’n Toets wat op die Ontwaak! gebaseer is
TOE leerlinge in die Suid-Amerikaanse land Suriname hulle hoërskooltoelatingseksamenboekie in Julie 1993 oopgemaak het, het hulle besef dat gereelde lesers van die Ontwaak! ’n voordeel bo ander gehad het. Dit was omdat byna die helfte van die vrae in die boekie met 36 bladsye, wat deur die Departement van Onderwys se Eksamenburo voorberei is, op twee artikels uit die Ontwaak! gebaseer is.
Die artikel “Plakkersdorpe—swaar tye in die betonoerwoud” wat in die Ontwaak! van 8 Oktober 1992 verskyn het, is op bladsy 1 tot 9 gebruik. Daar was 21 vrae wat die leerlinge se begrip van daardie materiaal getoets het. Bladsye 10 tot 16 van die eksamenboekie het 14 vrae bevat oor die artikel “Die kapibara—Skeppingsfout of skeppingswonder?” wat in die Ontwaak! van 22 September 1992 verskyn het.
“Deur hierdie artikels te gebruik om die teksbegrip van leerlinge in die hele land te toets”, het ’n skoolhoof in die westelike deel van Suriname gesê, “toon die skoolowerhede dat hulle die Ontwaak! as ’n model van korrekte grammatika en bondige skryfstyl beskou.”
As jy graag meer inligting wil hê oor hoe om ’n eksemplaar van die Ontwaak! te bekom of as jy wil hê dat iemand jou moet besoek om hierdie saak te bespreek, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of na die gepaste adres op bladsy 5.