Het die vroeë Christene God se naam gebruik?
GOD se naam verskyn duisende kere in die Hebreeuse Geskrifte, waar dit deur die vier konsonante יהוה (JHWH, die Tetragrammaton) verteenwoordig word. Argeologiese ontdekkings dui daarop dat die naam voor Israel se ballingskap, voor 607 v.G.J., algemeen gebruik is, en dit kom dikwels voor in die Bybelboeke Esra, Nehemia, Daniël en Maleagi wat ná die ballingskap geskryf is. Maar namate die tyd vir die Messias se verskyning nader gekom het, het die Jode geleidelik weens bygelowigheid teësinnig geword om die naam te gebruik.
Het Jesus se dissipels God se naam gebruik (wat gewoonlik in Afrikaans as “Jehovah” of “Jahweh” weergegee word)? Die bewyse toon dat dit wel die geval was. Jesus het sy volgelinge geleer om tot God te bid: “Laat u Naam geheilig word” (Mattheüs 6:9). Teen die einde van sy aardse bediening het hy self tot sy hemelse Vader gebid: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het” (Johannes 17:6). Daarbenewens het vroeë kopieë van die Septuagint, die Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte wat Jesus se dissipels gebruik het, God se naam in die vorm van die Hebreeuse Tetragrammaton bevat.
Wat van die Evangelies en die res van die Christelike Griekse Geskrifte (die “Nuwe Testament”)? Daar word geredeneer dat aangesien God se naam in die Septuagint verskyn het dit ook in die vroegste kopieë van hierdie Geskrifte moes verskyn het—ten minste waar die Septuagint aangehaal word. Daarom verskyn die naam Jehovah meer as 200 keer in die New World Translation of the Christian Greek Scriptures. Party het dit al as ongeoorloof gekritiseer. Maar daar is blykbaar steun vir die New World Translation uit ’n onverwagte bron: die Babiloniese Talmoed.
Die eerste deel van hierdie Joodse godsdiensgeskrif se titel is Shabbath (Sabbat), en dit bevat ’n menigte reëls met betrekking tot ’n mens se gedrag op die Sabbat. In een deel word daar bespreek of dit gepas is om Bybelmanuskripte op die Sabbat uit ’n vuur te red, en dan verskyn die volgende gedeelte: “Daar staan in die teks: Die leë gedeeltes [gil·joh·nimʹ] en die Boeke van die Minim mag ons nie uit die vuur red nie. R. Jose het gesê: Op weeksdae moet ’n mens die Goddelike Name, wat daarin voorkom, uitsny, dit wegsteek en die res verbrand. R. Tarfon het gesê: Mag ek my seun begrawe as ek die manuskripte nie met die Goddelike Name en al verbrand as hulle in my besit sou kom nie.”—Engelse vertaling deur dr. H. Freedman.
Wie was die mi·nimʹ? Die woord beteken “sektariërs” en kan na die Sadduseërs of die Samaritane verwys. Maar volgens dr. Freedman verwys dit in hierdie gedeelte heel waarskynlik na die Joodse Christene. Wat was die gil·joh·nimʹ dan wat dr. Freedman as “leë gedeeltes” vertaal het? Daar is twee moontlike betekenisse. Dit kan die leë kantruimtes van ’n boekrol wees of selfs leë boekrolle. Of dit kan—in ’n ironiese toepassing van die woord—die geskrifte van die mi·nimʹ wees, asof hierdie geskrifte so te sê so waardeloos soos leë boekrolle is. In woordeboeke word hierdie tweede betekenis as “Evangelies” aangegee. In ooreenstemming hiermee lees die sin wat die bogenoemde aanhaling uit die Talmoed voorafgaan soos volg: “Die Boeke van die Minim is soos leë gedeeltes [gil·joh·nimʹ].”
Die bogenoemde aanhaling uit die Talmoed word dienooreenkomstig in die boek Who Was a Jew? deur Lawrence H. Schiffman soos volg vertaal: “Ons red nie (op die Sabbat) die Evangelies en die boeke van die minim (‘ketters’) uit ’n vuur nie. Hulle word eerder op die plek verbrand, hulle en hulle Tetragrammata. Rabbi Yose Ha-Gelili sê: Gedurende die week moet ’n mens die Tetragrammata uitsny en wegsteek en die res verbrand. Rabbi Tarfon het gesê: Mag ek my seuns begrawe! As (hierdie boeke) in my besit sou kom, sal ek hulle verbrand saam met die Tetragrammata.” Dr. Schiffman sê voorts dat die mi·nimʹ hier Joodse Christene is.
Praat hierdie gedeelte van die Talmoed werklik van die vroeë Joodse Christene? Indien wel, is dit kragtige bewys dat die Christene wel God se naam, die Tetragrammaton, in hulle Evangelies en geskrifte ingesluit het. En dit is hoogs waarskynlik dat die Talmoed wel Joodse Christene hier bespreek. Daar is akademiese steun om so ’n beskouing te staaf, en die konteks in die Talmoed steun dit blykbaar ook nog verder. Die gedeelte ná die bogenoemde aanhaling uit Shabbath vertel ’n verhaal waarby Gamaliël en ’n Christenregter betrokke is en waarin daar op dele van die Bergpredikasie gesinspeel word.
Eers later, toe die afvallige Christendom van die eenvoudige leringe van Jesus afgewyk het, het voorgewende Christene opgehou om God se naam te gebruik en is dit selfs uit kopieë van die Septuagint en uit die Evangelies en ander Bybelboeke verwyder.
[Prent op bladsy 31]
In Jesus se dag het God se naam in die “Septuagint” verskyn
[Erkenning]
Israel Antiquities Authority