Ken jy jou hemelse Vader?
HOE goed ken jy jou pa? Hierdie vraag klink miskien vreemd as jy in ’n liefdevolle gesin grootgeword het. ‘Ek ken hom baie goed!’ antwoord jy dalk. Ja, die meeste mense weet waarvan hulle pa hou en nie hou nie, hoe hy in sekere situasies reageer en hoe hy vir die gesin sorg.
Maar daar was seker al tye dat jy verbaas was om ’n heeltemal onverwagte faset van jou pa se persoonlikheid te sien. Byvoorbeeld, ’n seun ken sy pa moontlik as ’n stil en sagmoedige persoon—totdat ’n krisis ontstaan. Dan sien hy sy pa skielik as ’n persoon wat vasbeslote en ferm optree om sy gesin te beskerm.
Wat van ons Skepper? Aangaande hom word daar vir ons gesê: “Deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons” (Handelinge 17:28). Ons is ons lewe aan God verskuldig; in hierdie sin is hy die Vader van almal wat lewe (Jesaja 64:8). Miskien is dit hoe jy oor God voel, en dit is goed en gepas. Maar daar is baie meer wat ons omtrent hom kan leer en uitvind—tot ons voordeel en vreugde.
Jou gevoelens teenoor jou aardse vader en jou respek vir hom hang af van hoe goed jy hom ken. Dit is ook die geval met God: Hoe beter jy hom ken, hoe intiemer raak jou verhouding met hom. God kan jou deur die lewe se beproewinge en strikke help as jy hom goed leer ken en leer om sy wil te doen.
Watter soort persoon is God? Watter uitwerking behoort sy eienskappe op jou gevoelens teenoor hom te hê? Plaas dit sekere verantwoordelikhede op jou as jy hom ken? Jy sal die antwoorde op hierdie vrae in die volgende artikel vind.
[Lokteks op bladsy 3]
Jou gevoelens vir ander kan afhang van hoe goed jy hulle ken