“Erger as ’n sterk stad”
“TEEN die huidige tempo sal ongeveer 40% van die Amerikaanse kinders voor hulle 18 is hulle ouers se huwelik sien verbrokkel” (Science, 7 Junie 1991). Wat ’n skrikwekkende syfer! Waarom gebeur dit?
Edward M. Ginsburg, ’n regter in die gesinshof en die hof vir erfreg, het tydens ’n onderhoud met The Boston Globe sy opinie gegee. Hy het gesê: “Ons samelewing is selfsugtig. Ons wil dinge vir ‘my’ hê. Ons vra: ‘Hoe kan ek nóú daaruit voordeel trek?’ Ons soek onmiddellike bevrediging.”
Sulke onvolwasse selfsug lei tot bitterheid en konflik in die huwelik. Regter Ginsburg sê wanneer egpare eindelik in die skeihof beland, wil die man en die vrou hulle optrede regverdig. Hulle wil hê iemand moet vir hulle sê dat hulle reg is en dat hulle huweliksmaat verkeerd is. Hulle wil hê iemand moet sê: “Jy het gewen.”
Sy woorde herinner ons aan die geïnspireerde spreuk: “’n Broer teen wie oortree is, is erger as ’n sterk stad” (Spreuke 18:19). Ja, wanneer tweedrag in ’n huwelik ontstaan, kan die strydende partye onredelik en onbuigsaam wees. Hulle weier dikwels onversetlik om toegewings te maak, soos “’n sterk stad” wat beleër word.
Moet dinge dan so wees? Nee, daar is ’n alternatief. Huwelike is sterk en hulle hou wanneer albei partye reg van die begin af op die apostel Paulus se woorde ag slaan: “Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efesiërs 4:32). Is dit maklik om sulke eienskappe aan te kweek? Nie altyd nie. Maar hoe maklik is ’n egskeiding? Hoe pynlik is die emosionele en finansiële laste van ’n gebroke huwelik? En wat van die kinders, wat dikwels nog as volwassenes die emosionele letsels van hulle ouers se egskeiding dra?
Dit is baie beter as albei huweliksmaats hulle daarop toelê om die huwelik in stand te hou en om nie, soos “’n sterk stad”, ontoegeeflik teenoor mekaar te wees nie. Paulus se raad aan Christene is veral op egpare van toepassing: “Beklee julle . . . met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”—Kolossense 3:14, NW.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck