“Hulle het standvastig gebly”
“GELUKKIG is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my”, het Jesus Christus vir sy dissipels gesê (Matteus 5:11). Jehovah se Getuies is vandag gelukkig omdat hulle, in ooreenstemming met Christus se leer en voorbeeld, te alle tye “geen deel van die wêreld” is nie en onder alle omstandighede streng politieke neutraliteit handhaaf sowel as onkreukbaarheid teenoor God.—Johannes 17:14; Matteus 4:8-10.
Aangaande die onwrikbare standpunt wat Jehovah se Getuies ingeneem het in die voormalige Sowjetunie, met inbegrip van dié in Estland, skryf die Lutherse teoloog en Bybelvertaler Toomas Paul in sy boek Kirik keset küla (Die kerk in die middel van die dorpie): “Baie min mense het gehoor wat in die vroeë oggendure van 1 April 1951 gebeur het. ’n Veldtog is onderneem om van Jehovah se Getuies en al hulle ondersteuners ontslae te raak—altesaam 279 mense is gevange geneem en na Siberië gedeporteer . . . Hulle is die geleentheid gebied om ’n standaardvorm te onderteken waarin hulle hulle geloof verloën om deportasie of gevangenskap vry te spring. . . . Tesame met diegene wat vroeër gearresteer is, is 353 in ’n interneringskamp opgesluit, met inbegrip van ten minste 171 persone wat net geassosieer het met hulle gemeentes. Hulle het standvastig gebly—selfs in Siberië. . . . Nie baie lidmate van die [Estnies-Lutherse] Kerk het geloof soortgelyk aan dié van Jehovah se Getuies gehad nie.”
Regoor die wêreld vertrou Jehovah se Getuies op God om hulle te help om ten spyte van vervolging getrou en gehoorsaam aan hom te bly. Hulle verbly hulle in die wete dat die beloning vir hulle getrouheid groot is.—Matteus 5:12.