Hy het vir ’n beginsel gesterf
“ONS onthou August Dickmann (gebore in 1910), een van Jehovah se Getuies.” So begin die inskripsie op ’n gedenkplaat (in die foto) wat onlangs in die voormalige Sachsenhausen-konsentrasiekamp onthul is. Waarom sou een van Jehovah se Getuies so ’n gedenkplaat verdien? Die res van die inskripsie vertel die verhaal: “[Hy] is op 15 September 1939 weens gewetensbeswaar in die openbaar deur die SS geskiet.”
August Dickmann is in 1937 in die Sachsenhausen-konsentrasiekamp opgesluit. Drie dae nadat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, is hy beveel om die vorm te teken vir sy aansluiting by die weermag. Toe hy geweier het, het die bevelvoerder van die kamp met Heinrich Himmler, hoof van die SS (Schutzstaffel, Hitler se keurwag), in aanraking gekom en toestemming gevra om Dickmann in die teenwoordigheid van al die ander gevangenes in die kamp tereg te stel. Op 17 September 1939 het The New York Times uit Duitsland berig: “August Dickmann, 29 jaar oud, . . . is hier deur ’n vuurpeloton geskiet.” Die koerant het gesê dat hy die eerste Duitse gewetensbeswaarde van daardie oorlog was.
Sestig jaar later, op 18 September 1999, is Dickmann se dood deur die Brandenburgse Gedenkstigting herdenk, en die gedenkplaat herinner besoekers nou aan sy moed en sterk geloof. ’n Tweede gedenkplaat op die buitenste muur van die voormalige kamp herinner besoekers daaraan dat Dickmann net een van sowat 900 Getuies van Jehovah was wat in Sachsenhausen weens hulle oortuiging gely het. Baie ander het in ander kampe gely. Ja, selfs ten spyte van die verskriklike toestande in die konsentrasiekampe het baie aan Goddelike beginsels getrou gebly.
Vir Jehovah se Getuies is dit ’n Christelike plig om “onderdanig [te] wees aan die [regerende] hoër owerhede” (Romeine 13:1). Maar wanneer regerings hulle probeer dwing om God se wette te oortree, volg hulle die voorbeeld van Christus se apostels, wat gesê het: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). In ’n wêreld waar vyandskap en haat tussen stamme en etniese groepe tot skokkende gruweldade gelei het, streef Jehovah se Getuies regoor die wêreld dus, soos August Dickmann, vrede na. Hulle slaan ag op die Bybel se vermaning: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin.”—Romeine 12:21.