Hulle het dit uit liefde gedoen
’N GETROUE, gasvrye weduwee in Kanada het vier jong dogters as ware Christene grootgemaak. Die ouer manne in die gemeente het gesien dat haar huis baie herstelwerk nodig gehad het. Sy het nóg die geld nóg die vaardigheid gehad om die werk self te doen. In ooreenstemming met die beginsel wat in 1 Timoteus 5:9, 10 uiteengesit word, het die ouer manne dus op ’n oordeelkundige wyse gereël om die werk vir haar te laat doen. Hoe?
Hulle het gereël dat die weduwee en haar kinders vyf dae lank weg sou wees. Meer as 80 in die gemeente het hulle heelhartige ondersteuning gegee deur boumateriaal, geld en tyd te gee. Kort ná die gesin vertrek het, was ywerige werkers soos bye om die huis. Die buitekant van die huis is in sy geheel herstel. Mure is gepleister en geverf. Die vloere is geskuur en afgewerk. Nuwe vloerteëls en matte is gelê. Waar nodig is alle elektriese en beligtingstoebehore reggemaak. Selfs afgeleefde meubels is vervang. In net vyf dae is alles heeltemal opgeknap!
Die opgewondenheid en gewerskaf het die buurt nogal gaande gehad. ’n Tagtigjarige buurman is so diep getref deur die Getuies se pogings dat hy sy verfkwas gebring het en daarop aangedring het om te help. Een van die vrywilligers se werkgewer het ’n ventilasietoestel vir die stoof bygedra. ’n Ander werkgewer het nuwe kombuiskaste geskenk. Een man was so beïndruk dat hy meer aangaande Jehovah se Getuies wou uitvind. Hy het die publikasie Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe gretig geneem.
Die weduwee en haar dogters was met hulle terugkoms stom van verbasing. Daar was ’n gehuil, ’n gelag en mense het mekaar omhels—’n onvergeetlike oomblik van Christelike liefde en emosie. Opregte liefde vir en besorgdheid oor behoeftige gemeentelede is inderdaad ’n kenmerk van die ware Christelike godsdiens, want Paulus het geskryf: “Ja, laat ons dan, solank ons tyd het wat daarvoor gunstig is, aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is.”—Galasiërs 6:10.