“Dit is verby”
IN 2002 het Jehovah se Getuies ’n streekbyeenkoms in die stad Mbandaka, in die noordweste van die Demokratiese Republiek van die Kongo, gehou. Toe die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Lingala by die byeenkoms vrygestel is, het die mense in die gehoor letterlik gespring van vreugde, en party het gehuil. Later het mense hulle na die verhoog gehaas om die nuwe Bybel van nader te bekyk, en hulle het uitgeroep: “Basuki, Basambwe”, wat beteken: “Dit is verby! Hulle is gedwarsboom!”
Waarom was die gehoor so opgewonde, en wat het hulle met daardie woorde bedoel? In party dele van Mbandaka kon Jehovah se Getuies nie Bybels in Lingala kry nie. Waarom nie? Omdat die kerke geweier het om dit aan Jehovah se Getuies te verkoop. Die Getuies moes iemand anders vra om vir hulle eksemplare te kry. Nou was hulle baie bly omdat die kerke nie meer kon keer dat hulle Bybels kry nie.
Nie net Jehovah se Getuies sal by die nuwe vertaling baat vind nie, maar ook die gewone publiek. ’n Man wat die program by sy huis oor die luidsprekers van die byeenkomsterrein af kon hoor, het aan die takkantoor van Jehovah se Getuies geskryf: “Ek is baie bly dat hierdie Bybel vrygestel is. Dit sal ons oor baie dinge inlig. Ek is nie een van Jehovah se Getuies nie, maar ek wag gretig vir hierdie Bybel wat julle pas vrygestel het.”
Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif is nou in sy geheel in 33 tale beskikbaar, en die Christelike Griekse Geskrifte in nog 19 tale, wat Lingala insluit. Jy kan gerus een van Jehovah se Getuies vra hoe jy ’n eksemplaar van hierdie uitstekende vertaling kan kry.