Die regering wat die Paradys gaan bring
Toe Jesus op aarde was, het hy sy volgelinge geleer om vir God se Koninkryk te bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:9, 10). Hy het ook voortdurend gepraat oor “die evangelie van die koninkryk” (Mattheüs 4:23). Trouens, hy het meer oor die Koninkryk gepraat as oor enigiets anders. Waarom? Omdat die Koninkryk die instrument is wat God gaan gebruik om die probleme op te los wat die lewe vandag so moeilik maak. Deur middel van die Koninkryk gaan God binnekort ’n einde maak aan oorloë, honger, siekte en misdadigheid, en gaan hy eenheid en vrede bring.
Sou jy graag in so ’n wêreld wou lewe? Dan moet jy hierdie brosjure lees. Jy sal daarin leer dat die Koninkryk ’n regering is, maar dit is beter as enige regering wat nog oor die mensdom geregeer het. Jy sal ook die aangrypende manier sien waarop God geleidelik sy voornemens in verband met die Koninkryk aan sy knegte verduidelik het. Jy sal daarbenewens sien hoe die Koninkryk jou selfs vandag kan help.
Trouens, jy kan nóú ’n onderdaan van God se Koninkryk word. Maar voordat jy besluit om dit te doen, sal jy meer daaromtrent moet leer. Ons spoor jou dus aan om hierdie brosjure te ondersoek. Alles wat dit jou omtrent die Koninkryk vertel, kom uit die Bybel.
Kom ons kyk eers waarom ons God se Koninkryk so nodig het.
Aan die begin van die mensegeskiedenis het God die mens volmaak geskep en hom in ’n paradys gesit. Daar was destyds geen behoefte aan die Koninkryk nie.
Maar Adam en Eva, ons eerste ouers, het na Satan, ’n opstandige engel, geluister. Hy het vir hulle leuens oor God vertel en hulle ook teen God in opstand laat kom. Hulle het dus verdien om te sterf, want “die loon van die sonde is die dood”.—Romeine 6:23.
’n Onvolmaakte sondaar kan nie volmaakte kinders hê nie. Al Adam se kinders is gevolglik onvolmaak, sondig en sterwend gebore.—Romeine 5:12.
Van toe af het mense God se Koninkryk nodig gehad om hulle te help om van die vloek van sonde en die dood te herstel. Die Koninkryk sal God se naam ook suiwer van die leuens wat Satan daaroor vertel het.
Jehovah God het beloof dat ’n spesiale “saad” (of nageslag) gebore sou word om die mensdom van sonde te bevry (Genesis 3:15). Hierdie “saad” sou die Koning van God se Koninkryk wees.
Wie sou dit wees?
Ongeveer 2 000 jaar nadat Adam gesondig het, het daar ’n baie getroue man genaamd Abraham gelewe. Jehovah het vir Abraham gesê om sy eie stad te verlaat en in die land Palestina in tente te gaan woon.
Abraham het alles gedoen wat Jehovah hom beveel het om te doen, onder meer iets baie moeiliks. Jehovah het hom beveel om sy seun Isak op ’n altaar te offer.
Jehovah wou nie werklik ’n mense-offer hê nie. Maar hy wou weet hoe lief Abraham hom het. Abraham het op die punt gestaan om Isak dood te maak toe Jehovah hom gekeer het.
As gevolg van Abraham se groot geloof het Jehovah beloof om die land Palestina aan sy nageslag te gee en gesê dat die beloofde Saad deur sy geslag en deur dié van sy seun Isak sou kom.—Genesis 22:17, 18; 26:4, 5.
Isak het ’n tweeling, Esau en Jakob, gehad. Jehovah het gesê dat die beloofde Saad deur Jakob sou kom.—Genesis 28:13-15.
Jakob, aan wie Jehovah ook die naam Israel gegee het, het 12 seuns gehad, waarvan almal mettertyd kinders gehad het. Abraham se kinders het dus begin vermeerder.—Genesis 46:8-27.
Toe daar ’n groot hongersnood in die gebied ontstaan het, het Jakob en sy familie, op uitnodiging van Farao, die heerser van Egipte, na Egipte verhuis.—Genesis 45:16-20.
In Egipte is daar geopenbaar dat die beloofde Saad ’n afstammeling van Jakob se seun Juda sou wees.—Genesis 49:10.
Na Jakob se dood het sy nageslag so toegeneem dat hulle soos ’n nasie was. Toe het die Egiptenaars vir hulle bang geword en hulle slawe gemaak.—Exodus 1:7-14.
Eindelik het Jehovah Moses, ’n baie getroue man, gestuur om te eis dat die Farao van daardie tyd die kinders van Israel moet vrylaat.—Exodus 6:9, 10.
Farao het geweier, en daarom het Jehovah tien plae oor die Egiptenaars gebring. As die laaste plaag het hy die doodsengel gestuur om al die eersgeborenes van Egipte om die lewe te bring.—Exodus, hoofstukke 7 tot 12.
God het vir die Israeliete gesê dat indien hulle ’n lam vir hulle aandmaal slag en van sy bloed aan hulle deurposte stryk, die doodsengel hulle huise sou oorslaan. Die Israeliete se eersgeborenes is dus gered.—Exodus 12:1-35.
Farao het die Israeliete gevolglik beveel om Egipte te verlaat. Maar toe het hy van plan verander en hulle agternagesit om hulle terug te bring.
Jehovah het ’n weg vir die Israeliete geopen om deur die Rooi See weg te kom. En toe Farao en sy leërs probeer het om hulle te volg, het hulle verdrink.—Exodus 15:5-21.
Jehovah het die kinders van Israel na die berg Sinai in die woestyn gelei. Daar het hy sy Wet aan hulle gegee en gesê dat indien hulle dit hou, hulle ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie sou word. Die Israeliete het dus die geleentheid gehad om mettertyd ’n belangrike deel van God se Koninkryk te wees.—Exodus 19:6; 24:3-8.
Nadat die Israeliete ongeveer ’n jaar lank by die berg Sinai was, het Jehovah hulle na Palestina gelei, die land wat hy aan hulle voorvader Abraham beloof het.
In Palestina het God later toegelaat dat die Israeliete deur konings geregeer word. God het toe ’n koninkryk op die aarde gehad.
Die tweede koning van Israel was Dawid, ’n afstammeling van Juda. Dawid het al Israel se vyande verslaan en Jerusalem die hoofstad van die nasie gemaak.
Die gebeure tydens Dawid se bewind toon dat wanneer Jehovah ’n koning steun, geen aardse heerser hom kan verslaan nie.
Jehovah het gesê dat die beloofde Saad een van Dawid se afstammelinge sou wees.—1 Kronieke 17:7, 11, 14.
Salomo, Dawid se seun, het ná hom geregeer. Hy was ’n wyse koning en Israel was voorspoedig onder sy bewind.
Salomo het ook ’n pragtige tempel vir Jehovah in Jerusalem gebou. Die toestande in Israel onder Salomo se bewind gee ons ’n idee van die seëninge wat God se komende Koninkryk vir die mensdom sal bring.—1 Konings 4:24, 25.
Baie van die konings ná Salomo was egter baie ontrou.
Maar terwyl Dawid se afstammelinge nog in Jerusalem geheers het, het Jehovah sy profeet Jesaja gebruik om ’n toekomstige Seun van Dawid te voorspel wat in getrouheid oor die hele aarde sou heers. Dit sou die beloofde Saad wees.—Jesaja 9:5, 6.
Die profeet Jesaja het voorspel dat Sy heerskappy selfs heerliker as Salomo s’n sou wees.—Jesaja, hoofstukke 11 en 65.
God se knegte het nou, meer as ooit tevore, gewonder wie hierdie Saad sou wees.
Maar voordat die Saad gekom het, het die konings van Israel so sleg geword dat Jehovah in 607 v.G.J. toegelaat het dat die nasie deur die Babiloniërs verower word, en die meeste mense is in ballingskap na Babilon weggevoer. God het egter nie sy belofte vergeet nie. Die Saad sou steeds in Dawid se geslag verskyn.—Esegiël 21:25-27.
Israel se ondervinding het getoon dat hoewel ’n verstandige, getroue koning voordele kon bring, hierdie voordele beperk was. Getroue manne sterf, en hulle opvolgers is dalk nie getrou nie. Wat was die oplossing? Die beloofde Saad.
Na duisende jare het die Saad eindelik verskyn. Wie was dit?
’n Engel van God het die antwoord aan ’n ongetroude Israelitiese meisie genaamd Maria verstrek. Hy het vir haar gesê dat sy ’n seun sou hê wie se naam Jesus sou wees. Die engel het gesê:
“Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees.”—Lukas 1:32, 33.
Jesus sou dus die beloofde Saad en eindelik die Koning van God se Koninkryk wees. Maar waarom het Jesus verskil van getroue manne wat tevore geleef het?
Jesus is deur ’n wonderwerk gebore. Sy moeder was ’n maagd, en hy het geen mensevader gehad nie. Jesus het tevore in die hemel gelewe, en God se heilige gees, of werkende krag, het Jesus se lewe uit die hemel na die baarmoeder van Maria oorgeplaas. Hy het gevolglik nie Adam se sonde geërf nie. Jesus het sy hele lewe lank nooit gesondig nie.—1 Petrus 2:22.
Toe Jesus 30 jaar oud was, is hy gedoop.
Hy het vir mense van God se Koninkryk vertel en homself eindelik as die Koning van daardie Koninkryk voorgestel.—Mattheüs 4:23; 21:4-11.
Hy het ook baie wonderwerke verrig.
Hy het die siekes genees.—Mattheüs 9:35.
Hy het honger mense wonderdadig gevoed.—Mattheüs 14:14-21.
Hy het selfs die dode opgewek.—Johannes 11:38-44.
Hierdie wonderwerke toon watter soort dinge Jesus as Koning van God se Koninkryk vir die mensdom gaan doen.
Onthou jy hoedat koning Dawid Jerusalem die hoofstad van sy koninkryk gemaak het? Jesus het verduidelik dat God se Koninkryk nie op aarde sou wees nie, maar in die hemel (Johannes 18:36). Dit is waarom die Koninkryk “hemelse Jerusalem” genoem word.—Hebreërs 12:22, 28.
Jesus het die wette gemeld wat diegene wat onderdane van die Koninkryk wil wees, moet gehoorsaam. Hierdie wette is nou in die Bybel. Die belangrikste wette is dat mense God moet liefhê en mekaar moet liefhê.—Mattheüs 22:37-39.
Jesus het ook geopenbaar dat hy nie alleen in sy Koninkryk sou regeer nie. Sekere mense sou uitverkies word om hemel toe te gaan en daar saam met hom te regeer (Lukas 12:32; Johannes 14:3). Hoeveel van hulle sou daar wees? Openbaring 14:1 antwoord: 144 000.
Watter hoop het die res van die mensdom as slegs 144 000 hemel toe gaan om saam met Jesus te regeer?
Die Bybel sê: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.
Diegene wat vir ewig op die aarde gaan woon, word die “ander skape” genoem.—Johannes 10:16.
Daar is dus twee verwagtinge. Daar is 144 000 wat deur Jehovah God genooi is om hemel toe te gaan om saam met Jesus Christus te regeer. Maar miljoene ander het die gewisse hoop om vir ewig as onderdane van sy Koninkryk op die aarde te lewe.—Openbaring 5:10, NAV.
Satan het Jesus gehaat en hom teëgestaan. Nadat Jesus drie en ’n half jaar lank gepreek het, het Satan daarvoor gesorg dat Jesus gevange geneem en aan ’n folterpaal om die lewe gebring is. Waarom het God dit toegelaat?
Jy sal onthou dat ons almal sondig en verdien om te sterf omdat ons van Adam afstam.—Romeine 6:23.
Jy sal ook onthou dat Jesus, weens die wonderdadige wyse waarop hy gebore is, volmaak was en nie verdien het om te sterf nie. God het Satan nietemin toegelaat om ‘Jesus in die hakskeen te byt’, om hom dood te maak. Maar God het hom weer lewend gemaak as ’n onsterflike gees. Aangesien hy steeds die reg op volmaakte menselewe gehad het, kon hy dit nou gebruik om mense van sonde los te koop.—Genesis 3:15; Romeine 5:12, 21; Mattheüs 20:28.
Om ons te help om ten volle te begryp wat Jesus se offerande beteken, praat die Bybel daarvan deur middel van profetiese afbeeldings.
Onthou jy byvoorbeeld hoe Jehovah vir Abraham gesê het om sy seun as ’n toets van sy liefde te offer?
Dit was ’n profetiese afbeelding van Jesus se offerande. Dit het getoon dat Jehovah se liefde vir die mensdom so groot is dat hy toegelaat het dat sy Seun, Jesus, vir ons sterf sodat ons die lewe kan verkry.—Johannes 3:16.
Onthou jy hoe Jehovah die Israeliete uit Egipte verlos en hulle eersgeborenes gered het deur die doodsengel hulle te laat oorslaan?—Exodus 12:12, 13.
Dit was ’n profetiese afbeelding. Net soos die bloed van die lam vir die eersgeborenes van die Israeliete lewe beteken het, beteken Jesus se vergote bloed lewe vir diegene wat in hom glo. En net soos die gebeure van daardie nag vir die Israeliete vryheid beteken het, bewerk Jesus se dood vir die mensdom vryheid van sonde en die dood.
Dit is waarom Jesus “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” genoem word.—Johannes 1:29.
Terwyl Jesus op die aarde was, het hy egter ook dissipels bymekaar gemaak en hulle opgelei om die goeie nuus van die Koninkryk selfs ná sy dood te verkondig.—Mattheüs 10:5; Lukas 10:1.
Dit was die eerste mense wat deur God gekies is om saam met Jesus in sy Koninkryk te regeer.—Lukas 12:32.
Onthou jy dat God vir die Jode beloof het dat hulle “ ’n koninkryk van priesters” sou wees mits hulle die Wet hou? Hulle het nou ’n kans gehad om ’n deel van God se Koninkryk te word en as hemelse priesters te dien indien hulle Jesus aanvaar het. Maar die meeste van hulle het Jesus verwerp.
Van toe af was die Jode nie meer God se uitverkore volk nie; Palestina was nie langer die Beloofde Land nie.—Mattheüs 21:43; 23:37, 38.
Van Jesus se dag af tot nou toe versamel Jehovah diegene wat saam met Jesus in die hemel gaan regeer. Daar is vandag nog ’n paar duisend van hulle op die aarde. Ons noem hulle die gesalfde oorblyfsel.—Openbaring 12:17.
Jy begin nou sien wat God se Koninkryk is. Dit is ’n regering in die hemel met Jesus Christus as Koning, en 144 000 mense van die aarde af sal by hom aansluit. Dit sal oor die getroue mensdom op aarde regeer en die mag hê om vrede op aarde te bewerkstellig.
Na sy dood is Jesus opgewek en het hy opgevaar hemel toe. Daar het hy op God gewag om te sê wanneer die tyd vir hom aangebreek het om as Koning van God se Koninkryk te begin regeer (Psalm 110:1). Wanneer sou dít wees?
Jehovah het mense soms drome laat droom om vir hulle dinge omtrent sy Koninkryk te vertel.
In Daniël se dag het Jehovah Nebukadnesar, die koning van Babilon, so ’n droom laat droom. Dit was van ’n groot boom.—Daniël 4:10-37.
Die boom is afgekap en die onderstam is sewe jaar lank gebind.
Die boom het koning Nebukadnesar voorgestel. Net soos die onderstam sewe jaar lank gebind was, was koning Nebukadnesar sewe jaar lank kranksinnig. Toe is sy geestesgesondheid herstel.
Dit was ’n profetiese afbeelding. Nebukadnesar het Jehovah se wêreldheerskappy voorgestel. Dit is aanvanklik deur afstammelinge van koning Dawid in Jerusalem uitgeoefen. Toe Babilon Jerusalem in 607 v.G.J. verower het, is daardie koningslyn onderbreek. Daar sou nie weer ’n koning in Dawid se geslag wees “totdat Hy kom wat daarop reg het” nie (Esegiël 21:27). Dit was Jesus Christus.
Hoe lank ná 607 v.G.J. sou Jesus begin regeer? Sewe profetiese jare. Dit wil sê, 2 520 jaar (Openbaring 12:6, 14). En 2 520 jaar vanaf 607 v.G.J. bring ons by 1914 G.J.
Jesus het dus in 1914 in die hemele begin regeer. Wat het dit beteken?
Die Bybel lig ons in deur middel van ’n gesig wat die apostel Johannes gehad het.
Hy het gesien hoedat ’n vrou in die hemel ’n manlike kind baar.—Openbaring 12:1-12.
Die vrou het God se hemelse organisasie, wat uit al die engeledienaars van God in die hemel bestaan, afgebeeld. Die manlike kind beeld God se Koninkryk af. Dit is in 1914 “gebore”.
Wat het toe gebeur? Die eerste ding wat Jesus as Koning gedoen het, was om Satan, en die engele wat saam met hom in opstand gekom het, uit die hemel na die aarde neer te werp.—Openbaring 12:9.
Die Bybel vertel vir ons wat die gevolg was: “Wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openbaring 12:12.
Toe Jesus in die hemel begin regeer het, het sy vyande gevolglik baie bedrywig geraak op die aarde. Hy het, net soos die Bybel voorspel het, te midde van sy vyande begin heers.—Psalm 110:1, 2.
Wat sou dit vir die mensdom beteken?
Jesus het vir ons gesê: oorloë, hongersnode, siektes en aardbewings.—Mattheüs 24:7, 8; Lukas 21:10, 11.
Ons het hierdie dinge sedert 1914 sien gebeur, en dit is nog ’n rede waarom ons weet dat die Koninkryk toe begin regeer het.
Die boek Openbaring deel ons mee dat mense ‘die aarde sou verderf’ (Openbaring 11:18). Ons het dit ook veral sedert 1914 gesien.
Die apostel Paulus het bygevoeg: “Die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, . . . ongehoorsaam aan hulle ouers, . . . onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos.”—2 Timotheüs 3:1-5.
Nou weet jy waarom die lewe vandag so moeilik is. Satan is baie bedrywig. Maar God se Koninkryk is ook bedrywig.
Kort na 1914 het die oorblyfsel van diegene wat hoop om saam met Jesus in die hemel te regeer, begin om die goeie nuus te verkondig dat die Koninkryk opgerig is. Daardie werk word nou oor die hele aarde gedoen, net soos Jesus gesê het.—Mattheüs 24:14.
Wat is die doel van hierdie predikingswerk?
Eerstens, om vir mense van God se Koninkryk te vertel.
Tweedens, om mense te help besluit of hulle onderdane van die Koninkryk wil wees.
Jesus het gesê dat die hele mensdom in ons dag in “skape” en “bokke” verdeel sal word.—Mattheüs 25:31-46.
Die “skape” sou diegene wees wat hom en sy broers liefhet. Die “bokke” sou diegene wees wat hulle nie liefhet nie.
Die “skape” sou die ewige lewe kry en die “bokke” nie.
Hierdie skeidingswerk word gedoen deur middel van die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk.
Hier is ’n profesie deur die profeet Jesaja.
“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.”—Jesaja 2:2.
Die mensdom lewe nou in “die einde van die dae”.
Jehovah se “huis” van aanbidding is “verhewe” bo valse gelowe.
“En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.”—Jesaja 2:3.
Ja, baie mense uit alle nasies kom om Jehovah te aanbid en nooi ander om by hulle aan te sluit. Hulle leer om op te tree op ’n wyse wat Jehovah behaag.
“En hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:4.
Jehovah se aanbidders is verenig en vredeliewend.
Die gevolg van hierdie bedrywigheid deur God se Koninkryk is dat daar nou etlike miljoene mense dwarsoor die aarde is wat onderdane van die Koninkryk is.
Hulle is versamel rondom die oorblyfsel, die oorblywende lede van die groep wat hoop om hemel toe te gaan en saam met Christus te regeer.
Hulle ontvang geestelike voedsel deur God se organisasie.—Mattheüs 24:45-47.
Hulle is ’n internasionale Christelike broederskap wat mekaar waarlik liefhet.—Johannes 13:35.
Hulle geniet gemoedsrus en ’n hoop vir die toekoms.—Filippense 4:7.
Die goeie nuus sal eerlank verkondig wees. Die “skape” sal versamel wees. Wat gaan die Koninkryk dan doen?
Onthou jy dat getroue koning Dawid al die vyande van God se volk verslaan het? Wel, koning Jesus gaan dieselfde doen.
Koning Nebukadnesar het eenmaal ’n droom gehad van ’n yslike beeld wat al die wêreldryke van sy dag tot ons dag afgebeeld het.
Toe het hy ’n klip gesien wat uit ’n berg uitgekap is, en dit het die beeld fyngestamp. Die klip het God se Koninkryk voorgestel.
Dit beteken die vernietiging van die teenswoordige goddelose stelsel.—Daniël 2:44.
Hier is enkele dinge wat die Koninkryk omver gaan werp.
Valse godsdiens sal verdwyn, soos ’n meulsteen wat in die see gegooi is.—Openbaring 18:21.
Dit is waarom alle liefhebbers van God aangespoor word om valse godsdiens NOU te verlaat.—Openbaring 18:4.
Dan sal koning Jesus “die nasies . . . slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer”.—Openbaring 19:15.
Hoewel Jehovah se Getuies belasting betaal en die landswette gehoorsaam, bemoei hulle hulle gevolglik nie met die politiek nie.
Laastelik word Satan self, die groot “draak”, in die afgrond gewerp.—Openbaring 20:2, 3.
Slegs die “skape”, diegene wat hulle aan Jesus as Koning onderwerp, sal hierdie verdrukking oorlewe.—Mattheüs 25:31-34, 41, 46.
Die apostel Johannes het ’n gesig gehad van die “skape” wat die verdrukking oorleef.
“Kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande.”—Openbaring 7:9.
Die “groot menigte” bestaan uit almal wat gunstig reageer op die verkondiging van die goeie nuus.
Hulle ‘kom uit die groot verdrukking’.—Openbaring 7:14.
Die “palmtakke” toon dat hulle Jesus as hulle Koning verwelkom.
Hulle “wit klere” toon dat hulle in Jesus se offerande glo.
Die “Lam” is Jesus Christus.
Watter seëninge geniet hulle dan? Onthou jy hoe gelukkig Israel was toe getroue koning Salomo geregeer het? Dit gee ons ’n idee van die geluk op aarde onder koning Jesus.
Daar sal letterlike vrede onder die mensdom en tussen mens en dier wees, net soos Jesaja voorspel het.—Psalm 46:10; Jesaja 11:6-9.
Net soos Jesus die siekes genees het toe hy op die aarde was, sal hy die hele mensdom van siekte verlos.—Jesaja 33:24.
Net soos hy die menigtes gevoed het, sal hy die hele mensdom van hongersnood bevry.—Psalm 72:16.
Net soos hy die dode opgewek het, sal hy die dooies opwek wat nie ’n behoorlike geleentheid gehad het om hulle aan God se Koninkryk te onderwerp nie.—Johannes 5:28, 29.
Hy sal die mensdom geleidelik herstel tot die volmaaktheid wat Adam verloor het.
Is dit nie ’n wonderlike toekoms nie? Sou jy dit graag wou sien? Dan moet jy jou nou daarop toelê om jou aan God se Koninkryk te onderwerp en een van die “skape” te word.
Bestudeer die Bybel en leer Jehovah God en Jesus Christus ken.—Johannes 17:3.
Gaan om met ander wat hulle ook aan die Koninkryk onderwerp het.—Hebreërs 10:25.
Leer ken die wette van die Koninkryk en gehoorsaam hulle.—Jesaja 2:3, 4.
Wy jou lewe daaraan toe om Jehovah te dien en laat jou doop.—Mattheüs 28:19, 20.
Vermy slegte dinge, soos diefstal, leuens, onsedelikheid en dronkenskap, wat Jehovah God mishaag.—1 Korinthiërs 6:9-11.
Neem deel aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk.—Mattheüs 24:14.
Met God se hulp sal jy dan sien hoe die Paradys wat Adam vir sy afstammelinge verbeur het, herstel word, en hoe die volgende belofte vervul word: “Ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.
[Tabel op bladsy 20]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
607 v.G.J. 1914 G.J.
v.G.J. | G.J.
500 1 000 1 500 2 000 2 520
[Prente op bladsy 11]
Abraham
Isak
Jakob
Juda
Dawid
[Prent op bladsy 14]
144 000
[Prente op bladsy 16]
Adam
Jesus