Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt 1 Petrus 1:1-5:14
  • 1 Petrus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • 1 Petrus
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
1 Petrus

DIE EERSTE BRIEF VAN PETRUS

1 Van Petrus, ’n apostel+ van Jesus Christus. Aan die tydelike inwoners wat oral in Pontus, Galaʹsië, Kappadoʹsië,+ Asië en Bitiʹnië verstrooi is, aan dié wat uitgekies is 2 volgens die voorkennis van God, die Vader.+ Aan julle wat deur die gees geheilig+ is om gehoorsaam te wees en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word:+

Mag onverdiende goedheid en vrede vir julle vermeerder word.

3 Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus geloof word. Hy het Jesus Christus uit die dood opgewek,+ en so het hy ons in ooreenstemming met sy groot genade ’n nuwe geboorte gegee.+ Nou het ons ’n lewende hoop+ 4 op ’n erfenis wat nie vernietig kan word nie, wat onbesmet is en nie kan vergaan nie.+ Dit word in die hemel bewaar vir julle,+ 5 wat danksy julle geloof beskerm word deur God se krag vir ’n redding wat in die tyd van die einde* geopenbaar sal word. 6 Daarom is julle baie vreugdevol, al moet julle nou – as dit so moet wees – vir ’n klein rukkie allerhande moeilike tye deurmaak.+ 7 Dan kan julle geloof, nadat dit getoets is,+ daartoe lei dat julle geprys en geëer word wanneer Jesus Christus geopenbaar word.+ Hierdie soort geloof is baie waardevoller as goud wat kan vergaan, al word dit deur vuur getoets.* 8 Al het julle hom nooit gesien nie, is julle lief vir hom. Al sien julle hom ook nie nou nie, beoefen julle geloof in hom en ervaar julle ’n onbeskryflike en wonderlike vreugde, 9 want julle weet dat julle geloof tot redding sal lei.+

10 Die profete wat geprofeteer het oor die onverdiende goedheid wat vir julle bedoel is, het ywerig navorsing gedoen en sorgvuldig ondersoek ingestel oor hierdie redding.+ 11 Hulle het bly ondersoek op watter spesifieke tyd of in watter tydperk die dinge in verband met Christus sou gebeur.+ Want die heilige gees wat in hulle was, het vooraf getuig hoe Christus sou ly+ en hoe hy daarna verheerlik sou word. 12 Dit is aan hulle geopenbaar dat hulle nie hulleself bedien het nie, maar julle. Die profete het geskryf oor die dinge wat aan julle verkondig is deur middel van dié wat die goeie nuus aan julle bekend gemaak het met behulp van die heilige gees wat uit die hemel gestuur is.+ Die engele is gretig om hierdie dinge ten volle te verstaan.

13 Berei dus julle verstande voor* vir bedrywigheid.+ Bly heeltemal helder van verstand.+ Vestig julle hoop op die onverdiende goedheid wat julle sal ontvang by die openbaring van Jesus Christus. 14 As gehoorsame kinders moet julle nie langer gevorm word deur die begeertes wat julle voorheen gehad het toe julle nie van beter geweet het nie. 15 Maar word ook heilig in al julle gedrag,+ soos die Heilige wat julle geroep het, 16 want daar is geskryf: “Julle moet heilig wees, want ek is heilig.”+

17 En as julle die Vader aanroep wat onpartydig is wanneer hy elkeen se werk oordeel,+ moet julle julle met vrees gedra+ solank julle tydelike inwoners is. 18 Want julle weet dat julle nie met dinge wat kan vergaan, met silwer of goud, bevry* is+ van julle nuttelose lewenswyse wat julle voorvaders aan julle oorgedra het nie. 19 Maar dit was met kosbare bloed,+ soos dié van ’n onbesmette en vlekkelose lam,+ ja, dié van Christus.+ 20 Hy is wel voor die begin van die mensdom* uitgekies,*+ maar hy is aan die einde van die tye ter wille van julle openbaar gemaak.+ 21 Deur hom glo julle in God,+ die Een wat hom uit die dood opgewek+ en verheerlik het,+ sodat julle geloof in God kan hê en op hom kan hoop.

22 Noudat julle julleself gereinig het deur aan die waarheid gehoorsaam te wees, het julle opregte broederlike liefde,+ en julle moet mekaar dus intens liefhê uit die hart.+ 23 Want julle is ’n nuwe geboorte gegee,+ nie deur saad wat kan vergaan nie, maar deur saad wat nie kan vergaan nie,*+ deur middel van die woord van die lewende en ewige God.+ 24 Want “alle mense* is soos gras, en hulle prag is soos ’n bloeisel van die veld. Die gras droog uit en die blom val af, 25 maar die woord van Jehovah* bly vir ewig”.+ En hierdie “woord” is die goeie nuus wat aan julle bekend gemaak is.+

2 Raak dan ontslae van alle slegtheid+ en bedrog en skynheiligheid en jaloesie* en allerhande beledigings. 2 Ontwikkel soos pasgebore babas+ ’n verlange na die suiwer* melk van die woord, sodat julle daardeur tot redding kan groei,+ 3 want julle het ondervind* dat die Here goed is.

4 Mense het hom, ’n lewende steen, verwerp,+ maar God het hom uitgekies, en hy is kosbaar vir Hom.+ Terwyl julle na hom toe kom, 5 word julle self ook as lewende stene opgebou tot ’n geestelike tempel*+ om ’n heilige priesterdom te wees, sodat julle deur Jesus Christus geestelike offerandes kan bring+ wat vir God aanvaarbaar is.+ 6 Want die Skrif sê: “Kyk! Ek lê in Sion ’n steen wat uitgekies is, ’n kosbare fondamenthoeksteen, en niemand wat geloof daarin beoefen, sal ooit teleurgestel* word nie.”+

7 Vir julle is hy dus kosbaar omdat julle gelowiges is, maar vir dié wat nie glo nie, “het die steen wat die bouers verwerp het,+ die belangrikste hoeksteen* geword”+ 8 en “’n steen van struikeling en ’n rots van aanstoot”.+ Hulle struikel omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is. Dit is die einde wat op hulle wag. 9 Maar julle is “’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie,+ ’n volk vir spesiale besit,+ sodat julle die wonderlike eienskappe* oral bekend sou maak”+ van die Een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderlike lig geroep het.+ 10 Want voorheen was julle nie ’n volk nie, maar nou is julle God se volk.+ Voorheen was genade nie aan julle bewys nie, maar nou is julle dié wat genade ontvang het.+

11 Geliefdes, ek spoor julle as uitlanders en tydelike inwoners+ aan om nie te swig voor vleeslike begeertes,+ wat teen julle oorlog voer nie.+ 12 Gedra julle altyd goed onder die nasies.+ As hulle julle dan daarvan beskuldig dat julle slegte dinge doen, kan hulle ooggetuies wees van julle goeie werke.+ Dan kan hulle God as gevolg daarvan in die dag van sy inspeksie verheerlik.

13 Onderwerp julle ter wille van die Here aan elke menslike instelling,*+ of dit nou aan ’n koning is,+ wat die hoogste posisie het, 14 of aan goewerneurs, wat deur die koning gestuur is om misdadigers te straf maar om dié wat goed doen, te prys.+ 15 Want dit is God se wil dat julle deur julle goeie gedrag die onredelike mense wat uit onkunde teen julle praat, kan stilmaak.+ 16 Wees soos vry mense,+ maar moenie julle vryheid gebruik as ’n verskoning* om slegte dinge te doen nie,+ maar gebruik dit om God as slawe te dien.+ 17 Eer alle soorte mense,+ wees lief vir die hele gemeenskap van broers,*+ vrees God,+ eer die koning.+

18 Laat knegte aan hulle meesters onderdanig wees met alle gepaste respek,+ nie net aan dié wat goed en redelik is nie, maar ook aan dié wat moeilik is om tevrede te stel. 19 Want as iemand weens sy gewete voor God moeilike tye* verduur en onregverdig ly, maak dit God se hart bly.+ 20 Want watter voordeel hou dit in as julle geslaan word omdat julle gesondig het en dit dan verduur?+ Maar as julle ly omdat julle goeie dinge gedoen het en dit dan verduur, maak dit God se hart bly.+

21 Ja, hiervoor is julle geroep, want Christus het vir julle gely+ en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg.+ 22 Hy het nooit gesondig nie,+ en hy het nooit iets bedriegliks gesê nie.+ 23 Toe hy beledig* is,+ het hy nie terug beledig* nie.+ Toe hy gely het,+ het hy nie gedreig nie, maar hy het die saak oorgelaat aan die Een wat regverdig oordeel.+ 24 Hy het ons sondes in sy eie liggaam aan die paal* gedra,+ sodat ons dood sou wees vir* sonde en kan lewe vir regverdigheid. En “deur sy wonde is julle genees”.+ 25 Want julle was soos skape wat wegdwaal,+ maar nou het julle teruggekeer na die herder+ en opsiener van julle siele.*

3 Vrouens, net so moet julle onderdanig wees aan julle mans,+ sodat mans wat nie aan die woord gehoorsaam is nie, sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word+ 2 omdat hulle ooggetuies is van julle goeie* gedrag+ en diep respek. 3 Julle versiering moenie uiterlike dinge wees, soos kunstig gevlegde hare, goue versierings+ en mooi klere nie 4 maar die innerlike,* die blywende prag van die stille en sagmoedige gees+ wat baie waardevol is in die oë van God. 5 Want dit is hoe die heilige vrouens wat op God gehoop het, hulle destyds versier het, en hulle was onderdanig aan hulle mans. 6 Byvoorbeeld, Sara het Abraham gehoorsaam en hom heer genoem.+ En julle het haar kinders geword, solank julle aanhou om goed te doen en julle nie deur enigiets laat afskrik nie.+

7 Mans, net so moet julle aanhou om volgens kennis met julle vrouens saam te lewe.* Behandel julle vrouens met respek,+ want die vrou is swakker, soos ’n delikate houer, en hulle is ook saam met julle erfgename+ van die onverdiende gawe van die lewe. Anders sal God nie na julle gebede luister nie.

8 Laastens moet julle almal verenig wees in julle denke.+ Betoon medelye,* broederlike liefde, empatie+ en nederigheid.+ 9 Moenie een slegte daad met ’n ander slegte daad terugbetaal+ of een belediging met ’n ander belediging nie.+ Betaal eerder terug met ’n seën,+ want julle is geroep om ander te seën, sodat julle ’n seën kan ontvang.

10 Want “wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong weghou van slegte praatjies+ en sy lippe van bedrog. 11 Hy moet wegdraai van wat sleg is+ en doen wat goed is.+ Hy moet vrede soek en dit nastreef.+ 12 Want die oë van Jehovah* is op die regverdiges, en sy ore luister na hulle smeekgebede,+ maar Jehovah* is teen* dié wat slegte dinge doen.”+

13 Ja, wie sal iets slegs aan julle doen as julle ywerig word vir wat goed is?+ 14 Maar selfs as julle ter wille van regverdigheid sou ly, is julle gelukkig.+ Moet egter nie bang wees vir dit waarvoor hulle bang is* nie, en moet ook nie ontsteld raak nie.+ 15 Maar heilig die Christus as Here in julle harte. Wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat aandring op ’n rede vir die hoop wat julle het, maar doen dit met sagmoedigheid+ en diep respek.+

16 Behou ’n goeie gewete,+ sodat dié wat enigiets slegs teen julle sê, skaam kan kry+ as gevolg van julle goeie gedrag as volgelinge van Christus.+ 17 Want as dit God se wil is dat julle ly omdat julle iets goeds doen,+ is dit beter as om te ly omdat julle iets slegs doen.+ 18 Want Christus het eens en vir altyd vir sondes gesterf,+ ’n regverdige vir onregverdiges,+ om julle na God te lei.+ Hy is doodgemaak in die vlees,+ maar lewend gemaak in die gees.+ 19 Hy het in hierdie toestand vir die geeste in die gevangenis gaan preek,+ 20 wat voorheen ongehoorsaam was toe God geduldig* in Noag se dag gewag het+ terwyl die ark gebou is,+ waarin ’n paar mense, naamlik agt siele,* veilig deur die water gebring is.+

21 Doop, wat hiermee ooreenkom, red julle ook nou deur die opstanding van Jesus Christus. (Doop verwyder nie die vuilheid van die vlees nie, maar dit is ’n versoek tot God vir ’n goeie gewete.)+ 22 Hy is aan God se regterhand,+ want hy het na die hemel gegaan, en engele en owerhede en magte is aan hom onderwerp.+

4 Omdat Christus dan as ’n mens* gely het,+ moet julle julle ook met dieselfde denkwyse* bewapen. Want die persoon wat as ’n mens* gely het, het opgehou met sondes+ 2 sodat hy die res van sy tyd as ’n mens* nie meer vir die begeertes van mense lewe nie,+ maar vir God se wil.+ 3 Want in die verlede het julle lank genoeg die wil van die nasies gedoen+ toe julle julle oorgegee het aan skaamtelose gedrag,* onbeheerste begeertes, dronkenskap, wilde partytjies,* drinkpartytjies en walglike* afgodediens.+ 4 Hulle vind dit vreemd omdat julle nie meer hierdie lewenswyse van wilde gedrag met hulle deel nie, en daarom sê hulle slegte dinge van julle.+ 5 Maar hierdie mense sal volgens hulle dade geoordeel word deur die een wat gereed is om die lewendes en die dooies te oordeel.+ 6 Om die waarheid te sê, dit is waarom die goeie nuus ook aan die dooies bekend gemaak is,+ sodat hulle in God se oë in ooreenstemming met die gees kan lewe, al word hulle in die oë van mense volgens die uiterlike* geoordeel.

7 Maar die einde van alles het naby gekom. Wees dus verstandig*+ en wees waaksaam* wanneer dit kom by gebede.+ 8 Die belangrikste van alles is dat julle intense liefde vir mekaar moet hê,+ want die liefde bedek baie sondes.+ 9 Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.+ 10 Gebruik die gawe in die mate waarin elkeen van julle dit ontvang het, om mekaar te dien as goeie bestuurders van God se onverdiende goedheid wat op verskillende maniere betoon word.+ 11 As iemand praat, laat hy oor die heilige verklarings van God praat. As iemand dien, laat hy vertrou op die krag wat God voorsien,+ sodat God in alles deur middel van Jesus Christus geëer kan word.+ Die heerlikheid en die mag is syne vir ewig en altyd. Amen.

12 Geliefdes, moenie verbaas wees oor die swaar tye* wat julle deurmaak+ asof iets vreemds met julle gebeur nie. 13 Wees eerder bly+ omdat julle vir dieselfde redes ly as wat die Christus gely het,+ sodat julle ook bly kan wees en kan oorloop van vreugde wanneer sy heerlikheid geopenbaar word.+ 14 As julle vir die naam van Christus beledig* word, is julle gelukkig,+ want dit beteken dat julle die gees van heerlikheid, ja, die gees van God, het.

15 Maar laat niemand van julle ly as ’n moordenaar, ’n dief, ’n misdadiger of iemand wat hom in ander se sake inmeng nie.+ 16 As iemand egter ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie skaam nie,+ maar aanhou om God te verheerlik terwyl hy hierdie naam dra. 17 Want dit is die vasgestelde tyd vir die oordeel om by die huis van God te begin.+ As dit dan nou eers by ons begin,+ wat sal die uiteinde wees vir dié wat nie aan die goeie nuus van God gehoorsaam is nie?+ 18 “En as die regverdige met moeite gered word, wat sal met die goddelose en die sondaar gebeur?”+ 19 Daarom moet dié wat in ooreenstemming met die wil van God ly, aanhou om hulleself oor te laat* aan ’n getroue Skepper terwyl hulle goed doen.+

5 As ’n mede-ouerman en ’n getuie van hoe die Christus gely het en as iemand wat ook die heerlikheid gaan ontvang wat geopenbaar gaan word,+ vra ek dus die ouermanne onder julle dringend: 2 Wees herders vir die kudde van God+ wat onder julle sorg is en dien as opsieners,* nie omdat julle gedwing word nie, maar gewillig, volgens God se wil,+ en ook nie uit liefde vir oneerlike wins nie,+ maar gretig. 3 Moet ook nie baasspeel oor dié wat God se erfdeel is nie,+ maar word voorbeelde vir die kudde.+ 4 En wanneer die hoofherder+ geopenbaar word, sal julle die glorieryke kroon ontvang wat nie kan vergaan nie.+

5 Net so moet julle, die jonger mans, onderdanig wees aan die ouer mans.*+ Maar julle almal moet nederig wees teenoor mekaar,* want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedheid aan die nederiges.+

6 Onderwerp julle nederig aan die magtige hand van God, sodat hy julle op die regte tyd kan verheerlik.+ 7 Gee al julle bekommernisse oor aan God,+ want hy gee om vir julle.*+ 8 Bly helder van verstand, bly wakker!+ Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.+ 9 Maar weerstaan hom+ en bly standvastig in die geloof, omdat julle weet dat die hele gemeenskap van julle broers* in die wêreld op dieselfde manier ly.+ 10 Maar nadat julle ’n klein rukkie gely het, sal die God van alle onverdiende goedheid, wat julle geroep het om in eenheid met Christus te wees en om ewige eer te ontvang,+ self julle opleiding voltooi. Hy sal julle standvastig maak,+ hy sal julle sterk maak,+ hy sal julle ’n stewige fondament gee. 11 Aan hom behoort die mag vir ewig. Amen.

12 Deur Silvaʹnus,*+ wat ek as ’n getroue broer beskou, het ek met min woorde aan julle geskryf om julle aan te moedig en om ’n ernstige getuienis te gee dat die onverdiende goedheid wat God teenoor julle betoon het, opreg is. Staan vas daarin. 13 Sy wat in Babilon is, wat net soos julle uitgekies is, stuur vir julle groete, en so ook Markus,+ my seun. 14 Groet mekaar met ’n liefdevolle soen.

Mag julle almal wat in eenheid met Christus is, vrede hê.

Of “laaste tydperk”.

Of “gelouter”.

Of “Versterk dus julle verstande”.

Lett. “losgekoop; verlos”.

Of “grondlegging van die wêreld”.

Lett. “vooruitgeken”.

D.w.s. saad wat kan voortplant of vrug kan dra.

Lett. “vlees”.

Sien Aanh. A5.

Of “afguns”.

Of “onvervalste”.

Of “gesmaak”.

Lett. “huis”.

Lett. “beskaamd gemaak”.

Lett. “die hoof van die hoek”.

Of “voortreflikhede”. Lett. “die deugde”.

Lett. “skepping”.

Of “dekmantel”.

Of “die broederskap”.

Of “droefheid; pyn”.

Of “uitgeskel”.

Of “uitgeskel”.

Of “boom”.

Of “klaar sou wees met”.

Of “lewens”.

Lett. “kuis”.

Lett. “die geheime persoon van die hart”.

Of “om bedagsaam teenoor julle vrouens te wees; julle vrouens te verstaan”.

Sien Woordelys.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “die aangesig van Jehovah is teen”.

Of moontlik “vir hulle dreigemente”.

Lett. “die geduld van God”.

Of “mense”.

Lett. “in die vlees”.

Of “gesindheid; vasbeslotenheid”.

Lett. “in die vlees”.

Lett. “in die vlees”.

Of “dade van skaamtelose gedrag”. Meervoud van die Griekse woord a·selʹgei·a. Sien Woordelys.

Of “swelgerye”.

Lett. “onwettige”.

Lett. “vlees”.

Of “gesond van verstand”.

Of “wakker”.

Of “vurige beproewinge”.

Of “bespot”.

Of “toe te vertrou”.

Of “en waak goed daaroor”.

Of “die ouermanne”. Sien Woordelys.

Of “beklee (omgord) julle met nederigheid van verstand”.

Of “hy sorg vir julle”.

Lett. “julle broederskap”.

D.w.s. Silas.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel