Hoe om koeponbestellings uit te voer
Die Genootskap dui nou al ’n paar maande lank nie meer aan hoeveel publikasies kos wat op die koepons agterop ons tydskrifte geadverteer word nie. Die vernaamste rede hiervoor is dat ’n aantal lande in die wêreld die bydraereëling gebruik wanneer hulle lektuur aanbied. Met die bydraereëling word daar nie van ’n spesifieke bedrag melding gemaak wanneer daar met huisbewoners gepraat word nie. Die bedrag vir die bydraes word dus ter wille van eenvormigheid nie meer in ons publikasies gedruk nie.
In hierdie deel van die veld is ons nie onder hierdie bydraereëling nie. Wanneer koepons derhalwe aan die Genootskap gestuur word, stuur ons dit aan die gemeente in wie se gebied daardie persoon woon. Die gemeente word gevra om te reël dat iemand die publikasie neem na die persoon wat die koepon aan die Genootskap gestuur het en om die aanbod te doen soos ons dit normaalweg in die veldbediening sal doen en te meld wat die bydrae vir die spesifieke publikasie of tydskrif is.
Probleme is nou en dan ondervind wanneer so ’n besoek gedoen is en mense gesê het dat die prys nie op die koepon verskyn nie. As dit sou gebeur, kan ons taktvol meld dat die koepon nie gesê het dat die item “gratis” is nie. Goedhartige mense besef dat daar onkoste by betrokke is om sulke items te druk en hulle sal graag ’n bydrae hiervoor gee. In party gevalle, wanneer ’n mens kan sien dat iemand werklik belangstel en nie die publikasie kan bekostig nie, sal ons ongetwyfeld self daardie koste dek en die spesifieke publikasie of tydskrif gratis vir die persoon gee. Sodoende sal ons ons deel doen om almal die geleentheid te gee om te ‘kom en die water van die lewe verniet te neem’.—Openb. 22:17.