Nuwe videoband! hoe dit gebruik kan word
1 Die Bethelgesinne in die Verenigde State en Kanada het dit Maandagaand, 8 Oktober 1990, gesien, en hulle was opgewonde oor die moontlikhede vir die gebruik daarvan. ’n Egpaar in Bethel het gesê dit was “een van die bemoedigendste en genotvolste dinge wat ons nog ooit gesien het”. Nadat jy hierdie nuwe videoband van 55 minute getiteld Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name gesien het, is ons seker dat die leersame, pragtige aanbieding jou ook sal beïndruk.
2 Die videoband toon hoe die organisasie van Jehovah se toegewyde volk Jesus se opdrag volbring om die goeie nuus van die Koninkryk oor die hele aarde te verkondig (Matt. 24:14). Hoewel bedrywighede by die Brooklyn-Bethel en Watchtower Farms beklemtoon word, gee die videoband ’n uitstekende oorsig van die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies. Julle sal oplet dat reproduksie van hierdie materiaal verbode is.
3 Julle sal bly wees om te verneem dat hierdie videoband nou hier in Suid-Afrika beskikbaar is, maar slegs in Engels. Julle kan dus nou begin om julle bestellings deur julle gemeente te plaas. Die prys vir verkondigers is R45 en vir pioniers R40. Pioniers sal nie ’n gratis videoband ontvang nie.
4 Nadat julle hierdie aanbieding gesien het, sal julle ongetwyfeld aan mense begin dink vir wie julle dit wil wys. Maar veral vir wie? Dit is spesiaal ontwerp sodat julle dit aan mense kan wys met wie julle ’n tuisbybelstudie hou en wat goeie vordering maak. Ons stel voor dat julle saam met die student daarna kyk, aangesien dit as ’n grondslag kan dien vir toekomstige besprekings met hom. As die student wil, kan hy hierdie video leen om aan ander te wys, of hy kan vir hom ’n persoonlike kopie aanskaf.
5 Het julle familielede wat nie in die waarheid is nie? Waarom reël julle nie dat hulle daarna kyk nie? Dit is dalk nét wat nodig is om ’n bespreking oor ons organisasie en ons opvattings te begin. Die program sal jongmense ook tot voordeel strek. Hulle kan aangemoedig word om ook die voltydse bediening te betree nadat hulle gesien het hoeveel ander jongmense hulle op die bevordering van Koninkryksbelange toelê.
6 Ons is oortuig dat hierdie nuwe video baie meer mense se waardering sal vergroot vir Jehovah se organisasie en die werk wat dit wêreldwyd verrig.