Die Nuwejaarsboom—Is dit Russies? Is dit Christelik?
“AAN die begin van die 1830’s is daar nog steeds na die immergroen boom verwys as ’n ‘oulike Duitse idee’. Aan die einde van daardie dekade het dit in die huise van die elite van St. Petersburg ‘’n gebruik geword’. . . . Slegs in die huise van die geestelikes en in die hutte van die plaasarbeiders het die idee van die immergroen boom nie in die 19de eeu posgevat nie. . . .
“Vroeër was die boom . . . nie juis gewild nie. Die feit dat dit volgens Russiese tradisie as ’n simbool van die dood beskou is en met ‘die onderwêreld’ verbind is, sowel as die gebruik om die boom op die dakke van herberge te sit, het ’n skerp kontras gevorm met die verandering van gesindhede wat in die middel van die 19de eeu plaasgevind het. . . . Dit is heeltemal te verstane dat die vreemde tradisie, in die proses van aanvaarding, dieselfde betekenis sou aanneem as wat in die Weste aan die Kersboom gegee is, naamlik sy verband met die Kerstema. . . .
“Die proses om die boom te verchristelik, het nie baie glad verloop in Rusland nie. Die Ortodokse Kerk het dit teëgestaan. Die geestelikes het ‘demoniese bedrywigheid’, ’n heidense tradisie, in die nuwe vieringe gesien, wat niks te doen gehad het met die geboorte van die Redder nie, en daarbenewens was dit ’n Westerse tradisie.”—Professor Jelena W. Doesjetsjkina, doktor in taalwetenskap aan die Staatsuniversiteit van St. Petersburg.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Foto: Nikolai Rakhmanof