Godvrugtige ouers word waardeer
Ouers wat hulle inspan om hulle kinders te leer om verantwoordelike en godvresende volwassenes te wees, is verheug wanneer hulle pogings slaag. Hulle is ook baie bly wanneer hulle kinders waardering uitspreek vir daardie goeie opvoeding.
Die volgende is ’n brief wat ’n seun en sy vrou ná hulle troue aan sy ouers gestuur het:
“Liewe Pa en Ma:
“Waar kan ons tog begin? Kom ons begin deur te sê hoeveel ons julle liefde, ondersteuning en vrygewigheid op ons troudag waardeer het. Dit was waarlik ’n spesiale dag, en julle teenwoordigheid was van onskatbare waarde. Asof dít nie genoeg was nie, het julle ons boonop gehelp om ons wittebrood so genotvol te maak. Al die bogemelde dinge is verdere bewys van hoe uitsonderlik, liefdevol, redelik en vol pret julle as ouers is en nog altyd was!
“Het julle al ooit gewonder hoe ek op die smal pad kon bly? Dit is omdat ek, buiten my liefde vir Jehovah God, nog altyd groot respek vir julle albei gehad het. Hierdie respek is so groot dat dit, tesame met julle dissipline, my altyd eers ernstig laat nadink het voor ek dinge gedoen en besluite geneem het. Die feit dat ek nog altyd in ooreenstemming met God se wil kon optree, is inderdaad grotendeels te danke aan die volgehoue liefde en dissipline wat julle my gegee het en julle onverbreeklike toegewydheid aan Jehovah en sy organisasie.
“As ek al die herinneringe aan julle twee uit my kinderdae neem en dit saamvoeg, sal hulle toon dat ek, hoewel ek miskien nie alles onthou wat julle gesê het nie, wél julle voortreflike gedrag kan onthou, veral julle liefde vir ander en vir Jehovah.
“Ons het julle baie, baie lief.
“Julle seun en skoondogter,
“L. en W.”