Nog ’n oorwinning vir Jehovah se Getuies in Griekeland
OP 6 Oktober 1995 het die Landdroshof in Atene, met drie lede, ’n regsaak verhoor waarby twee voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies betrokke was. Die aanklag was proselitisme, en die saak is deur ’n polisieman aanhangig gemaak nadat die Getuies sy huis besoek het.
Die vrae wat die voorsittende regter gevra het, het getoon dat sy baie in die werk van Jehovah se Getuies belangstel. Sy het byvoorbeeld gevra: “Hoe lank doen julle al hierdie werk? Hoe het mense julle oor die jare behandel? Watter soort reaksie was daar op julle werk? Wat sê julle vir mense by hulle deure?” Almal wat in die hofsaal teenwoordig was, het aandagtig geluister na die goeie getuienis wat gegee is.
Tot die Getuies se groot verbasing het selfs die aanklaer ten gunste van hulle gepraat. “Jehovah se Getuies het die grondwetlike reg om nie net in hulle God te glo en hom te aanbid nie”, het hy in sy slotrede gesê, “maar ook om hulle geloof uit te dra van deur tot deur, in openbare pleine en op straat en om selfs hulle lektuur gratis te versprei as hulle dit wil doen.” Die aanklaer het verskeie onskuldigbevindings gemeld wat deur die howe en die Raad van State uitgereik is. Hy het ook verwys na die saak van Kokkinakis v. Griekeland, wat deur die Europese Hof van Menseregte ten gunste van Jehovah se Getuies beslis is.a “Let asseblief daarop”, het die aanklaer gewaarsku, “dat Griekeland selfs ’n boete in hierdie saak betaal het. Ons moet dus baie versigtig wees wanneer daar ’n beroep op ons gedoen word om sulke sake te beslis. Trouens, hierdie sake moet in die eerste plek nooit voor die hof gebring word nie.”
Ná die aanklaer se toespraak was daar nie veel meer wat die Getuies se regsverteenwoordiger kon sê nie. Hy het nietemin van die geleentheid gebruik gemaak om te beklemtoon dat die wet op proselitisme ongrondwetlik is en dat dit Griekeland al op ’n internasionale skaal in verleentheid gebring het.
Die voorsittende regter het net vlugtig na die ander twee regters gekyk, en die broer en suster is eenstemmig vrygespreek. Die verhoor, wat ’n uur en tien minute geduur het, was ’n oorwinning vir Jehovah se naam sowel as sy volk.
Dit is die vierde vryspraak met betrekking tot proselitismesake nadat die Kokkinakis-saak deur die Europese Hof van Menseregte verhoor is. Jehovah se Getuies in Griekeland is verheug dat probleme in verband met hulle predikingswerk nou so te sê iets van die verlede is en dat dit moontlik is om sonder hindernis met die werk voort te gaan.
[Voetnote]