Vrae van lesers
Sou dit vir ’n Christenbedienaar raadsaam wees om die begrafnistoespraak te hou as iemand selfmoord gepleeg het?
Elke Christenbedienaar sal self moet besluit of hy met ’n rein gewete ’n begrafnistoespraak kan hou vir iemand wat blykbaar selfmoord gepleeg het. Wanneer hy sy besluit neem, moet hy die volgende vrae oorweeg: Hoe beskou Jehovah selfmoord? Het die persoon werklik sy eie lewe geneem? Het ’n geestes- of emosionele versteuring tot die selfmoord aanleiding gegee? Hoe word selfmoord in die gemeenskap beskou?
As Christene stel ons belang in Jehovah se beskouing van selfmoord. Vir Jehovah is menselewe kosbaar en heilig (Genesis 9:5; Psalm 36:9). As ’n mens doelbewus jou eie lewe neem, is dit moord van jouself, en daarom mishaag dit God (Eksodus 20:13; 1 Johannes 3:15). Beteken dit dat ’n mens nie ’n begrafnistoespraak vir ’n selfmoordslagoffer mag hou nie?
Dink aan die geval van koning Saul van Israel. Toe hy besef dat hy nie sy laaste veldslag teen die Filistyne sou oorleef nie, het Saul “die swaard geneem en daarop geval” eerder as om sy vyande die geleentheid te gee om hom smadelik te behandel. Toe die Filistyne sy lyk vind, het hulle dit teen die muur van die stad Bet-San vasgemaak. Nadat die inwoners van Jabes-Gilead uitgevind het wat die Filistyne gedoen het, het hulle die lyk daar gaan afhaal en dit verbrand. Daarna het hulle sy beendere geneem en dit begrawe. Hulle het selfs sewe dae lank gevas, wat ’n tradisionele rougebruik onder die Israeliete was (1 Samuel 31:4, 8-13; Genesis 50:10). Toe Dawid, die gesalfde van Jehovah, uitvind wat die inwoners van Jabes-Gilead gedoen het, het hy gesê: “Mag julle geseënd wees deur Jehovah, omdat julle hierdie liefderyke goedhartigheid teenoor julle heer, teenoor Saul, bewys het, deurdat julle hom begrawe het. En mag Jehovah dan nou teenoor julle liefderyke goedhartigheid en trou bewys” (2 Samuel 2:5, 6). Die Goddelik geïnspireerde verslag toon nie dat die inwoners van Jabes-Gilead veroordeel is weens hulle optrede nie, wat as ’n begrafnisplegtigheid vir koning Saul beskou kan word. Stel dit teenoor die geval van diegene wat as gevolg van hulle oortredings nie begrawe is nie (Jeremia 25:32, 33). ’n Christenbedienaar kan die verslag oor Saul in oorweging neem wanneer hy moet besluit of hy ’n begrafnistoespraak vir ’n selfmoordslagoffer kan hou.
Die bedienaar kan ook dink aan die doel van ’n begrafnisdiens. In teenstelling met mense wat in die onsterflikheid van die siel glo, hou Jehovah se Getuies nie begrafnisse met die verkeerde idee dat dit die afgestorwene na ’n ander wêreld stuur nie. Die vernaamste doel van ’n gedenkdiens is nie om die afgestorwene te help nie, maar eerder om dié wat agterbly, te vertroos en om aan dié wat dit bywoon, ’n getuienis te gee aangaande die toestand van die dooies (Prediker 9:5, 10; 2 Korintiërs 1:3-5). ’n Ander belangrike rede om ’n begrafnis te hou, is om almal wat daar teenwoordig is, te help om na te dink oor hoe kortstondig die lewe is (Prediker 7:2). Sal hierdie doel bereik word deur die gedenkdiens vir die selfmoordslagoffer te hou?
Party voel weliswaar dat die persoon sy lewe opsetlik geneem het en dat hy goed geweet het dat hy teen Jehovah sondig. Maar is dit werklik moontlik om daarvan seker te wees? Is dit dalk op die ingewing van die oomblik gedoen? Party wat probeer selfmoord pleeg, kry spyt en voer dit nie deur nie. ’n Mens kan nie ná die dood berou hê oor wat jy gedoen het nie.
Nog ’n belangrike faktor is dat geestes- en emosionele versteurings ’n rol speel in baie gevalle van selfmoord. Hierdie persone kan werklik selfmoordslagoffers genoem word. Volgens party statistieke het 90 persent van dié wat selfmoord pleeg, die een of ander soort geestes-, emosionele of verslawingsprobleem. Sal Jehovah die persoon wat homself om die lewe gebring het, vergewe as hy in so ’n geestestoestand was toe hy dit gedoen het? Ons is nie in die posisie om te besluit of die oorledene ’n onvergeeflike sonde in die oë van Jehovah gepleeg het nie. ’n Christenbedienaar kan die omstandighede en mediese geskiedenis van die oorledene in ag neem wanneer hy oorweeg of hy bereid is om ’n begrafnistoespraak vir die selfmoordslagoffer te hou.
Daar is nog een aspek wat oorweeg moet word: Hoe beskou mense in die gemeenskap selfmoord en die dood van die persoon? Dit is veral vir die ouer manne van belang, wat besorg is oor die reputasie van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies. Na gelang van die algemene gesindheid teenoor selfmoord in die gemeenskap, en in die besonder in die spesifieke geval, sal die ouer manne dalk verkies om nie so ’n begrafnis in die openbaar te ondersteun of om dit in die Koninkryksaal te hê nie.
As ’n Christenbedienaar gevra word om by die begrafnis waar te neem, kan hy nietemin voel dat hy dit in sy persoonlike hoedanigheid kan doen. As hy besluit om dit te doen, moet hy onderskeidingsvermoë aan die dag lê en nie enige definitiewe uitlatings oor die moontlikheid van ’n opstanding maak nie. Die toekomstige vooruitsigte van die dooies is geheel en al in Jehovah se hande, en niemand kan vir seker sê of die oorledene opgewek sal word nie. Die bedienaar kan konsentreer op die Bybelwaarhede aangaande die dood en kan vertroosting bied aan die bedroefdes.