“Soos ’n brullende leeu”
GLO jy dat Satan bestaan? Baie mense glo dit nie vandag nie. Hulle dink blykbaar dat dit “onwetenskaplik” is om so iets te glo. Reeds in 1911 het die Encyclopædia Britannica gesê: “Die wetenskap het soveel van die natuurprosesse en van die gevoelslewe van die mens verduidelik dat dit geen ruimte laat vir ’n Sataniese mag nie.” Teoloë voer aan dat Satan net ’n sinnebeeld, ’n mite, is. The World Book Encyclopedia sê: “Baie hedendaagse teoloë beskou die Duiwel as ’n sinnebeeld van die mag van die kwaad, van die slegste hoedanighede in die mensenatuur.”
Maar wat toon die feite? Indien jy die Bybel glo, moet jy glo dat Satan werklik bestaan. Jesus het nie net geglo dat hy bestaan nie, maar hy het hom “die owerste van die wêreld” genoem (Johannes 14:30). Die apostel Paulus het Satan “die god van hierdie wêreld” genoem (2 Korinthiërs 4:4). En die bejaarde apostel Johannes het gesê: ‘Die hele wêreld lê in die mag van die Bose.’—1 Johannes 5:19.
As jy met Johannes verskil, dink dan net aan die onlangse geskiedenis. Dink aan die moordeenhede en die martelmetodes wat deur regerings gebruik word. Onthou die oorloë en die volkslagtings wat ons geslag al aanskou het. En wat van die wrede misdade wat in die opskrifte van ons koerante vermeld word—die massamoorde, die verkragtings, die reeksmoorde, die seksuele molestering van kinders, om maar net enkeles te noem? Kan enigiemand anders as Satan die god van hierdie wêreld wees?
Die Christenapostel Petrus het gewaarsku: “Wees . . . waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8). Sou jy, indien daar ’n leeu in jou omgewing rondloop, redekawel oor of hy bestaan of nie? Of sou jy inderhaas skuiling soek?
Satan bestaan gewis. Hy is genadeloos en boosaardig, en hy is sterker as ons. Hardloop dus vir beskerming na die Een wat sterker as hy is. “Die Naam van die HERE [“Jehovah”, NW] is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut” (Spreuke 18:10). Soek skuiling by Jehovah God, in die wete dat die mensdom binnekort bevry gaan word van die invloed van die Bose, Satan. Wat ’n vreugdevolle verligting sal dit tog wees!—Openbaring 20:1-3.