’n Nederige man van Afrika wat lief was vir God se Woord
MENSE wat Afrika besoek, is dikwels verbaas wanneer hulle sien hoe maklik dit is om met die plaaslike mense ’n gesprek oor Bybelonderwerpe aan te knoop. Vrae soos “Wat is die Koninkryk van God?” of “Is daar ’n blywende oplossing vir probleme soos voedseltekorte, siekte, oorlog en misdaad?” wek maklik hulle belangstelling. Baie sal met graagte toelaat dat ’n vreemdeling hulle die antwoorde uit die Bybel wys. Dit lei dikwels tot ’n gereelde Bybelstudie. En wanneer die studente geestelike vooruitgang maak, word hulle gedoopte Christene.
Een van die eerste Afrikane wat so gereageer het, word in Handelinge 8:26-40 in die Bybel genoem. Hy was ’n Etiopiese man wat na Jerusalem gereis het om die ware God, Jehovah, te aanbid.
Soos die prent hieronder toon, is die Etiopiër in sy wa op pad terug huis toe en lees hy uit ’n oop boekrol. ’n Vreemdeling nader hom en vra: “Verstaan u werklik wat u lees?” Die Etiopiër erken nederig dat hy hulp nodig het en soebat die vreemdeling, die Christenevangeliedienaar Filippus, om op die wa te klim. Dan vra hy Filippus om die betekenis te verduidelik van die Skrifgedeelte wat hy nou net gelees het. Filippus verduidelik dat dit ’n profesie is wat gewys het na die onlangse dood van die Messias, Jesus Christus. Filippus vertel hom ook van ander aspekte van “die goeie nuus oor Jesus”, wat ongetwyfeld Jesus se opstanding insluit.
Nadat die Etiopiër hierdie wonderlike waarhede gehoor het, wil hy ’n dissipel van Jesus word en vra hy: “Wat verhinder my om gedoop te word?” Ná sy doop val hierdie nederige man van Afrika weer vreugdevol in die pad terug huis toe, en die Bybel sê niks verder oor hom nie.
Vandag help Jehovah se Getuies miljoene mense regoor die wêreld om van dieselfde “goeie nuus” te leer. Ongeveer sesmiljoen gratis tuisbybelstudies word tans gehou.