Vraebus
● Waarom moet ons spesiale aandag aan ons kleredrag en persoonsversorging skenk wanneer ons die Suid-Afrikaanse Bethel en alle takkantore oor die hele wêreld heen besoek?
Daar word van Christene verwag om die dekorum te bewaar. Ons kleredrag en persoonsversorging moet te alle tye die betaamlikheid en waardigheid weerspieël wat by knegte van Jehovah God pas. Dit is veral die geval wanneer ons Bethel en takkantore en fasiliteite dwarsdeur die wêreld besoek. Waar die belangrikheid van behoorlike kleredrag en persoonsversorging bespreek word, verduidelik Georganiseer om ons bediening te vervul hoe belangrik fisiese reinheid en beskeie kleredrag en persoonsversorging is wanneer ons aan velddiens deelneem en Christelike vergaderinge bywoon. Dan, op bladsy 131, paragraaf 2, sê dit: “Dieselfde geld wanneer ons die Bethelhuis te Brooklyn of enige van die Genootskap se takkantore besoek. Onthou, die naam Bethel beteken ‘Huis van God’, en daarom moet ons kleredrag, persoonsversorging en gedrag dieselfde wees as wat van ons verwag word wanneer ons vergaderinge vir aanbidding by die Koninkryksaal bywoon.”
Die apostel Paulus het gesê dat ons “’n skouspel geword [het] vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense” (1 Kor. 4:9). Derhalwe moet ons kleredrag en persoonsversorging ’n positiewe invloed op ander se beskouing van die ware aanbidding van Jehovah hê. Daar is egter opgemerk dat sommige broers en susters uiters informeel aantrek wanneer hulle die Genootskap se takkantore besoek. Sulke kleredrag is nie gepas wanneer die takkantore besoek word nie. In hierdie aangeleentheid, soos in alle ander aspekte van ons Christelike lewe, is dit ons begeerte om dieselfde hoë standaarde te handhaaf wat God se volk van die wêreld onderskei omdat hulle alles tot verheerliking van God doen (Rom. 12:2; 1 Kor. 10:31). Dit is ook goed om met ons Bybelstudente en ander te praat wat dalk die Brooklynse Bethel of enige van die Genootskap se takkantore die eerste keer besoek sodat ons hulle daaraan kan herinner hoe belangrik dit is om aandag aan behoorlike kleredrag en persoonsversorging te skenk.
Wanneer jy die Genootskap se takkantore besoek, moet jy jou dus afvra: ‘Is my kleredrag en persoonsversorging beskeie? (Miga 6:8, NW). Stel dit die God wat ek aanbid in ’n goeie lig? Sal my voorkoms ander se aandag aftrek of hulle aanstoot gee? Stel ek die regte voorbeeld vir ander wat dalk die eerste keer besoek aflê?’ Mag ons altyd, deur ons kleredrag en persoonsversorging, “die leer van God, ons Verlosser, in alles . . . versier”.—Tit. 2:10.