Wat is die goeie nuus?
“Hierdie goeie nuus . . . ”—MATTEUS 24:14.
CHRISTENE moet “die goeie nuus van die koninkryk” verkondig deur ander daarvan te vertel en te verduidelik dat die Koninkryk die toekomstige wêreldregering is wat in regverdigheid oor die aarde sal heers. Maar die Bybel gebruik die uitdrukking “goeie nuus” ook op ander maniere. Dit verwys byvoorbeeld na “die goeie nuus van redding” (Psalm 96:2); “die goeie nuus van God” (Romeine 15:16); en “die goeie nuus oor Jesus Christus”.—Markus 1:1.
Eenvoudig gestel, die goeie nuus behels al die waarhede waaroor Jesus gepraat het en sy dissipels geskryf het. Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy volgelinge gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Die werk van ware Christene is dus nie net om ander van die Koninkryk in te lig nie; hulle moet ook daarna streef om dissipels te maak.
Hoe vaar die kerke in hierdie verband? Dié wat nie verstaan wat die Koninkryk is nie—en daar is baie—kan ander nie met akkuraatheid daaroor leer nie. Hulle lewer eerder preke oor vergifnis van sondes en geloof in Jesus, wat bedoel is om mense goed te laat voel. Hulle probeer ook bekeerlinge werf deur middel van maatskaplike werk of deur hospitale, skole en tehuise vir die armes te bou. Hoewel hierdie pogings dalk meer lidmate lok, bring dit nie ware Christene voort wat opreg probeer om in ooreenstemming met Jesus se leringe te lewe nie.
Een teoloog skryf: “Jy sal min geleerdes of leiers in Christelike kringe vind wat ontken dat ons dissipels of volgelinge van Jesus moet maak en hulle moet leer om alles te doen wat Jesus beveel het. . . . Jesus se instruksies oor hierdie saak is immers baie duidelik. Ons doen net nie wat hy gesê het ons moet nie. Ons wend nie werklik ’n poging aan nie. En blykbaar weet ons nie hoe om dit te doen nie.”
En in ’n opname onder Katolieke in die Verenigde State het 95 persent van die respondente erken dat die verkondiging van die goeie nuus ’n vereiste van hulle geloof is. Maar volgens die meeste is die beste manier om dit te doen, nie om daaroor te praat nie, maar om hulle lewe op so ’n wyse te lei dat dit vir ander ’n voorbeeld is. Een van dié met wie ’n onderhoud gevoer is, het gesê: “Evangelisasie is anders as woorde, woorde en nog woorde. Ons moet die Goeie Nuus wees.” Volgens U.S. Catholic, die tydskrif wat die opname gedoen het, verkondig baie nie hulle geloof nie omdat “die onlangse skandale in verband met seksuele mishandeling en problematiese kerkleerstellings die kerk ’n swak beeld gegee het”.
Elders het ’n Metodistebiskop gekla dat sy kerke verdeeld is, verward is, nie die moed het om hulle opdrag uit te voer nie en dat hulle waardes baie soortgelyk is aan dié van die gemeenskap oor die algemeen. Hy het gefrustreerd gevra: “Wie kom die verantwoordelik na om die evangelie van die Koninkryk uit te dra?”
Die biskop het nie ’n antwoord op sy vraag voorsien nie. Maar daar is wel ’n antwoord. Jy sal dit in die volgende artikel vind.
[Lokteks op bladsy 6]
Die goeie nuus handel oor die Koninkryk van God, asook redding deur geloof in Jesus Christus