Vereistes vir die nuwe sowel as die ervare bedienaar
1 Die psalmis Dawid het gevra: “HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?” Met ’n paar goed gekose woorde het Dawid geantwoord: “Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek” (Ps. 15:1, 2). Daardie vereistes het nie verander nie. Almal wat vandag kom om in die Christengemeente te aanbid, moet onsedelike gebruike en dronkenskap laat vaar. Daar is geen plek onder Jehovah se volk vir diegene wat twissiek is, ’n opvlieënde humeur het of bedrieglik is nie. Hetsy ons nuwe of ervare bedienaars is, ons moet die hoë standaarde wat in God se Woord uiteengesit word getrou handhaaf.—Gal. 5:19-21.
2 Talle nuwelinge gaan met Jehovah se organisasie om. Oud én jonk het hulle denkwyse verander om hulle lewenswyse by God se vereistes aan te pas. ’n Seun in Suid-Amerika het sonder ouerlike leiding grootgeword en ernstige persoonlikheidsprobleme ontwikkel. Teen die tyd dat hy 18 was, was hy aan dwelms verslaaf en was hy al in die tronk weens diefstal om sy dwelmgewoonte te onderhou. Deur middel van ’n Bybelstudie het hy van sy voormalige metgeselle afgesien, nuwe vriende onder Jehovah se Getuies gevind en uiteindelik sy lewe aan God toegewy.
3 Net so moet ons vasbeslote wees om God in al ons doen en late te behaag, “in ware regverdigheid en lojaliteit” (Ef. 4:24, NW). Ons het die verpligting om “die ou persoonlikheid met sy gebruike af [te lê]” en ons te “beklee . . . met die nuwe persoonlikheid wat deur juiste kennis vernuwe word” as ons in God se bergagtige organisasie wil bly.—Kol. 3:9, 10, NW.
4 God se Woord, ’n kragtige invloed: Jehovah se persoonlikheid, soos die Bybel dit openbaar, kan op ’n positiewe wyse ’n kragtige invloed op ons denkwyse en ons optrede uitoefen (Rom. 12:2). Sy Woord het die krag om verstande te verander en harte te deursoek (Hebr. 4:12). Die geïnspireerde Skrif leer ons dat Jehovah se wil vereis dat ons ’n sedelike lewe lei, ten volle aan die openbare bediening deelneem en Christelike vergaderinge nie afskeep nie.
5 In hierdie swaar tye kan toenemende druk ’n Christen beïnvloed om God se wette te verbreek. As persoonlike studie, gesinstudie, gemeentelike vergaderinge of die bediening afgeskeep word, kan selfs ’n Christen wat vroeër sterk was van die geloof af wegdryf en hom miskien aan verkeerde gedrag skuldig maak. Dit is waarom Paulus aan Timotheüs geskryf het: “Skenk voortdurend aandag aan jouself en aan jou onderrigting” en “Dink voortdurend aan wat ek sê.”—1 Tim. 4:16, NW; 2 Tim. 2:7, NW.
6 Of ons nou onlangs met die Getuies begin omgaan het of vanweë jare se ondervinding ervare is, ons moet God se vereistes duidelik voor oë hou, geheel en al gebalanseerd in die bediening wees en ons hoop sterk hou as ons ons lewe wil behou (1 Pet. 1:13-16). Die daaglikse nakoming van God se regverdige vereistes is absoluut noodsaaklik.
7 Stel jou dit ten doel om gedurende hierdie laaste maand van die 1993-diensjaar in die veldbediening uit te wees. Wees vasbeslote om ander te help om in geloof te groei en hulle produktiwiteit in die veldbediening te vergroot (Rom. 1:12). Hou deur gereelde persoonlike studie, gesinstudie en vergaderingbywoning jou gedagtes op die regte dinge gevestig (Filip. 4:8). Jou pogings om God te behaag deur sy vereistes na te kom, sal nie ongemerk bly nie.—Kol. 3:23, 24.