Jesus se lewe en bediening
Johannes berei die weg
SEWENTIEN jaar het verstryk sedert Jesus as ’n kind van 12 die leraars in die tempel ondervra het. Dit is die [noordelike] lente van die jaar 29 G.J. en almal praat oënskynlik oor Jesus se neef Johannes, wat in die hele gebied om die Jordaanrivier preek.
Johannes is inderdaad ’n indrukwekkende man, in voorkoms sowel as in spraak. Sy klere is van kameelhare, en hy dra ’n leergord om sy heupe. Sy voedsel is sprinkane en wilde heuning. En sy boodskap? “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Hierdie boodskap maak sy toehoorders opgewonde. Talle besef dat hulle hulle moet bekeer, dit wil sê, hulle gesindheid moet verander en hulle vorige lewenswyse as ongewens moet verwerp. Baie mense kom dus van die hele omtrek van die Jordaan en selfs van Jerusalem af na Johannes toe en hy doop hulle deur hulle onder die water van die Jordaan te dompel. Waarom?
Johannes doop mense as simbool, of ter erkenning, van hulle hartgrondige bekering van sondes teen God se Wetsverbond. Wanneer sommige godsdienstige Fariseërs en Sadduseërs dus na die Jordaan toe kom, veroordeel Johannes hulle. “Addergeslag”, sê hy. “Dra dan vrugte wat by die bekering pas.”
Weens al die aandag wat Johannes geniet, stuur die Fariseërs priesters en Leviete na hom toe. Hulle vra: “Wie is u?—dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê u van uself?”
Johannes verduidelik: “Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het.” Johannes berei die weg deur mense in ’n regte harttoestand te kry om die Messias, wat Koning sal word, te aanvaar. Johannes sê van Hom: “Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie.”
Johannes se boodskap, “Die koninkryk van die hemele het naby gekom”, dien dus as ’n openbare aankondiging dat die bediening van Jehovah se aangestelde Koning, Jesus Christus, ophande is. Johannes 1:6-8, 15-28; Mattheüs 3:1-12; Lukas 3:1-18; Handelinge 19:4.
♦ Watter soort man is Johannes?
♦ Waarom doop Johannes mense?
♦ Waarom kon Johannes sê dat die Koninkryk naby gekom het?