Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w07 9/15 bl. 31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die Pasga?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Hoe ons gedurende die Gedenkmaaltyd kan ‘onderskei wat ons is’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
w07 9/15 bl. 31

Vrae van lesers

Aangesien die Jode beveel is om “niks gesuurds” gedurende die Pasga te eet nie, waarom het Jesus wyn—’n produk van gisting—gebruik toe hy die Herdenking van sy dood ingestel het?—Eksodus 12:20; Lukas 22:7, 8, 14-20.

Die Pasgaviering, wat die uittog van die kinders van Israel uit Egipte herdenk het, is in 1513 v.G.J. ingestel. Toe Jehovah instruksies vir die viering daarvan gegee het, het hy gesê: “Niks gesuurds mag julle eet nie. In al julle woonplekke moet julle ongesuurde koeke eet” (Eksodus 12:11, 20). Hierdie goddelike verbod was net van toepassing op die soort brood wat gedurende die Pasga geëet moes word. Daar is geen melding van wyn gemaak nie.

Die hoofrede vir die beperking op suurdeeg was dat die Israeliete haastig uit Egipte vertrek het. “Die volk [het] hulle deeg geneem voordat dit ingesuur is”, verduidelik Eksodus 12:34, “met hulle knieskottels in hulle mantels toegebind op hulle skouers.” Die afwesigheid van suurdeeg gedurende die daaropvolgende Pasgavieringe sou toekomstige geslagte aan hierdie belangrike feit herinner.

Mettertyd is suurdeeg dikwels beskou as ’n simbool van sonde of verdorwenheid. Die apostel Paulus het byvoorbeeld verwys na ’n onsedelike persoon binne die Christengemeente en gevra: “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg deursuur nie?” Toe het hy gesê: “Verwyder die ou suurdeeg, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees, soos julle immers ongesuurd is. Want Christus, ons pasga, is inderdaad geoffer. Laat ons die fees gevolglik nie met ou suurdeeg vier nie, en ook nie met suurdeeg van slegtheid en goddeloosheid nie, maar met ongesuurde koeke van opregtheid en waarheid” (1 Korintiërs 5:6-8). Net ongesuurde brood kon as ’n simbool van Jesus se sondelose menseliggaam dien.—Hebreërs 7:26.

Die gebruik van wyn by die Pasgaviering was ’n latere byvoeging deur die Jode. Dit is waarskynlik gedoen nadat hulle uit Babiloniese ballingskap teruggekeer het. Die Bybel maak nêrens beswaar teen hierdie byvoeging nie, en daarom kon Jesus gepas gebruik maak van wyn by die Pasgamaal. Die natuurlike gisting wat in wyn van die ou tyd plaasgevind het, was natuurlik anders as wat by brood plaasgevind het. In die geval van die deeg moes suurdeeg bygevoeg word voordat dit kon gis. Wyn wat van druiwe gemaak word, het nie so ’n bymiddel nodig nie. Die elemente van gisting is reeds in die druiwe. Gewone druiwesap sou nie by die Pasga beskikbaar gewees het nie, omdat dit nie vanaf die oestyd in die herfs tot die Pasga in die lente ongegis sou gebly het nie.

Jesus se gebruik van wyn as ’n Gedenkmaalembleem was dus glad nie in stryd met die Pasga-instruksies aangaande suurdeeg nie. Enige rooiwyn wat nie versoet is, gefortifiseer is, of enige kruie bevat nie, is gepas vir gebruik as ’n simbool van Christus se “kosbare bloed”.—1 Petrus 1:19.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel