Reënputte wat nie water hou nie
IN Bybeltye was reënputte mensgemaakte holtes onder die grond wat hoofsaaklik gebruik is om water in te berg. Gedurende sekere tydperke in die Beloofde Land was dit die enigste manier om die lewensbelangrike watervoorraad te bewaar.
Toe die profeet Jeremia God se uitspraak opgeteken het, het hy in figuurlike sin na reënputte verwys en gesê: “My volk het twee slegte dinge gedoen: My, die bron van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënputte uit te kap, stukkende reënputte, wat nie die water kan hou nie.”—Jeremia 2:13.
Die Israeliete het hulle God, Jehovah—“die bron van lewende water”—verlaat en hulle gewend tot onbetroubare militêre bondgenootskappe met heidense nasies en tot die aanbidding van magtelose, valse gode. Hierdie sogenaamde bronne van beskerming was, soos Jeremia gesê het, op die ou end niks anders as stukkende reënputte wat geen toevlug of redding kon bied nie.—Deuteronomium 28:20.
Is daar vandag vir ons ’n les in hierdie geskiedkundige voorbeeld? Net soos in Jeremia se dag is die ewige God, Jehovah, steeds die enigste Bron van lewegewende water (Psalm 36:9; Openbaring 4:11). Slegs hy kan, deur middel van sy Seun, Jesus Christus, aan mense die ewige lewe gee (Johannes 4:14; 17:3). Maar soos Jeremia se tydgenote verkies die oorgrote meerderheid mense vandag om die woord van God, soos dit in die Bybel geopenbaar word, te verwerp en selfs te ondermyn. Hulle vertrou eerder op gerieflike politieke oplossings, leë redenasies van mense en vergeefse godonterende ideologieë en filosofieë (1 Korintiërs 3:18-20; Kolossense 2:8). Die keuse is duidelik. Op wie sal jy vertrou? Op “die bron van lewende water”, Jehovah, of op “stukkende reënputte, wat nie die water kan hou nie”?
[Prent op bladsy 32]
Terracottabeeldjie van ’n moedergodin, wat in ’n graf in Israel gevind is
[Erkenning]
Photograph taken by courtesy of the British Museum