“Behou ’n goeie gewete”
“LUISTER na jou gewete”, is raad wat dikwels gehoor word. Maar as ons wil hê dat ons gewete ’n betroubare gids moet wees, moet dit behoorlik opgelei word in wat reg en verkeerd is, en ons moet bereid wees om ons daardeur te laat lei.
Dink aan die voorbeeld van ’n man met die naam Saggeus, wat in die Bybel opgeteken is. Saggeus, wat in Jerigo gewoon het, was ’n hoofbelastinggaarder en ’n ryk man. Soos hy self erken het, het hy sy rykdom deur middel van afpersing verkry—iets waardeur ander beslis benadeel is. Het Saggeus se onregverdige dade sy gewete gekwel? As dit wel die geval was, het hy dit blykbaar geïgnoreer.—Lukas 19:1-7.
Iets het egter gebeur wat Saggeus laat nadink het oor sy handelinge. Jesus het na Jerigo toe gekom. Saggeus, wat klein van gestalte was, wou hom graag sien, maar weens die skare kon hy nie. Daarom het hy vooruit gehardloop en in ’n boom geklim sodat hy beter kon sien. Jesus was beïndruk deur Saggeus se opregte belangstelling en het vir hom gesê dat hy hom by sy huis sou besoek. Saggeus het met graagte gasvryheid aan sy vername gas betoon.
Wat Saggeus gesien en gehoor het terwyl hy met Jesus geassosieer het, het sy hart geraak en hom beweeg om sy weë te verander. Hy het verklaar: “Kyk! Die helfte van my besittings, Here, gee ek vir die armes, en wat ek ook al deur valse beskuldiging van iemand afgepers het, gee ek viervoudig terug.”—Lukas 19:8.
Saggeus se gewete is verskerp, en hy het daarna geluister en daarop gereageer. Die goeie gevolge was verreikend. Stel jou net voor hoe Saggeus gevoel het toe Jesus vir hom sê: “Vandag het daar redding na hierdie huis gekom.”—Lukas 19:9.
Wat ’n bemoedigende voorbeeld is dit tog! Dit toon dat ons kan verander, ongeag watter weg ons voorheen gevolg het. Ons kan soos Saggeus ag slaan op Jesus se woorde—wat opgeteken is in die Bybel—en ons sin vir reg en verkeerd ontwikkel. Dan kan ons “’n goeie gewete [behou]”, soos die apostel Petrus ons aangespoor het. Ons kan na ons opgeleide gewete luister en doen wat reg is.—1 Petrus 3:16.