KLAAGLIEDERE
א [Alef]*
1 Dit is verskriklik! Die stad wat vol mense was,+ sit nou heeltemal alleen.
Sy het soos ’n weduwee geword, sy wat ’n groot volk onder die nasies was!+
Sy wat ’n prinses onder die provinsies was, het nou ’n slavin geword!+
ב [Bet]
2 In die nag huil sy bitterlik,+ en die trane stroom oor haar wange.
Nie een van dié wat haar liefgehad het, is daar om haar te troos nie.+
Al haar vriende het haar verraai.+ Hulle het haar vyande geword.
ג [Gimel]
3 Juda het in ballingskap gegaan.+ Sy kry swaar en is ’n slavin.+
Sy moet onder die nasies woon.+ Sy vind geen rusplek nie.
Al haar vervolgers het haar tydens haar rampspoed ingehaal.
ד [Dalet]
4 Die paaie na Sion treur, want niemand kom na die fees toe nie.+
Al haar poorte is verwoes.+ Haar priesters sug.
Haar jong vroue* treur, en sy kry bitter swaar.
ה [He]
5 Haar teenstanders is nou haar meester. Haar vyande het geen bekommernisse nie.+
Want Jehovah het droefheid oor haar gebring weens al haar oortredings.+
Haar kinders is deur die vyand gevange geneem.+
ו [Waw]
6 Die dogter van Sion het al haar prag verloor.+
Haar leiers is soos takbokke wat geen weiding gevind het nie
en wat uitgeput voor die agtervolger loop.
ז [Zajin]
7 Terwyl Jerusalem swaarkry en nie meer ’n woonplek het nie, dink sy terug
aan al die kosbare dinge wat sy lank gelede gehad het.+
Toe haar volk deur die vyand verslaan is* en sy geen helper gehad het nie,+
het haar vyande haar gesien en oor haar ondergang gelag.+
ח [Get]
8 Jerusalem het ernstige sondes gepleeg.+
Daarom het sy iets walgliks geword.
Almal wat haar geëer het, behandel haar nou as iets walgliks, want hulle het haar naaktheid gesien.+
Sy sug+ en draai in skaamte weg.
ט [Tet]
9 Haar onreinheid sit aan haar klere vas.
Sy het glad nie aan haar toekoms gedink nie.+
Haar ondergang was skokkend, en sy het niemand om haar te vertroos nie.
O Jehovah, kyk hoe sleg gaan dit met my, want die vyand hou hom groot.+
י [Jod]
10 Die vyand het al haar skatte gevat.+
Want sy het nasies in haar heiligdom sien inkom,+
dié wat u verbied het om in u gemeente te kom.
כ [Kaf]
11 Haar hele volk sug, en hulle soek kos.+
Hulle het hulle kosbare dinge gegee vir iets om te eet, net om aan die lewe te bly.
Kyk, o Jehovah, en sien tog dat ek soos ’n nikswerd vrou* geword het.
ל [Lamed]
12 Gee julle nie om nie, julle wat met die pad verbygaan?
Kyk en sien!
Is daar enige pyn soos die pyn wat oor my gebring is,
wat Jehovah my laat ondervind het in die dag van sy brandende woede?+
מ [Mem]
13 Hy het vuur uit die hemel gestuur om elke been in my te verteer.+
Hy het ’n vangnet vir my voete uitgesprei. Hy het my gedwing om terug te draai.
Hy het my ’n verlate vrou gemaak.
Ek is die hele dag lank siek.
נ [Noen]
14 My oortredings is soos ’n juk vasgebind. Sy hand het hulle vasgemaak.
Hulle is op my nek gesit, en daarom het my krag ingegee.
Jehovah het my oorgelewer aan* dié teen wie ek my nie kan verdedig nie.+
ס [Samek]
15 Jehovah het al my magtige manne van my af weggeneem.+
Hy het ’n skare teen my laat kom om my jong manne te verpletter.+
Jehovah het die maagdelike dogter van Juda in die wynpers getrap.+
ע [Ajin]
Want daar is niemand naby my wat my kan vertroos of versterk nie.
My kinders is verlate, want die vyand het oorwin.
פ [Pe]
17 Sion het haar hande uitgestrek,+ en sy het niemand om haar te vertroos nie.
Jehovah het al Jakob se vyande teen hom opgeroep.+
Jerusalem het vir hulle iets walgliks geword.+
צ [Tsade]
18 Jehovah is regverdig.+ Ek het teen sy bevele in opstand gekom.+
Luister nou, alle volke, en sien my pyn.
My jong vroue* en my jong manne het in gevangenskap gegaan.+
ק [Kof]
19 Ek het geroep na dié wat my liefgehad het, maar hulle het my verraai.+
In die stad het my priesters en my ouermanne gesterf
terwyl hulle kos gesoek het om aan die lewe te bly.+
ר [Resj]
20 O Jehovah, kyk tog, want ek kry baie swaar.
My maag* draai.
My hart is angstig, want ek was baie opstandig.+
Buite sterf my kinders weens die swaard,+ en binne die huise is dit soos die dood.
ש [Sjin]
21 Mense het gehoor hoe ek sug. Daar is niemand om my te vertroos nie.
Al my vyande het van my rampspoed gehoor.
Hulle is bly omdat u dit oor my gebring het.+
Maar u sal die dag laat kom wat u voorspel het,+ wanneer hulle net soos ek sal word.+
ת [Taw]
Want ek bly sug, en my hart is siek.
א [Alef]
2 Kyk hoe Jehovah die dogter van Sion in sy woede met ’n donker wolk bedek het!
Hy het die prag van Israel uit die hemel na die aarde toe neergegooi.+
Hy het nie aan sy voetbank+ gedink op die dag van sy woede nie.
ב [Bet]
2 Jehovah het al die woonplekke van Jakob verwoes sonder om genade te betoon.
In sy woede het hy die vestings van die dogter van Juda afgebreek.+
Hy het die koninkryk+ en haar leiers+ tot in die stof verneder en ontheilig.
ג [Gimel]
3 In sy groot woede het hy al Israel se krag weggeneem.
Hy het Israel nie gehelp toe die vyand aangeval het nie.+
En in Jakob het hy bly brand soos ’n vuur wat alles om hom verteer.+
ד [Dalet]
4 Soos ’n vyand het hy sy boog gespan. Sy regterhand is gereed om aan te val.+
Hy het almal doodgemaak wat dierbaar was.+
In die tent van die dogter van Sion+ het hy sy woede soos ’n vuur+ uitgestort.
ה [He]
5 Jehovah het soos ’n vyand geword.+
Hy het Israel verwoes.
Hy het al haar torings verwoes.
Hy het al die vestings vernietig.
En hy laat die dogter van Juda rou en treur.
ו [Waw]
6 Hy het sy hut afgebreek,+ soos ’n hut in ’n tuin.
Hy het sy feeste laat ophou.+
Jehovah het Sion haar feeste en sabbatte laat vergeet.
En in sy groot woede het hy koning en priester verwerp.+
ז [Zajin]
7 Jehovah het sy altaar verstoot.
Hy het sy heiligdom verwerp.+
Hy het die mure van haar versterkte torings in die hand van die vyand gegee.+
In die huis van Jehovah roep hulle hard uit,+ soos op ’n feesdag.
ח [Get]
8 Jehovah het besluit om die muur van die dogter van Sion te verwoes.+
Hy het dit met die maatlyn gemeet.+
Hy het nie die vernietiging teruggehou nie.
Hy laat die beleëringswal en muur treur.
Saam het hulle swak geword.
ט [Tet]
9 Haar poorte het in die grond ingesink.+
Hy het haar grendels vernietig en gebreek.
Haar koning en haar leiers het onder die nasies beland.+
Daar is geen wet* nie, en selfs haar profete ontvang geen visioen van Jehovah nie.+
י [Jod]
10 Die ouermanne van die dogter van Sion sit in stilte op die grond.+
Hulle gooi stof op hulle koppe en dra saklinne.+
Die maagde van Jerusalem het hulle koppe laat sak.
כ [Kaf]
My maag* draai.
My hart is gebreek* weens die ondergang van die dogter van* my volk,+
weens die sterwende kinders en babas op die openbare pleine van die stad.+
ל [Lamed]
12 Hulle soek by hulle ma’s iets om te eet of te drink,+
terwyl hulle soos iemand wat gewond is, op die openbare pleine van die stad verswak.
Hulle sterf in hulle ma’s se arms.
מ [Mem]
13 Wat kan ek as ’n voorbeeld gebruik,
of wie ly soos jy, o dogter van Jerusalem?
Waarmee kan ek jou vergelyk, sodat ek jou kan vertroos, o maagdelike dogter van Sion?
Want jou wonde is so groot soos die see.+ Wie kan jou genees?+
נ [Noen]
14 Jou profete het visioene gesien wat vals en misleidend was.+
En hulle het nie jou oortreding bekend gemaak om te verhoed dat jy in gevangenskap gaan nie,+
maar hulle het aangehou om jou van valse en misleidende visioene te vertel.+
ס [Samek]
15 Almal wat met die pad verbygaan, klap hulle hande spottend oor jou.+
Hulle fluit verbaas+ en skud hulle koppe oor die dogter van Jerusalem en sê:
“Is dít die stad waarvan hulle gesê het: ‘Dit is absoluut pragtig, die vreugde van die hele aarde’?”+
פ [Pe]
16 Oor jou het al jou vyande hulle monde oopgemaak.
Hulle fluit en kners op hulle tande en sê: “Ons het haar verwoes.+
Ons het gewag vir hierdie dag!+ Dit het gekom, en ons het dit gesien!”+
ע [Ajin]
17 Jehovah het gedoen wat hy in gedagte gehad het.+ Hy het gedoen wat hy gesê het,+
wat hy lank gelede beveel het.+
Hy het afgebreek sonder om genade te betoon.+
Hy het jou vyand bly gemaak oor jou. Hy het jou vyande sterk laat word.
צ [Tsade]
18 Hulle hart roep uit na Jehovah, o muur van die dogter van Sion.
Laat trane dag en nag soos ’n stroom vloei.
Moenie vir ’n oomblik rus nie, moenie ophou huil nie.
ק [Kof]
19 Staan op! Roep die hele nag lank uit.*
Stort jou hart soos water voor Jehovah uit.
Steek jou hande na hom toe uit ter wille van die lewens van jou kinders,
wat weens hongersnood sterwend is op elke straathoek.+
ר [Resj]
20 O Jehovah, kyk tog, en sien die een teen wie u so streng opgetree het.
Moet vrouens hulle eie nakomelinge, hulle eie gesonde kinders, bly eet?+
Of moet priesters en profete in die heiligdom van Jehovah doodgemaak word?+
ש [Sjin]
21 Seuns en ou manne lê dood in die strate.+
My jong vroue* en my jong manne is deur die swaard doodgemaak.+
U het doodgemaak op die dag van u woede. U het doodgemaak sonder om genade te betoon.+
ת [Taw]
22 U laat van alle kante gevaar kom, asof dit ’n feesdag is.+
Op die dag van Jehovah se woede het niemand ontsnap of oorleef nie.+
My vyand het dié doodgemaak aan wie ek geboorte gegee het en wat ek grootgemaak het.+
א [Alef]
3 Ek is die man wat die rampspoed gesien het wat weens God se woede gekom het.
2 Hy het my uitgedryf, en ek is in die duisternis en nie in die lig nie.+
3 Ja, die hele dag lank hou hy aan om my te slaan.+
ב [Bet]
4 Hy het my liggaam en my vel laat wegteer.
Hy het al my bene gebreek.
5 Hy het my beleër. Hy het my met bitter gif+ en probleme omring.
6 Hy het my gedwing om in donker plekke te sit, soos mense wat lankal dood is.
ג [Gimel]
7 Hy het ’n muur om my gebou, sodat ek nie kan ontsnap nie.
Hy het my met swaar koperkettings vasgebind.+
8 En wanneer ek om hulp smeek, ignoreer* hy my gebed.+
9 Hy het my paaie met gekapte klippe toegepak.
Hy het my paaie krom gemaak.+
ד [Dalet]
10 Hy is soos ’n beer wat lê en wag om my aan te val, soos ’n leeu wat my inwag.+
11 Hy het my van die pad af gestoot en my uitmekaargeskeur.*
Hy het my verlate gemaak.+
12 Hy het sy boog gespan, en hy maak my die teiken vir sy pyl.
ה [He]
13 Hy het my niere met die pyle van sy pylkoker deurboor.
14 Al die volke lag my uit. Die hele dag lank sing hulle oor my.
15 Hy het my met bitter dinge gevul en my als* laat drink.+
ו [Waw]
16 Hy laat my tande breek weens die klippies wat ek kou.
Hy druk my neer in die as.+
17 U neem my vrede weg. Ek het vergeet wat goed is.
18 Daarom sê ek: “My prag het vergaan, net soos my hoop op Jehovah.”
ז [Zajin]
19 Dink daaraan dat ek swaarkry en nêrens het om te woon nie,+ dink aan die als* en bitter gif.+
20 U sal beslis aan my dink en neerbuig om my te help.+
21 Ek sal hieraan bly dink. Daarom sal ek geduldig wag.+
ח [Get]
22 Danksy Jehovah se lojale liefde het ons nie aan ons einde gekom nie,+
want daar is geen einde aan sy genade nie.+
23 Dit is elke oggend nuut.+ U getrouheid is oorvloedig.+
24 “Jehovah is my deel,”+ het ek gesê, “daarom sal ek geduldig op hom wag.”+
ט [Tet]
25 Jehovah is goed vir die een wat op hom hoop,+ vir die persoon wat hom bly soek.+
26 Dit is goed om in stilte* te wag+ op die redding van Jehovah.+
27 Dit is goed vir ’n man om die juk in sy jeug te dra.+
י [Jod]
28 Laat hy alleen sit en stilbly wanneer Hy dit op hom sit.+
29 Laat hy neerbuig en sy gesig in die stof druk.+ Miskien is daar hoop.+
30 Laat hy sy wang gee vir die een wat hom slaan. Laat hy baie beledigings verduur.
כ [Kaf]
31 Want Jehovah sal ons nie vir ewig verstoot nie.+
32 Hoewel hy droefheid veroorsaak het, sal hy ook genade betoon, want sy lojale liefde is oorvloedig.+
33 Want hy wil nie swaarkry of verdriet vir die mens veroorsaak nie.*+
ל [Lamed]
34 Om al die gevangenes van die aarde+ onder die voete te vertrap,
35 om te keer dat ’n man geregtigheid voor die Allerhoogste kry,+
36 om ’n mens in sy regsaak te benadeel
– sulke dinge word glad nie deur Jehovah goedgekeur nie.
מ [Mem]
37 Wie kan iets sê en dit laat gebeur as Jehovah dit nie beveel het nie?
38 Uit die mond van die Allerhoogste
kom daar nie goeie sowel as slegte dinge nie.
39 Hoekom moet ’n mens kla oor die gevolge van sy sonde?+
נ [Noen]
40 Laat ons ons lewenswyse ondersoek en bestudeer,+ en laat ons na Jehovah terugkeer.+
41 Laat ons met ’n opregte hart ons hande na God in die hemel uitsteek en sê:+
42 “Ons het gesondig en was opstandig,+ en u het ons nie vergewe nie.+
ס [Samek]
43 Weens u woede luister u nie na ons gebede nie.*+
U het ons agtervolg en doodgemaak sonder om genade te betoon.+
44 U het toegang tot u met ’n wolk versper, sodat ons gebede u nie kan bereik nie.+
45 U maak ons die skuim* en die vullis onder die volke.”
פ [Pe]
46 Al ons vyande maak hulle mond teen ons oop.+
47 Ons is heeltyd angstig en vasgekeer,+ en ons is verlate en verwoes.+
48 Die trane stroom uit my oë weens die verwoesting van die dogter van my volk.+
ע [Ajin]
49 Ek huil heeltyd, sonder ophou,+
50 totdat Jehovah uit die hemel afkyk en dit sien.+
51 Ek voel hartseer wanneer ek sien wat met die dogters van my stad gebeur het.+
צ [Tsade]
52 My vyande het my sonder rede gejag, soos ’n voël gejag word.
53 Hulle het my probeer doodmaak. Hulle het my met klippe bly gooi.
54 Waters het oor my kop gevloei, en ek het gesê: “Dit is verby met my!”
ק [Kof]
55 Uit die dieptes het ek u naam uitgeroep, o Jehovah.+
56 Luister na my stem. Moenie u ore sluit wanneer ek u vra om my te help en verligting te gee nie.
57 U het nader gekom op die dag dat ek u aangeroep het. U het gesê: “Moenie bang wees nie.”
ר [Resj]
58 U het my saak verdedig, o Jehovah. U het my lewe losgekoop.+
59 O Jehovah, u het gesien dat ek onregverdig behandel is. Help my asseblief om geregtigheid te kry.+
60 U het al hulle wraak gesien, al hulle planne teen my.
ש [Sin of Sjin]
61 O Jehovah, u het gehoor hoe hulle my uittart en teen my planne beraam,+
62 hoe hulle teen my praat en heeldag lank oor my fluister.
63 Kyk na hulle – of hulle nou sit of staan, hulle spot met my in hulle liedjies!
ת [Taw]
64 U sal hulle laat boet, o Jehovah, vir wat hulle gedoen het.
65 U sal hulle harte verhard. Dit is u vloek oor hulle.
66 U sal hulle in u woede agtervolg en hulle onder u hemele uitroei, o Jehovah.
א [Alef]
4 Die goud wat so geblink het, die suiwer goud,+ het dof geword!
Die heilige stene+ lê verstrooi op elke straathoek!+
ב [Bet]
2 Die kosbare kinders van Sion, wat so waardevol soos suiwer goud was,
word nou as kleipotte beskou,
die handewerk van ’n pottebakker!
ג [Gimel]
3 Selfs jakkalse laat hulle kleintjies aan hulle drink.
Maar die dogter van my volk het wreed geword,+ soos volstruise in die wildernis.+
ד [Dalet]
4 Babas se tonge sit aan hulle verhemeltes vas weens die dors.
Kinders soebat vir brood,+ maar niemand gee vir hulle iets nie.+
ה [He]
5 Dié wat altyd lekkernye geëet het, lê uitgehonger* in die strate.+
Dié wat van kleins af duur* klere gedra het,+ omhels ashope.
ו [Waw]
6 Die straf* van die dogter van my volk is groter as die straf vir die sonde van Sodom,+
wat in ’n oomblik verwoes is, sonder dat iemand haar gehelp het.+
ז [Zajin]
7 Haar Nasireʹërs+ was reiner as sneeu, witter as melk.
Hulle wange* was rooier as korale. Hulle was soos blink saffiere.
ח [Get]
8 Hulle het swarter as roet geword.
Niemand herken hulle op straat nie.
Hulle is net vel en been.+ Hulle vel het soos droë hout geword.
ט [Tet]
9 Dié wat weens die swaard gesterf het, is beter af as dié wat weens die hongersnood gesterf het.+
Hulle het weggeteer asof ’n gebrek aan kos hulle deurboor het.
י [Jod]
10 Vrouens wat voorheen liefdevol was, het hulle eie kinders gekook.+
Hulle het hulle kos* geword tydens die ineenstorting van die dogter van my volk.+
כ [Kaf]
11 Jehovah het aan sy woede uiting gegee.
Hy het sy brandende woede uitgestort.+
En hy steek ’n vuur in Sion aan, wat haar fondamente verteer.+
ל [Lamed]
12 Die konings van die aarde en al die bewoners van die vrugbare land het nie geglo
dat die teenstander en die vyand by Jerusalem se poorte sou inkom nie.+
מ [Mem]
13 Dit het gebeur weens die sondes van haar profete, die oortredings van haar priesters,+
wat regverdiges in haar doodgemaak het.+
נ [Noen]
14 Hulle het soos blindes+ in die strate rondgedwaal.
Hulle is met bloed besoedel,+
en niemand kan aan hulle klere raak nie.
ס [Samek]
15 “Gee pad! Julle is onrein!” is daar vir hulle geskree. “Gee pad! Gee pad! Moenie aan ons raak nie!”
Want hulle het geen blyplek nie en dwaal rond.
Mense van die nasies het gesê: “Hulle kan nie hier by ons bly nie.*+
פ [Pe]
16 Jehovah het hulle verstrooi.+
Hulle het nie meer sy goedkeuring nie.
Mense sal geen respek hê vir die priesters+ en geen eer gee aan die ouermanne nie.”+
ע [Ajin]
17 Ons oë is moeg omdat ons verniet op die uitkyk was na hulp.+
Ons het bly wag op hulp van ’n nasie wat ons nie kon red nie.+
צ [Tsade]
18 Ons vyande was op ons spoor soos jagters+ – ons kon nie op ons openbare pleine loop nie.
Ons einde het naby gekom. Ons tyd is om, want ons einde het gekom.
ק [Kof]
19 Ons agtervolgers was vinniger as die arende van die hemel.+
Hulle het ons op die berge gejaag. Hulle het ons in die wildernis ingewag.
ר [Resj]
20 Die asem van ons neusgate, die gesalfde van Jehovah,+ is deur hulle in ’n groot gat gevang.+
Ons het van hom gesê: “Onder sy beskerming sal ons onder die nasies lewe.”
ש [Sin]
21 Juig en wees bly, o dogter van Edom,+ jy wat in die land Us woon.
Maar die beker sal ook vir jou gegee word+ en jy sal dronk word en jou kaal uittrek.+
ת [Taw]
22 O dogter van Sion, die straf vir jou oortreding het tot ’n einde gekom.
Hy sal jou nie weer in ballingskap wegneem nie.+
Maar hy sal sy aandag op jou oortreding rig, o dogter van Edom.
Hy sal jou sondes openbaar maak.+
5 O Jehovah, dink aan wat met ons gebeur het.
Kyk, en sien ons skande.+
2 Ons erfdeel is aan vreemdelinge gegee, en ons huise aan uitlanders.+
3 Ons het soos weeskinders geword, sonder ’n pa. Ons ma’s is soos weduwees.+
4 Ons moet betaal om ons eie water te drink+ en om ons eie hout te gebruik.
5 Ons agtervolgers is op ons hakke.
Ons is moeg, maar ons kry geen rus nie.+
6 Ons steek ons hande uit na Egipte+ en na Assiʹrië+ sodat ons genoeg kos kan kry.
7 Ons voorvaders wat gesondig het, lewe nie meer nie, maar ons moet hulle oortredings dra.
8 Knegte heers nou oor ons, en daar is niemand wat ons van hulle kan red nie.
9 Wanneer ons kos gaan haal, is ons lewens in gevaar+ weens die swaard in die wildernis.
10 Ons vel het so warm soos ’n oond geword weens die hongerpyne.+
11 Hulle het die vrouens in Sion verneder,* en die maagde in die stede van Juda.+
12 Leiers is aan hulle hand opgehang,+ en daar was geen respek vir ouermanne nie.+
13 Jong manne dra die handmeul, en seuns struikel onder vragte hout.
14 Die ouermanne is nie meer in die stadspoort nie,+ en jong manne speel nie hulle musiek nie.+
15 Daar is nie meer vreugde in ons harte nie. Ons dans nie meer nie, ons huil en treur.+
16 Die kroon het van ons kop afgeval. Dit gaan sleg met ons, want ons het gesondig!
en weens hierdie dinge het ons oë dof geword,+
18 weens die berg Sion wat ’n woesteny is.+ Jakkalse dwaal nou daar rond.
19 Maar u, o Jehovah, u sit vir ewig op u troon.
U troon is van geslag tot geslag.+
20 Hoekom vergeet u ons vir ewig, en hoekom het u ons vir so ’n lang tyd verlaat?+
21 Bring ons terug na u toe, o Jehovah, en ons sal gretig wees om na u toe terug te keer.+
Maak ons lewe weer soos dit vroeër was.+
22 Maar u het ons heeltemal verwerp.
U bly baie kwaad vir ons.+
Hoofstuk 1-4 is treurliedere in die vorm van ’n akrostigon, waar die eerste letter van elke vers of groep verse die Hebreeuse alfabet vorm.
Lett. “maagde”.
Lett. “in die hand van die vyand geval het”.
Jerusalem word hier as ’n vrou afgebeeld.
Lett. “in die hand gegee van”.
Lett. “maagde”.
Lett. “ingewande”.
Of “onderrigting”.
Lett. “ingewande”.
Lett. “My lewer is op die aarde uitgestort”.
Digterlike verpersoonliking, moontlik om jammerte of simpatie uit te druk.
Of “Roep uit gedurende die nag, aan die begin van die wake”.
Lett. “maagde”.
Of “verhinder”.
Of moontlik “my braak laat lê”.
’n Soort bitter plant.
’n Soort bitter plant.
Of “om geduldig”.
Of “dit is nie in sy hart om . . . te veroorsaak nie”.
Of “keer u dat ons toegang tot u verkry”.
Of “afskraapsel”.
Lett. “verlate”.
Lett. “helderrooi”.
Lett. “oortreding”.
Lett. “Hulle”.
Of “kos van vertroosting”.
Of “hier as uitlanders bly nie”.
Of “verkrag”.