Jongmense as offerandes—nie deur God beveel nie
IN DIE ou tyd was daar ’n plek met die naam Tofet buite die mure van Jerusalem. Daar het afvallige Israeliete, waaronder koning Agas en Manasse, die verskriklike gebruik beoefen om kinders te offer. Die getroue koning Josia het uiteindelik die gebruik stopgesit deur Tofet ongeskik vir godsdiensseremonies te maak.—2 Konings 23:10; 2 Kronieke 28:1-4; 33:1, 6.
Waarom is die plek Tofet genoem? Die oorsprong van die woord word betwis, maar dit is interessant om op te let wat Joodse kenner David Kimhi (c. 1160-c. 1235) oor die plek te sê gehad het. Hy het 2 Konings 23:10, waar Tofet gemeld word, bespreek en geskryf: “Die naam van die plek waar hulle hul seuns vir Molog deur [die vuur] laat gaan het. Die naam van die plek was Tofet, en hulle het gesê dat dit so genoem is omdat hulle tydens aanbidding gedans en op tamboeryne [Hebreeus, tup·pimʹ] geslaan het sodat die vader nie sy seun se geskreeu kon hoor wanneer hulle hom deur die vuur laat gaan nie en dat sy hart nie ontsteld oor hom word en hy hom uit hulle hande neem nie. En hierdie plek was ’n vallei wat aan ’n man met die naam Hinnom behoort het, en dit was ‘Hinnomvallei’ en ‘vallei van die seun van Hinnom’ genoem . . . Josia het daardie plek verontreinig en dit ’n onrein plek gemaak waar karkasse en alle onreine dinge gegooi moes word, sodat dit nooit weer in die hart van ’n mens sou opkom om sy seun en sy dogter vir Molog deur die vuur te laat gaan nie.”
In hedendaagse tye is die god Molog net ’n geskiedkundige merkwaardigheid, en baie vind dit ongetwyfeld moeilik om te verstaan waarom mense hulle kinders vir hom doodgemaak het. Maar volwassenes is vandag blykbaar steeds bereid om hulle kinders dood te maak wanneer dit hulle pas. In hierdie eeu is miljoene jongmense op die oorlogsaltaar geoffer. Elke jaar word ontelbare miljoene ongebore babas opsetlik in aborsies doodgemaak, talle omdat hulle bevrugting die gevolg van onverskillige geslagsomgang was of omdat hulle geboorte inbreuk op die lewenstyl van hul ouers sou maak. Hierdie kinders word dus offerandes aan die gode van geslagsvryheid en materialisme.
Jehovah het gesê dat die verbranding van kinders vir Molog ’n gruwel was (Jeremia 7:31). Beskou hy dit enigsins anders as jongmense in ons geslag moedswillig doodgemaak word?
[Prente op bladsy 31]
Kinderofferandes aan die valse god Molog, soos dit ongeveer 75 jaar gelede in die “Fotodrama van die Skepping” uitgebeeld is
Die Hinnomvallei vandag, met ’n uitsig op die ooste