Die Bybel verander lewens
WAT het ’n voormalige rebellesoldaat en dief beweeg om sy lewenswyse te verander? Waarom het ’n vegkunskampioen haar doelwitte in die lewe verander? Hoe is ’n vader se geloof in sy seun beloon? Lees hierdie verslae om die antwoorde te vind.
“Ondanks my donker verlede, is ek nou gelukkig.”—GARRY P. AMBROCIO
OUDERDOM: 47
GEBOORTELAND: DIE FILIPPYNE
GESKIEDENIS: REBELLESOLDAAT
MY VERLEDE: Ek het in die dorpie Vintar grootgeword. Die uitgestrekte valleivlakte waar ons gewoon het, was omring deur groen berge, skoon riviere en vars lug. Maar ondanks die vreedsame omgewing was die lewe moeilik. Mense het ons vee gesteel en by ons huis ingebreek.
Toe ek ’n tiener was, het ek en my vriende baie gedrink, en ek het sigarette gerook en het gesteel om vir my slegte gewoontes te betaal. Ek het selfs van my ouma se juwele gesteel. Die leër het my daarvan verdink dat ek aan die rebellegroep behoort wat die Nuwe Volksleër (NPA) genoem is en het my dikwels erg geslaan. Gevolglik het ek besluit om by die rebellegroep aan te sluit. Ek het vyf jaar lank saam met die NPA-soldate in die berge gewoon. Die lewe was moeilik. Ons was altyd aan die rondtrek, op vlug van die leër. Uiteindelik het ek moeg geword om in die berge weg te kruip en het ek my dus aan die goewerneur van Ilocos Norte oorgegee. Hy het my goed behandel en my selfs gehelp om ’n ordentlike werk te kry. Maar ek het nog aan my ou slegte gewoontes vasgehou deur huise te beroof en mense te intimideer.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: ’n Vrou by my werk met die naam Loida was een van Jehovah se Getuies. Deur haar het ek Jovencio ontmoet, en hy het die Bybel met my begin studeer. Maar my ou lewenswyse het ’n sterk houvas op my gehad. Ek het gewoonlik gerook voordat Jovencio vir die Bybelstudie opgedaag het, en ek was nog betrokke by onwettige bedrywighede. Uiteindelik het die polisie my betrap terwyl ek die wet verbreek het, en ek het 11 maande in die tronk gesit. Gedurende hierdie tyd het ek tot Jehovah gebid en hom gesmeek om my te help. Ek het hom gevra om my te vergewe en my sy heilige gees te gee om my te lei en te versterk.
Ná ’n ruk het een van Jehovah se Getuies my in die tronk besoek en vir my ’n Bybel gebring. Ek het dit gelees en geleer dat Jehovah barmhartig en liefdevol is en dat hy sondes vergewe. Ek het besef dat Jehovah reeds barmhartigheid aan my bewys het en my die geleentheid gegee het om van hom te leer. Ek het hom gevra om my die krag te gee om my slegte gebruike te oorwin. Wat ek in Spreuke 27:11 gelees het, het ’n indruk op my gemaak. Vir my was dit asof Jehovah in hierdie vers direk met my praat. Dit sê daar: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.”
Nadat ek uit die tronk vrygelaat is, het ek my Bybelstudie met die Getuies hervat, by hulle vergaderinge met hulle begin assosieer en Bybelbeginsels in my lewe begin toepas. Met Jehovah se hulp het ek uiteindelik van my slegte gewoontes ontslae geraak. Toe het ek my lewe aan Jehovah God toegewy.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Ondanks my donker verlede, is ek nou gelukkig. Hoewel ek ’n slaaf van vieslike gewoontes was, het ek ’n nuwe mens geword (Kolossense 3:9, 10). Vandag het ek die eer om met Jehovah se rein volk te assosieer en om ander te help om van ons almagtige God, Jehovah, te leer.
“Ek wou Brasilië verteenwoordig.”—JULIANA APARECIDA SANTANA ESCUDEIRO
OUDERDOM: 31
GEBOORTELAND: BRASILIË
GESKIEDENIS: VEGKUNSKAMPIOEN
MY VERLEDE: Ek het in Londrina grootgeword. Hoewel die meeste mense in die gebied arm was, was dit skoon en vreedsaam. Toe ek tien was, het my ouer broer my aangespoor om saam met hom ’n vegkuns te oefen wat tae kwon do genoem word, wat beteken “die manier van die hande en die voete”. My pa was nie ten gunste van my nuwe sport nie, maar het weldra ingegee.
Ek het hard geoefen en baie tae kwon do-kampioenskappe in die staat Parana gewen. Later het ek nasionale kampioenskappe gewen, en in 1993 is ek tot ’n Brasiliaanse tae kwon do-kampioen verklaar. Ek wou aan internasionale kampioenskappe deelneem. Maar ons gesin was arm en het nie die geld gehad om my oorsee te stuur nie.
Ek het gehoop dat tae kwon do by die Olimpiese Spele ingesluit sou word, en dit het uiteindelik gebeur. Omdat ek Brasilië by die Olimpiese Spele wou verteenwoordig, het ek hard geoefen en ook ’n borgskap gekry wat my in staat gestel het om in Frankryk, Viëtnam, Suid-Korea en Japan asook in die Suid-Amerikaanse Spele mee te ding. My volgende doelwit was om aan die Pan-Amerikaanse Spele deel te neem, en ek het so goed gevaar dat ek gekies is as een van drie wat in 2003 by daardie sportbyeenkoms in Santo Domingo, Dominikaanse Republiek, sou meeding.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: In 2001 het ek en my kêrel Jehovah se Getuies ontmoet, en hulle het die Bybel met ons begin studeer. Aan die begin was ek nie baie geesdriftig nie. Ek was altyd te moeg om te konsentreer en het dikwels gedurende die studie aan die slaap geraak. Nietemin het die dinge wat ek geleer het, my hart bereik—’n feit wat duidelik geword het by my volgende groot wedstryd.
Omdat ek gekies is om aan die Pan-Amerikaanse Spele deel te neem, het die tae kwon do-meesters my aan ’n voorwedstryd laat deelneem. Toe dit my beurt was om te veg, het ek doodstil op die mat gestaan—sonder enige motivering. Dit het skielik tot my deurgedring dat ’n Christen nie teen ander moet veg nie—nie eens in ’n sport nie! Die Bybel se bevel: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, het by my opgekom (Matteus 19:19). Ek het eenvoudig omgedraai en sonder aarseling die vloer verlaat. Mense het my in ongeloof aangestaar.
Toe ek by die huis kom, het ek gaan sit en dink oor wat ek met my lewe gaan doen. Ek het ’n brosjure van die Getuies opgetel wat bespreek wat God van ons vereis. Daarin het ek ’n verwysing na Psalm 11:5 gesien, wat van Jehovah sê: “Sy siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet.” Hierdie woorde van die psalmis het my diep getref, en ek het besluit om tae kwon do op te gee.
My tae kwon do-meesters was nie gelukkig nie. Hulle het my probeer oorreed deur te sê dat ek die beste in die land is en weldra by die Olimpiese Spele sou kon meeding. Maar ek was vasbeslote.
Teen hierdie tyd was ek en my kêrel getroud. Hy het reeds saam met die Getuies aan die openbare predikingswerk deelgeneem. Hy was vol vreugde wanneer hy by die huis gekom het, en dan het hy my vertel van al die gesprekke wat hy met mense gehad het. Ek het geweet dat ek veranderinge in my lewe sou moes aanbring as ek dieselfde voorreg wou geniet. Ek het uit my kerk bedank en uiteindelik aan die vereistes voldoen om ’n gedoopte Getuie te word.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek en my man is baie gelukkig en verenig omdat ons probeer om Bybelbeginsels in ons huwelik toe te pas. Ek geniet dit om hom te ondersteun terwyl hy help om na ons gemeente om te sien. Ek kon my ingespan het om ’n goue medalje te wen en beroemd te word. Maar ek voel dat niks wat hierdie onregverdige wêreld ons bied, kan vergelyk met die voorreg om Jehovah God te dien nie.
“My pa het nooit moed opgegee met my nie.”—INGO ZIMMERMANN
OUDERDOM: 44
GEBOORTELAND: DUITSLAND
GESKIEDENIS: VEILIGHEIDSWAG BY ’N DANSKLUB
MY VERLEDE: Ek is in ’n godsdienstig verdeelde huis in die steenkoolmyndorp Gelsenkirchen gebore. My pa was een van Jehovah se Getuies. Maar my ma het sy pogings teëgestaan om my, my broer en my twee susters volgens sy godsdiensopvattings groot te maak. Hy was ’n vragmotorbestuurder en het tien uur of meer per dag gewerk. Hy het dikwels tweeuur of drieuur in die oggend begin werk. Maar hy het altyd na ons geestelike opvoeding omgesien. Ek het egter nie sy pogings waardeer nie.
Toe ek 15 was, het ek verveeld geraak met die godsdiensvergaderinge wat hy my laat bywoon het, en ek het gerebelleer. ’n Jaar later het ek by ’n boksklub aangesluit. My gedrag gedurende die volgende twee jaar het my pa grys hare gegee. Toe ek 18 geword het, het ek die huis verlaat.
Ek was versot op sport en het tot ses keer per week geoefen—ek het eers geboks en dan gewigte opgetel. Oor die naweke het ek en my vriende by dansklubs geboer. By een geleentheid het ek betrokke geraak by ’n geveg met ’n klubganger wat baie intimiderend gelyk het, maar ek het hom maklik oorweldig. Die klubeienaar het dit gesien en het my onmiddellik ’n werk as veiligheidswag aangebied. Die betaling was goed, en daarom het ek dit aanvaar.
Ek het elke week by die ingang van die klub gestaan en besluit wie mag ingaan en wie nie. Daar was soms tot 1 000 mense in die klub, en ek is dus besig gehou. Daar was dikwels ’n bakleiery. Ek is met handgewere en stukkende bottels gedreig. Party van die mense wat ek geweier het om in te laat of wat ek by die klub uitgegooi het, het buite gewag om wraak te probeer neem. Ek was 20 jaar oud en het gedink dat ek onoorwinlik is. Maar in werklikheid was ek buite beheer—aggressief, trots, ambisieus en hardkoppig.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: My pa het nooit moed opgegee met my nie. Hy het gereël dat Die Wagtoring en Ontwaak!a na my woonplek gestuur word. Dit het in my kamer opgehoop—sonder dat ek dit gelees het. Toe het ek eendag besluit om deur ’n paar daarvan te blaai. Die artikels wat ek gelees het oor hoe die huidige politieke, ekonomiese en godsdiensstelsel sal eindig, het my beweeg om my suster te bel. Sy en haar man was Jehovah se Getuies. Hulle het aangebied om die Bybel met my te studeer, en ek het daartoe ingestem.
Die beginsel in Galasiërs 6:7 het my aangespoor om veranderinge in my lewe aan te bring. Ek het uit ondervinding geweet dat alles wat ek vandag doen, sê of besluit, môre ’n uitwerking op my lewe sal hê. Ek is ook baie bemoedig deur die uitnodiging in Jesaja 1:18, wat sê: “‘Kom nou, en laat ons sake regstel tussen ons’, sê Jehovah. ‘Al sou julle sondes soos skarlaken wees, dit sal wit soos sneeu gemaak word.’” Hierdie teks het my van die begin van my studie af gehelp om nie onwaardig te voel of te voel dat ek nooit kan terugkeer nie.
Binne ses maande het ek drastiese veranderinge in my lewe aangebring, maar dit was nie maklik nie. Ek moes die verdorwe milieu en rowwe vriende met wie ek my omring het, agterlaat. Ek het dus vir my vriende gesê dat ek die Bybel studeer en vir hulle vertel van die dinge wat ek geleer het. Hulle het my begin vermy en het my ’n priester genoem. Met my suster se hulp het ek ’n ander, geskikter werk gevind.
Ek het ook vergaderinge begin bywoon by die Koninkryksaal waarheen my suster en haar man gegaan het, al was dit 30 kilometer ver. Daar was ’n Koninkryksaal nader aan my tuiste, maar ek was skrikkerig om mense te ontmoet wat my van kleins af geken het. Ek was ook bang om van huis tot huis te gaan en te preek in die gebied waar ek gewoon het. Sê nou ek kom iemand teë wat ek onlangs by die klub uitgegooi het of vir wie ek dwelms gegee het? Ek het egter ’n les uit my fiksheidsoefeninge geleer—die moeilikste oefeninge is die belangrikste. Toe ek dus aan die vereistes voldoen het, het ek so dikwels moontlik in die predikingswerk uitgegaan.
Ek moes nog ’n uitdaging die hoof bied—ek het nie daarvan gehou om te lees of te studeer nie. Maar ek het geweet dat ek my sou moes dissiplineer om in die waarhede van die Bybel te delf as ek sterk geloof wou opbou. Ek het ontdek dat ’n mens jou, net soos by gewigoptel, moet inspan as jy sterk wil word.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek lewe! Ek moet nog steeds my swakhede in bedwang hou sodat dit nie die oorhand oor my kry nie. Maar ek het nou ’n wonderlike gesinslewe met my vrou, wat ’n pragtige Christelike persoonlikheid het. Ek het ware vriende onder Jehovah se Getuies op wie ek ten volle kan vertrou. My pa het vyf jaar gelede gesterf, maar voordat hy dood is, het hy die vreugde gesmaak om sy seun terug te ontvang.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.