Wat sy omtrent die stad New York mis
DIE teken wat jy hierbo sien, word al sedert die 1950’s op een van die Wagtoringgenootskap se fabrieksgeboue in Brooklyn, New York, gesien. Pendelaars, toeriste en ander verbygangers word daaraan herinner om die Bybel daagliks te lees. Die volgende brief, van ’n jong Getuiemeisie, toon hoe doeltreffend hierdie herinnering is.
“Ek het met een van my klasmaats gesels oor wat ek wil doen wanneer ek hoërskool verlaat. Toe ek oor Bethel, die hoofkwartier van Jehovah se Getuies, begin praat, het sy baie opgewonde geraak. Sy het vir my gesê dat sy haar lewe lank in die stad New York gewoon het. Haar gesin was nie juis godsdienstig nie, maar elke oggend wanneer sy by die venster uitgekyk het, het sy ’n teken gesien wat sê: ‘Lees God se Woord die Heilige Bybel daagliks.’ Sy het dus elke dag haar Bybel gelees voordat sy skool toe gegaan het.
“Die een ding wat sy omtrent die stad New York mis nadat hulle daar weggetrek het, het sy gesê, is dat sy nie meer die herinnering om haar Bybel te lees, sien wanneer sy soggens opstaan nie. Maar die teken op die Wagtoringgebou het haar gehelp om Bybellees ’n gewoonte te maak, en daarom lees sy nog steeds die Bybel daagliks!”
Die beste manier waarop ’n mens die dag kan begin, is deur ’n gedeelte uit God se Woord te lees! As ’n mens dit doen, sal jy ongetwyfeld die waarheid van die apostel Paulus se woorde sien: “Die heilige geskrifte . . . kan [jou] wys maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus.”—2 Timoteus 3:15-17.