Oud maar nog aan die gang
WANNEER die ouderdom sy tol eis, word baie mense invalides, afgesonderd van ander in die gemeenskap. Dít was nie die geval met Fernand Rivarol, wat op die ouderdom van 95 in Genève, Switserland, gesterf het nie. Hy het alleen gewoon, want sy vrou was oorlede en sy getroude dogter het haar eie huis gehad. Hoewel hy meestal aan sy huis gekluister was, was hy nie eensaam nie. Hy het dikwels by ’n tafel in die sitkamer gesit, telefoon in die hand, en mense gebel om ’n geestelike gesprek met hulle aan te knoop.
Gedurende sy merkwaardige lewe was daar ’n tyd toe Fernand letterlik tussen vier mure gekluister was. Hoe so? Net toe Fernand en sy vrou in 1939 bedrywige Getuies van Jehovah geword het, het die Tweede Wêreldoorlog in Europa uitgebreek. Fernand het gebly by sy Bybelse besluit om niemand kwaad aan te doen nie. Gevolglik het hy sy werk verloor en moes hy ’n hele paar tronkvonnisse uitdien—altesaam vyf en ’n half jaar—waartydens hy van sy vrou en dogtertjie geskei was.
Fernand het van daardie tyd gesê: “Baie mense het gemeen dat ek ’n vaste werk prysgee en my gesin in die steek laat. Mense het my verag en my soos ’n misdadiger behandel. Maar wanneer ek aan daardie moeilike jare dink, onthou ek bowenal hoe Jehovah ons ondersteun en gehelp het. Baie jare het sedertdien verloop, maar my vertroue in Jehovah is nog net so sterk soos destyds.”
Hierdie vertroue het Fernand beweeg om sy skriftuurlike hoop oor die telefoon aan ander bekend te maak. As hy ’n goeie gesprek met iemand gehad het, het hy vir daardie persoon Bybellektuur gepos. Later het hy die persoon weer gebel om te hoor of hy of sy die publikasie geniet het. Soms het mense vir hom geskryf om hom te bedank, wat hom baie bly gemaak het.
Iemand soos Fernand besoek jou dalk. Luister gerus na wat hy te sê het sodat jy kan uitvind wat hy glo. Dit is altyd vir Jehovah se Getuies ’n genot om ander van hulle godsdiensoortuigings te vertel.