Spesiale bedrywighede vir Maart en April
1 Jehovah se Getuies in alle wêrelddele wend elke jaar gedurende Maart en April ’n spesiale poging aan om aan die predikingswerk deel te neem. Wat van jou? Het jy definitiewe planne gemaak om ’n groter aandeel aan die bediening te hê?
2 Verkondigers wat gedurende Maart en April as hulppioniers wil dien, moet nou reeds hulle planne maak en hulle aansoekvorm vroegtydig ingee. Dit sal die ouere manne help om die nodige velddiensreëlings te tref en te sorg dat daar genoeg lektuur beskikbaar is. Hou in gedagte dat ons op 3 April ’n spesiale tydskrifdag gaan hê. Gemeentes moet spesiale tydskrifbestellings dadelik instuur en die Distributors’ Order-vorm (M-AB-202) daarvoor gebruik.
3 Kan ons vir die maand van April ’n doelwit stel vir ’n hoogtepunt in hulppioniers en tydskrifverspreiding? Verlede jaar het ons 6559 hulppioniers vir Suid-Afrika gehad. Altesaam 599 394 tydskrifte is versprei. Kan ons hierdie syfers gedurende April 1993 oortref? Bespreek hierdie saak as ’n gesin. Praat met Jehovah in gebed. Die ouere manne, veral die diensopsiener, moet vooruit beplan vir hierdie spesiale bedrywighede en die gemeente op hoogte van sake hou. Gemeentes wat vanweë die groter bedrywigheid meer gebied nodig het, kan in hulle ontoegekende gebied werk. Mag ons almal gedurende Maart en April oorvloedig wees in Jehovah se diens.—1 Kor. 15:58.