Vraebus
◼ Wat sal as gepaste kleding beskou word wanneer jy jou vir doop aanbied?
Hoewel kleredragstandaarde in verskillende dele van die wêreld verskil, bly die Bybel se vermaning om ons “met beskeidenheid en ingetoënheid” te klee dieselfde vir alle Christene, ongeag waar hulle woon (1 Tim. 2:9). Hierdie beginsel moet toegepas word wanneer ’n mens besluit wat gepaste kleding vir doop is.
Die Wagtoring van 1 Junie 1985, bladsy 30, gee hierdie raad vir iemand wat gedoop gaan word: “Watter soort baaikostuum ook al gedra word, dit moet beslis beskeie wees. Dit is vandag belangrik daar modeontwerpers blykbaar seksualiteit wil beklemtoon en feitlik algehele naaktheid wil bereik. Nog ’n faktor wat in ag geneem moet word, is dat sekere baaikostuums beskeie lyk wanneer dit droog is, maar nie meer beskeie is wanneer dit nat is nie. Niemand wat gedoop word, sal ’n oorsaak vir steuring of struikeling by so ’n ernstige geleentheid soos doop wil wees nie.—Filippense 1:10.”
Diegene wat gedoop word, moet in ooreenstemming met hierdie raad beskeie klere dra wat by die belangrikheid van die geleentheid pas. ’n Skraps baaikostuum of een wat onbetaamlik aan die liggaam kleef wanneer dit nat is, sal nie gepaste kleding vir ’n Christen wees nie en moet vermy word. Dit sal eweneens onvanpas wees om slordig en onversorg te lyk. Dit sal ook nie gepas wees om T-hemde met wêreldse gesegdes of handelslagspreuke op te dra nie.
Wanneer die aangewese ouere manne die doopkandidaat se doopvrae met hom hersien, sal dit ’n goeie tyd wees om die belangrikheid van gepaste kleding te bespreek. Sodoende sal die waardigheid van die geleentheid gehandhaaf word, en ons sal aanhou om opvallend anders as die wêreld te wees.—Vergelyk Johannes 15:19.