Die tweede boek van Kronieke
18 Joʹsafat was baie ryk en het baie eer ontvang,+ maar hy het ’n huweliksverbintenis met Agab+ aangegaan. 2 ’n Paar jaar later het hy na Agab in Samariʹa gegaan.+ En Agab het vir hom en vir die manne by hom baie skape en beeste geslag.* En hy het hom aanhoudend gevra om teen Raʹmot-Giʹlead+ te gaan veg. 3 Koning Agab van Israel het vir koning Joʹsafat van Juda gevra: “Sal jy saam met my na Raʹmot-Giʹlead gaan?” Hy het geantwoord: “Ek sal saam met jou gaan. My volk is jou volk, en hulle sal jou in die oorlog ondersteun.”
4 Maar Joʹsafat het vir die koning van Israel gesê: “Vra Jehovah eers vir leiding, asseblief.”+ 5 Die koning van Israel het die profete, 400 manne, dus bymekaargeroep en vir hulle gevra: “Moet ons teen Raʹmot-Giʹlead oorlog voer of nie?” Hulle het gesê: “Gaan, want die ware God sal dit in u hand gee.”
6 Joʹsafat het toe gesê: “Is daar nie nog ’n profeet van Jehovah hier nie?+ Laat ons hom ook vra.”+ 7 Die koning van Israel het vir Joʹsafat gesê: “Daar is nog een man+ deur wie ons Jehovah se leiding kan vra, maar ek haat hom, want hy profeteer nooit goeie dinge oor my nie, maar altyd slegte dinge.+ Sy naam is Migaʹja, die seun van Jimla.” Maar Joʹsafat het gesê: “Die koning moenie so sê nie.”
8 Toe het die koning van Israel ’n hofbeampte geroep en gesê: “Gaan haal gou vir Migaʹja, die seun van Jimla.”+ 9 Die koning van Israel en Joʹsafat, die koning van Juda, het elkeen in koninklike klere op sy troon gesit. Hulle het by die dorsvloer gesit wat by die ingang van die poort van Samariʹa was, en al die profete het voor hulle geprofeteer. 10 Toe het Sedekiʹa, die seun van Kenaʹäna, ysterhorings gemaak en gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Met hierdie horings sal u die Siriërs wond* en hulle vernietig.’” 11 Al die ander profete het dieselfde geprofeteer en gesê: “Gaan na Raʹmot-Giʹlead, en u sal suksesvol wees.+ Jehovah sal dit in u hand gee.”
12 Die boodskapper wat Migaʹja gaan roep het, het toe vir hom gesê: “Die woorde van al die profete is ten gunste van die koning. Laat u woorde asseblief soos hulle woorde wees,+ en sê tog iets gunstigs.”+ 13 Maar Migaʹja het gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, wat my God ook al sê, dít sal ek sê.”+ 14 Toe het hy na die koning gegaan, en die koning het vir hom gevra: “Migaʹja, moet ons teen Raʹmot-Giʹlead oorlog voer of nie?” Hy het dadelik gesê: “Gaan, u sal suksesvol wees. Hulle sal in u hand gegee word.” 15 Die koning het toe vir hom gesê: “Hoeveel keer moet ek jou laat sweer dat jy vir my in die naam van Jehovah net die waarheid sal vertel?” 16 Hy het gesê: “Ek sien al die Israeliete verstrooi op die berge, soos skape wat nie ’n herder het nie.+ Jehovah het gesê: ‘Hulle het nie ’n leier nie. Laat elkeen in vrede na sy huis teruggaan.’”
17 Toe het die koning van Israel vir Joʹsafat gesê: “Het ek nie vir jou gesê dat hy nie goeie dinge oor my sal profeteer nie, maar net slegte dinge?”+
18 Migaʹja het gesê: “Hoor die woord van Jehovah: Ek het Jehovah op sy troon sien sit,+ en die hele leërmag van die hemel+ het aan sy regterkant en aan sy linkerkant gestaan.+ 19 Jehovah het toe gevra: ‘Wie sal koning Agab van Israel mislei, sodat hy na Raʹmot-Giʹlead sal gaan en daar sal sterf?’ En die een het dít gesê en die ander het dát gesê. 20 ’n Engel*+ het toe vorentoe gekom en voor Jehovah gaan staan en gesê: ‘Ek sal hom mislei.’ Jehovah het vir hom gevra: ‘Hoe sal jy dit doen?’ 21 Hy het geantwoord: ‘Ek sal gaan en ’n bedrieglike gees in die mond van al sy profete word.’ Toe het hy gesê: ‘Jy sal hom mislei, en jy sal suksesvol wees. Gaan doen dit.’ 22 En nou het Jehovah ’n bedrieglike gees in die mond van hierdie profete van u geplaas,+ maar in werklikheid het Jehovah rampspoed vir u voorspel.”
23 Sedekiʹa,+ die seun van Kenaʹäna, het toe na Migaʹja+ gegaan en hom op die wang geslaan+ en gesê: “Sê jy dat die gees van Jehovah van my af weggegaan het* om met jou te praat?”+ 24 Migaʹja het geantwoord: “Jy sal daarvan seker wees op die dag dat jy in die binnekamer ingaan om weg te kruip.” 25 Toe het die koning van Israel gesê: “Neem Migaʹja en gee hom oor aan Amon, die stadshoof, en Joas, die koning se seun. 26 Sê vir hulle: ‘Dít is wat die koning sê: “Sit hierdie man in die tronk+ en gee hom ’n kleiner porsie brood en water totdat ek in vrede terugkom.”’” 27 Maar Migaʹja het gesê: “As u in vrede terugkom, het Jehovah nie met my gepraat nie.”+ Hy het bygevoeg: “Laat almal wat hier is,* my woorde onthou.”
28 Daarna het die koning van Israel en Joʹsafat, die koning van Juda, na Raʹmot-Giʹlead+ gegaan. 29 Die koning van Israel het vir Joʹsafat gesê: “Wanneer ons gaan veg, sal ek my vermom, maar jy moet jou koninklike klere aantrek.” Toe het die koning van Israel hom vermom en gaan veg. 30 Die koning van Sirië het die volgende bevel aan die bevelvoerders van sy strydwaens gegee: “Val net die koning van Israel aan, niemand anders nie, dit maak nie saak of hulle belangrik of onbelangrik is nie.” 31 Toe die bevelvoerders van die strydwaens Joʹsafat sien, het hulle gedink: ‘Dit is die koning van Israel.’ Daarom het hulle op hom afgestorm om teen hom te veg. Joʹsafat het om hulp begin roep,+ en Jehovah het hom gehelp. God het hulle van hom af laat wegdraai. 32 Toe die bevelvoerders van die strydwaens sien dat dit nie die koning van Israel is nie, het hulle onmiddellik opgehou om hom te volg.
33 Maar ’n man het ’n pyl afgeskiet en die koning van Israel toevallig* raak geskiet tussen twee dele van sy pantser.* Die koning het toe vir sy strydwadrywer gesê: “Draai om en neem my uit die geveg,* want ek is ernstig gewond.”+ 34 Die geveg was baie intens en het die hele dag aangehou, en die koning van Israel moes tot die aand toe regop gehou word in die strydwa met sy gesig na die Siriërs. En hy het teen sononder gesterf.+