Toon waardering vir gemeentelike vergaderinge
1 Gemeentelike vergaderinge is ’n bron van ryk geestelike voedsel wat noodsaaklik is vir ons geloof en redding. By ons vergaderinge is Jehovah ons “Groot Onderrigter” en sy Seun, Jesus Christus, ons “Leermeester” (Jes. 30:20, NW; Mark. 14:14, NAV). Jehovah is die gasheer en sy heilige gees is daar teenwoordig (Openb. 22:17). Christus Jesus is aanwesig aangesien hy belowe het: “Waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde” (Matt. 18:20). As Jehovah en Jesus Christus vergaderinge so belangrik ag, moet ons nie een vergadering sonder ’n baie goeie rede mis nie. Trouens, ons almal moet des te meer ag gee op ons vergaderingbywoning sodat ons nie “wegdrywe” nie.—Hebr. 2:1-3.
2 Wat is party voordele wat ons geniet as ons al die gemeentelike vergaderinge bywoon? Eerstens versterk Jehovah ons deur middel van veilige assosiasie met ons medegelowiges. Ons kan probleme by ons sekulêre werk, op skool en tuis beter hanteer. Ons kry die allerbeste opvoeding in die vyf uur wat ons by vergaderinge deurbring. Ja, die teokratiese opvoeding wat ons by ons vyf vergaderinge ontvang, is baie voortrefliker as wat enige wêreldse opvoedkundige instelling ooit kan aanbied. Dit behels dat ons God se Woord met insig lees en geleer word hoe om Bybelbeginsels in ons daaglikse lewe toe te pas. Vergaderinge help ons ook om bekwamer te word in die manier waarop ons ander help om die weg na die ewige lewe te betree. Kan jy dus dink aan ’n beter plek om te wees as in die geselskap van Jehovah, Jesus Christus en ons geestelike broers by die gemeentelike vergaderinge elke week?
3 Hoewel daar ’n verbetering is, is dit jammer dat party skynbaar nog nie besef hoe belangrik dit is om vergaderinge gereeld by te woon nie. In ’n onlangse ontleding is die volgende onrusbarende neiging opgemerk: In die Blankeveld het nie een van ons vergaderinge ’n gemiddelde bywoning van 100% of meer nie. Die Openbare Toespraak word slegs deur 96% bygewoon, die Wagtoring-studie deur 91%, die Teokratiese Bedieningskool deur 84%, die Diensvergadering deur 82% en die Gemeentelike Boekstudie deur 87%. As ons na die opkoms by ons onlangse streekbyeenkomste en die viering van die Gedenkmaal verlede maand kyk, is dit duidelik dat ’n aantal broers nog nie die regte waardering vir hierdie voortreflike voorsiening van Jehovah het nie. Wat kan ons dus doen om hierdie saak reg te stel?
4 Ons moet voortgaan om ’n hartgrondige waardering vir die belangrikheid van gemeentelike vergaderinge op te bou. Met die oog op die geïnspireerde vermaning in Hebreërs 10:23-25 moet al Jehovah se knegte dit as Jehovah se wil beskou dat hulle vergaderinge gereeld bywoon. Dit is ’n onafskeidelike deel van ons toewyding aan Jehovah! Dit is ook ’n blyk van ons liefde vir Jehovah en vir ons broers. Die opregtheid en oortuiging van die wat antwoord en toesprake hou, spoor ons aan om voort te gaan om liefde vir Jehovah en ons naaste te betoon. Ons word inderdaad by vergaderinge hartlik verseker dat Jehovah sy volk rig (Eseg. 34:11). Moet al hierdie blyke van God se liefdevolle besorgdheid teenoor sy volk nie elkeen van ons beweeg om ons kragtig in te span om elke vergadering by te woon nie? Selfs as ons by tye siek of moeg voel, sal die hartlikheid en vriendelikheid van ons broers en hulle geloofsbetuiginge gedurende vergaderinge ’n groter verkwikkende uitwerking op ons hê as wat ons ooit kan dink.
5 Ouere manne en bedieningsknegte kan baie doen om ander te help om des te meer op vergaderingbywoning ag te gee. Hulle gereelde bywoning van, deelname aan en oplettendheid gedurende vergaderinge stel die voorbeeld vir ander om gemeentelike vergaderinge in ’n ernstige lig te beskou. Hulle deeglike en biddende voorbereiding van vergaderingtoewysings sal grootliks daartoe bydra om vergaderinge interessanter en opbouender te maak. Ouers kan hulle kinders se aptyt wek deur vir hulle voor die vergaderinge te vra om op die uitkyk te wees na spesifieke gedagtes wat hulle in velddiens of met probleme by die skool kan help. Op pad huis toe na vergaderinge kan ouers hulle kinders moontlik uitvra oor die dinge wat hulle gehoor het en hoe hulle meen dit in hulle lewe toegepas kan word. Ouers moet natuurlik self ’n goeie voorbeeld stel deur vergaderinge gereeld by te woon en hulle waardering vir Jehovah se voorsiening uit te spreek.
6 Behoorlike voorbereiding is ’n duidelike bewys van ons waardering vir vergaderinge. Sulke voorbereiding help ons om vergaderinge meer te geniet, net soos kos wat warm gemaak word of gekook is voor dit geëet word. Ons kan kos koud eet, maar dit word meer waardeer as dit behoorlik voorberei en opgedien word. Goed voorbereide antwoorde in ’n mens se eie woorde sal ander tot liefde en goeie werke aanspoor. Goeie voorbereiding en ’n betekenisvolle deelname help dikwels meer mense om vergaderinge gereeld by te woon en gedurende vergaderinge aandag te skenk. Die aanwesiges waardeer die openbare belydenis van jonk en oud, van die wat lank of nuut in die waarheid is.
7 As ons Jehovah opreg liefhet en vir ewig in God se nuwe orde wil lewe, moet ons voortdurend ag gee op die apostel Paulus se vermaning in Hebreërs 10:25 om nie ‘ons onderlinge byeenkoms te versuim nie’! In hierdie moeilike laaste dae het ons die bykomende bemoediging nodig wat verkry word wanneer ons gereeld bymekaarkom ten einde geestelik sterk te bly en Christelike onkreukbaarheid te handhaaf. Laat ons waardering vir Jehovah se liefdevolle voorsiening van vergaderinge elkeen van ons beweeg om des te meer ag te gee op ons vergaderingbywoning.