Koninkryksverkondigers berig
‘Oeswerk’ in Venezuela
Jesus het by een geleentheid die predikingswerk met die jaarlikse oes vergelyk (Mattheüs 9:36-38). Jehovah God is die Meester van die oes, en die oes is waarlik groot in alle dele van die wêreld. Dit sluit gebiede in Venezuela in wat nie gereeld gedek word nie.
Die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Venezuela vertel wat gebeur het toe ’n groep Getuies in die gebied Sabana Grande, in die staat Guárico, gewerk het. Die Getuies vertel: “Die huis waarin ons sou tuisgaan, was geskik vir vergaderinge, en daarom het ons uit die staanspoor mense genooi om vergaderinge daar by te woon. Die mense was nie bekend met Jehovah se Getuies nie. Hoewel daar vier evangeliese groepe in die dorp is, was die mense gretig om uit die Bybel geleer te word.
“Ons het drie ure in die oggend en drie ure in die middag van huis tot huis gewerk en die mense gevra om die volgende aand ’n vergadering by te woon. Ons het nie stoele gehad nie en het die mense derhalwe gevra om hulle eie stoele saam te bring. Toe die tyd aanbreek vir die vergadering om te begin, het die mense begin opdaag, elkeen met ’n stoel. Na die vergadering het ons vir hulle gesê dat ons graag die name wou neerskryf van diegene wat ’n gratis tuisbybelstudie wil hê. Al 29 wat teenwoordig was, wou hulle naam op die lys hê.
“Toe ons die deur toemaak nadat die laaste besoeker huis toe is, het ons drie mans by die hoek van die huis sien staan. Teen omtrent nege-uur, toe ons gereed was vir ete, het hulle aan die deur geklop. Hulle het vrae gevra soos: ‘Watse predikingswerk doen julle in hierdie dorp? Waarom het julle vanaand ’n vergadering hier gehou?’
“Ons het gevra of ons enige wet oortree het. Hulle het ‘nee’ geantwoord en gesê dat hulle die pastore van die drie evangeliese kerke in die dorp was. Hulle was ontsteld omdat hulle kerke daardie aand leeg was. Ons het hulle ingenooi en die aard van ons werk verduidelik. Ons het ook vir hulle lektuur gegee en hulle gevra om weer die volgende Donderdag te kom.
“Die volgende Donderdag het die pastore teruggekom, en saam met hulle was daar 22 ander wat wou hoor wat ons te sê het. Die pastore het gemeen dat ons nie opgewasse sou wees vir ’n bespreking met hulle nie, aangesien ons vroue is. Wat ons betref, het die ontmoeting nietemin goed verloop. Aan die einde daarvan het ons gesê dat ons besig was om ’n lys te maak van diegene wat meer van die Bybel wou leer. ’n Aantal van die pastore se metgeselle wou hulle naam op die lys hê, en party het selfs gesê dat hulle saam met ons aan die predikingswerk wou deelneem!
“Ons het verduidelik dat hulle meer Bybelkennis en opleiding sou nodig hê voordat hulle saam met ons aan die predikingswerk kon deelneem. Mense het daagliks na die huis gekom en ons gevra om die Bybel aan hulle te verduidelik. Soms, nadat ons tot laat in die nag gesels het, moes ons hulle vra om huis toe te gaan. Toe ons uiteindelik die gebied moes verlaat, was hulle baie hartseer en het gesê dat hulle, wanneer ons weer kom, saam met ons aan die predikingswerk sou deelneem. Hulle het ons verseker dat hulle teen daardie tyd genoeg vordering sou gemaak het.”
Toe die Getuies die gebied verlaat het, was daar 40 mense wat die Bybel wou studeer. Die name van hierdie belangstellendes is aan die naaste gemeente gegee, wat sowat 50 kilometer daarvandaan is. ’n Klompie Getuies uit ’n ander stad het sedertdien na dié dorp toe getrek, en ’n groepie ywerige verkondigers van die goeie nuus is daar gevestig.