheen Jesus se tweede boodskap gestuur is. Ongeveer 56 kilometer noord van die ruïnes van Efese lê die Turkse stad Izmir, waar daar vandag vier ywerige gemeentes van Jehovah se Getuies is. Smirna was in die eerste eeu hier geleë. Let nou op Jesus se volgende woorde: “En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Hierdie dinge sê hy, ‘die Eerste en die Laaste’, wat doodgegaan en weer lewend geword het” (Openbaring 2:8). Deur hierdie woorde herinner Jesus die Christene in Smirna daaraan dat hy die eerste handhawer van onkreukbaarheid is wat regstreeks deur Jehovah tot onsterflike geeslewe opgewek is en dat hy die laaste een is wat so opgewek sou word. Jesus self sou alle ander gesalfde Christene opwek. Hy is derhalwe heeltemal bevoeg om raad te gee aan sy broers, wat die hoop het om saam met hom onsterflike hemelse lewe te geniet.
2. Waarom word alle Christene vertroos deur die woorde van die Een wat “doodgegaan en weer lewend geword het”?
2 Jesus het ’n voorbeeld gestel deur ter wille van regverdigheid vervolging te verduur, en hy het die regmatige beloning ontvang. Sy getrouheid tot die dood en sy daaropvolgende opstanding is die grondslag vir hoop vir alle Christene (Handelinge 17:31). Die feit dat Jesus “doodgegaan en weer lewend geword het”, bewys dat niks wat ter wille van die waarheid verduur moet word, tevergeefs is nie. Jesus se opstanding is ’n bron van groot aanmoediging vir alle Christene, veral wanneer hulle ter wille van hulle geloof moet ly. Bevind jy jou in hierdie situasie? Dan kan jy ook aanmoediging put uit Jesus se volgende woorde aan die gemeente in Smirna:
3. (a) Watter aanmoediging het Jesus die Christene in Smirna gegee? (b) Waarom het Jesus gesê dat die Christene in Smirna “ryk” was, al was hulle arm?
3 “Ek ken jou verdrukking en armoede—maar jy is ryk—en die lastering deur dié wat sê dat hulle Jode is, en dit tog nie is nie, maar ’n sinagoge van Satan is” (Openbaring 2:9). Jesus het geen kritiek teen sy broers in Smirna nie, net hartlike lof. Hulle het baie verdrukking gely weens hulle geloof. Hulle is materieel arm, waarskynlik vanweë hulle getrouheid (Hebreërs 10:34). Geestelike dinge is egter vir hulle van die grootste belang, en hulle het skatte in die hemel opgegaar, soos Jesus aangeraai het (Matteus 6:19, 20). Die Hoofherder beskou hulle dus as “ryk”.—Vergelyk Jakobus 2:5.
4. Van wie het die Christene in Smirna baie teenstand verduur, en hoe het Jesus hierdie teenstanders beskou?
4 Jesus meld spesifiek dat die Christene in Smirna baie teenstand van vleeslike Jode verduur het. Vroeër het baie aanhangers van hierdie godsdiens die verspreiding van die Christelike godsdiens kragtig teëgestaan (Handelinge 13:44, 45; 14:19). Nou, net ’n paar dekades ná die val van Jerusalem, toon daardie Jode in Smirna dieselfde sataniese gees. Geen wonder dat Jesus hulle as “’n sinagoge van Satan” beskou nie!a
5. Watter beproewinge het vir die Christene in Smirna voorgelê?
5 Die Christene in Smirna, wat met sulke haat te kampe het, word deur Jesus vertroos: “Moenie bang wees vir die dinge wat jy weldra gaan ly nie. Kyk! Die Duiwel sal aanhou om party van julle in die gevangenis te gooi sodat julle ten volle op die proef gestel kan word en sodat julle tien dae lank verdrukking kan hê. Wees selfs tot in die dood getrou, en ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openbaring 2:10). Hier gebruik Jesus drie keer die Griekse meervoudsvorm “julle”, wat toon dat sy woorde die gemeente as ’n geheel insluit. Jesus kan nie beloof dat die beproewinge van die Christene in Smirna binnekort sal eindig nie. Party van hulle sal nog steeds vervolg en in die gevangenis gegooi word. Hulle sal “tien dae” lank verdrukking hê. Tien is ’n getal wat aardse volledigheid of volkomenheid aandui. Selfs die handhawers van onkreukbaarheid wat geestelik ryk is, sal deeglik beproef word terwyl hulle in die vlees is.
6. (a) Waarom moes die Christene in Smirna nie bang wees nie? (b) Hoe het Jesus sy boodskap aan die gemeente in Smirna afgesluit?
6 Maar die Christene in Smirna moenie bang wees of toegee nie. As hulle tot die einde toe getrou bly, wag daar vir hulle as beloning “die kroon van die lewe”, in hulle geval onsterflike lewe in die hemel (1 Korintiërs 9:25; 2 Timoteus 4:6-8). Die apostel Paulus was van mening dat hierdie kosbare beloning dit die moeite werd gemaak het om alle ander dinge, selfs sy aardse lewe, op te offer (Filippense 3:8). Daardie getroues in Smirna het blykbaar dieselfde beskouing. Jesus sluit sy boodskap af deur te sê: “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê: Hy wat oorwin, sal hoegenaamd nie deur die tweede dood geskaad word nie” (Openbaring 2:11). Die oorwinnaars is verseker van onsterflike hemelse lewe wat nie deur die dood geraak kan word nie.—1 Korintiërs 15:53, 54.
“Tien dae lank verdrukking”
7, 8. Hoe is die Christengemeente, soos die gemeente in Smirna, in 1918 “ten volle op die proef gestel”?
7 Die Johannes-klas en hulle hedendaagse metgeselle is en word nog steeds, net soos die Christene in Smirna, “ten volle op die proef gestel”. Hulle getrouheid tydens beproewing toon dat hulle God se volk is (Markus 13:9, 10). Kort ná die begin van die dag van die Here was Jesus se woorde aan die Christene in Smirna waarlik vertroostend vir die internasionale groepie van Jehovah se volk (Openbaring 1:10). Sedert 1879 het hulle in God se Woord na geestelike rykdom gedelf, wat hulle vryelik met ander gedeel het. Maar gedurende die Eerste Wêreldoorlog het hulle die skyf van intense haat en teenstand geword, deels omdat hulle nie deur die oorlogskoors meegesleep is nie en deels omdat hulle die dwalinge van die Christendom onbevrees blootgelê het. Die vervolging wat hulle op aanstigting van party van die Christendom se leiers moes verduur, het in 1918 ’n kritieke punt bereik en kan vergelyk word met wat die Christene in Smirna van die Joodse gemeenskap daar moes verduur.
8 ’n Vlaag van vervolging in die Verenigde State van Amerika het ’n klimaks bereik toe die nuwe president van die Wagtoringgenootskap, Joseph F. Rutherford, en sewe metgeselle op 22 Junie 1918 tronk toe gestuur is, die meeste van hulle met ’n vonnis van 20 jaar. Hulle is nege maande later op borgtog vrygelaat. Op 14 Mei 1919 het die appèlhof hulle onjuiste skuldigbevindings ter syde gestel; daar is bewys dat daar 130 foute in die verhoor was. Rooms-Katolieke regter Manton, ’n ridder in die orde van St. Gregorius die Grote, wat hierdie Christene in 1918 borgtog geweier het, is later, in 1939, tot twee jaar tronkstraf en ’n boete van $10 000 gevonnis op ses aanklagte dat hy omkoopgeld gevra en aanvaar het.
9. Hoe is Jehovah se Getuies in Nazi-Duitsland deur Hitler behandel, en hoe het die geestelikes daarop gereageer?
9 Gedurende die Nazi-bewind in Duitsland het Hitler ’n algehele verbod op die predikingswerk van Jehovah se Getuies geplaas. Duisende Getuies is jare lank in konsentrasiekampe en gevangenisse opgesluit, waar hulle wreed behandel is en waar baie gesterf het, terwyl ongeveer 200 jong mans wat geweier het om in Hitler se leër te veg, tereggestel is. Die geestelikes se ondersteuning van dit alles blyk uit die woorde van ’n Katolieke priester, wat in die koerant The German Way van 29 Mei 1938 gepubliseer is. Hy het onder meer gesê: “Daar is nou een land op aarde waar die sogenaamde . . . Bybelstudente [Jehovah se Getuies] verbied is. Dit is Duitsland! . . . Toe Adolf Hitler aan die bewind gekom en die Duitse Katolieke Episkopaat hulle versoek herhaal het, het Hitler gesê: ‘Hierdie sogenaamde Opregte Bybelstudente [Jehovah se Getuies] is opstokers; . . . ek beskou hulle as kwaksalwers; ek kan dit nie duld dat die Duitse Katolieke so deur hierdie Amerikaanse regter Rutherford beswadder word nie; ek ontbind [Jehovah se Getuies] in Duitsland.’” Toe het die priester bygevoeg: “Bravo!”
10. (a) Voor watter vervolging het Jehovah se Getuies te staan gekom terwyl die dag van die Here gevorder het? (b) Wat was dikwels die gevolg wanneer Christene in die howe vir godsdiensvryheid gestry het?
10 Terwyl die dag van die Here gevorder het, het die Slang en sy saad nooit opgehou om teen die gesalfde Christene en hulle metgeselle te veg nie. Baie van hulle is opgesluit en wreed vervolg (Openbaring 12:17). Hierdie vyande het aangehou om ‘deur verordening moeilikheid te beraam’, maar Jehovah se volk hou standvastig vol: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Psalm 94:20; Handelinge 5:29). In 1955 het Die Wagtoring berig: “Oor die sewentig lande het op die een of ander tyd gedurende die afgelope veertig jaar beperkende verordeninge gemaak en Jehovah se getuies vervolg.” Waar dit moontlik was om in die howe vir godsdiensvryheid te stry, het hierdie Christene dit gedoen, en in ’n aantal lande het hulle klinkende oorwinnings behaal. In die Hooggeregshof van die Verenigde State alleen het Jehovah se Getuies 50 oorwinnings verkry.
11. Watter profesie van Jesus oor die teken van sy teenwoordigheid is gedurende die dag van die Here vervul ten opsigte van Jehovah se Getuies?
11 Geen ander groep het Jesus se bevel om aan die keiser terug te betaal wat aan die keiser behoort, so gewetensgetrou gehoorsaam nie (Lukas 20:25; Romeine 13:1, 7). Tog is geen ander groep se lidmate in soveel lande onder soveel verskillende regeringsvorme opgesluit nie, en dit gebeur vandag nog in die Amerikas, in Europa, in Afrika en in Asië. Jesus se groot profesie oor die teken van sy teenwoordigheid het hierdie woorde ingesluit: “Dan sal mense julle aan verdrukking oorlewer en julle doodmaak, en julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees” (Matteus 24:3, 9). Dít is gedurende die dag van die Here beslis vervul ten opsigte van Jehovah se Christengetuies.
12. Hoe het die Johannes-klas God se volk teen vervolging versterk?
12 Om God se volk teen vervolging te versterk, het die Johannes-klas hulle voortdurend aan die inhoud van Jesus se woorde aan die Christene in Smirna herinner. Byvoorbeeld, toe die Nazi-vervolging begin het, het The Watchtower in 1933 en 1934 artikels bevat soos “Vrees hulle nie”, ’n bespreking van Matteus 10:26-33; “Die smeltkroes”, gebaseer op Daniël 3:17, 18; en “Die bekke van leeus”, met Daniël 6:22 as die sleutelteks. In die 1980’s, die dekade waarin hierdie boek verskyn het en Jehovah se Getuies in meer as 40 lande wreed vervolg is, het Die Wagtoring God se volk versterk met artikels soos “Gelukkig ondanks vervolging!” en “Christene verduur vervolging met volharding.”b
13. Waarom is Jehovah se Christengetuies, soos die Christene in Smirna, nie bang vir vervolging nie?
13 Jehovah se Christengetuies ondergaan voorwaar in simboliese sin tien dae lank fisiese vervolging en ander beproewinge. Soos die destydse Christene in Smirna is hulle nie bang nie; en geeneen van ons hoef bang te wees namate moeilikhede hier op die aarde vererger nie. Ons is bereid om onder lyding te volhard en selfs ‘die plundering van ons besittings’ met vreugde te aanvaar (Hebreërs 10:32-34). Deur God se Woord te bestudeer en dit ons eie te maak, sal ons toegerus wees om vas in die geloof te bly. Wees verseker dat Jehovah jou in jou onkreukbaarheid kan en sal beskerm. “[Werp] al julle sorge op hom . . . , want hy sorg vir julle.”—1 Petrus 5:6-11.
[Voetnote]
a Ongeveer 60 jaar ná Johannes se dood is die 86-jarige Polikarpus in Smirna verbrand omdat hy nie sy geloof in Jesus wou verloën nie. The Martyrdom of Polycarp, ’n werk wat glo uit dieselfde tyd as hierdie gebeurtenis dateer, sê dat toe hout vir die brandstapel versamel is, “die Jode soos gewoonlik baie ywerig was om hiermee te help”—al het die teregstelling op “’n groot Sabbatdag” plaasgevind.
b Sien The Watchtower van 1 November 1933; 1 en 15 Oktober, 1 en 15 Desember 1934; Die Wagtoring van 15 Julie 1983.
[Venster/Prent op bladsy 39]
Geskiedskrywers lewer reeds baie jare lank bewys van die onkreukbaarheid van die Duitse Getuies van Jehovah gedurende die Nazi-bewind. Die boek Mothers in the Fatherland, deur geskiedskryfster Claudia Koonz, wat in 1986 uitgegee is, sê die volgende: “Die oorgrote meerderheid Duitsers wat nie ’n Nazi-agtergrond gehad het nie, het maniere gevind om onder ’n bewind te leef wat vir hulle veragtelik was. . . . Aan die ander end van die statistiese en ideologiese spektrum was die 20 000 Jehovasgetuies wat, feitlik sonder uitsondering, ondubbelsinnig geweier het om enige vorm van gehoorsaamheid aan die Nazi-staat te betoon. . . . Die mees verenigde groep opponente is deur godsdiens versterk. Van die staanspoor af het die Jehovasgetuies met geen faset van die Nazi-staat saamgewerk nie. Selfs nadat die Gestapo hulle nasionale hoofkwartier in 1933 vernietig en die sekte in 1935 verbied het, het hulle geweier om selfs net ‘Heil Hitler’ te sê. Omtrent die helfte (meestal mans) van al die Jehovasgetuies is na konsentrasiekampe gestuur, eenduisend van hulle is tereggestel en nog eenduisend het tussen 1933 en 1945 gesterf. . . . Katolieke en Protestante het gehoor hoe hulle geestelikes hulle aanspoor om met Hitler saam te werk. As hulle hulle verset het, het hulle dit téén bevele van sowel kerk as staat gedoen.”