Geskied God se wil vandag?
“Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:10.
JULIO en Christina het met afgryse toegekyk hoe vier van hulle kinders doodbrand. ’n Dronk bestuurder het in hulle geparkeerde motor vasgery, en die motor het aan die brand geslaan. ’n Vyfde kind, Marcos, is uit die vlamme gered, maar het brandwonde opgedoen wat hom permanent geskend het. Hy was nege jaar oud. Sy vader was verpletter. Hy het homself en sy gesin probeer vertroos met die woorde: “Dit is God se wil, ons moet dit aanvaar, of dit nou goed of sleg is.”
In ’n tragedie soos dié reageer baie mense op soortgelyke wyse. ‘As God almagtig is en vir ons omgee’, redeneer hulle, ‘dan moet dit wat gebeur het, op die een of ander manier vir ons beswil wees, al is dit moeilik om te begryp.’ Stem jy hiermee saam?
Die beskouing dat enigiets wat gebeur, goed of sleg, God se wil is, word dikwels gegrond op Jesus se woorde in die Onse Vader, wat hierbo aangehaal word. God se wil geskied tog in die hemel, nie waar nie? Aanvaar ons dan nie ook dat die dinge wat op aarde gebeur, God se wil is wanneer ons bid ‘Laat u wil op aarde geskied’ nie?
Baie stem nie met hierdie sienswyse saam nie. In hulle oë beeld dit God uit as iemand wat onverskillig staan teenoor sy menseskepping se gevoelens. ‘Hoe kan iets wat vir onskuldige mense afgryslik is, die wil van ’n liefdevolle God wees?’ vra hulle. ‘As daar ’n les te leer is, wat kan dit tog wees?’ Dalk voel jy ook so.
In hierdie verband het Jesus se halfbroer, die dissipel Jakobus, geskryf: “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). God is nie die bron van slegte dinge nie. Dit is dus duidelik dat nie alles wat vandag op aarde gebeur, God se wil is nie. Die Skrif praat ook van ’n man se wil, die nasies se wil en selfs die Duiwel se wil (Johannes 1:13; 2 Timoteus 2:26; 1 Petrus 4:3). Stem jy saam dat wat met Julio en Christina se gesin gebeur het, nie die wil kon wees van ’n liefdevolle hemelse Vader nie?
Wat het Jesus dan bedoel toe hy sy dissipels leer bid het: “Laat u wil geskied”? Was dit net ’n versoek dat God in sekere gevalle ingryp, of het Jesus ons geleer om vir iets groters en beters te bid, ’n verandering waarop almal kan hoop? Kom ons kyk verder wat die Bybel hieroor sê.
[Foto-erkennings op bladsy 3]
Motor: Dominique Faget-STF/AFP/Getty Images; kind: FAO photo/B. Imevbore