Brosjures—waardevolle instrumente vir die bediening
1 ’n Vaardige vakman dra gewoonlik ’n verskeidenheid instrumente by hom wat elkeen vir ’n spesifieke taak ontwerp is. As Koninkryksverkondigers het ons ’n groot verskeidenheid brosjures om ons te help om op ’n vaardige wyse in die geestelike behoeftes te voorsien van diegene vir wie ons getuig (Spr. 22:29). Jy kom moontlik by een deur iemand teë wat terneergedruk is. By ’n ander huis smag die huisbewoner na ’n regverdige regering, terwyl iemand anders wonder of die lewe ’n doel het. Hoe kan ons ons brosjures gebruik om hierdie mense te help?
2 Wanneer jy die brosjure “Gee God werklik vir ons om” aanbied, kan jy iets soos die volgende sê:
◼ “Sommige mense wat die lyding en ongeregtigheid in die wêreld sien, is geneig om God daarvoor te blameer. Hulle redeneer dat, aangesien God almagtig is, hy ’n einde aan ons lyding sou maak as hy werklik vir ons omgegee het. Hoe voel jy daaroor? [Laat huisbewoner antwoord.] Psalm 72:12-14 toon dat God wel vir ons omgee. Lyding en ongeregtigheid is nie sy skuld nie. Hy het belowe dat kwaaddoeners binnekort vernietig sal word. Hierdie brosjure, Gee God werklik vir ons om?, toon wat hy gaan doen en hoe ons daaruit kan voordeel trek.” Jy sal moontlik die bespreking kan voortsit met kommentare op bladsy 27, paragraaf 22.
3 As jy die “Doel van die lewe”-brosjure gebruik, kan jy so begin:
◼ “Die meeste mense wonder vroeër of later wat die doel van die lewe is. Is dit bloot om 70 of 80 jaar te leef en dan te sterf? Of het die lewe groter betekenis? Wat dink jy? [Laat huisbewoner antwoord.] Hier in Psalm 37:29 sien ons God se wonderlike voorneme vir die mens en die aarde.” Nadat jy die teks gelees het, blaai na die prent op bladsy31 en lewer verder kommentaar oor hoe dit sal wees om in die Paradys te lewe.
4 Jy kan die “Kyk!”-brosjure aanbied deur die hele prent op die buiteblad te wys en dan te vra:
◼ “Wat dink jy is nodig om die aarde soos hierdie prent te laat lyk? [Laat huisbewoner antwoord.] Almal in hierdie prent het ’n huis en aangename werk. Daar is vrede en ’n oorvloed voedsel, en die aarde is nie besoedel nie. Hoewel menseregerings baie hard probeer, kan hulle eenvoudig nie so ’n wêreld tot standbring nie. Die Bybel verseker ons egter dat God ‘alles nuut sal maak’. [Blaai na bladsy 30 en lees Openbaring 21:3,4.] Hierdie brosjure kan jou help om te leer wat jy moet doen om in hierdie nuwe wêreld te lewe.” As genoeg belangstelling getoon word, blaai na bladsy3 en demonstreer hoe ons ’n Bybelstudie hou.
5 Jy kan hierdie benadering met die “Lewe op aarde”-brosjure gebruik:
◼ “Baie mense dink dat hulle hemel toe moet gaan om die ewige lewe te kan geniet, maar hoe sal jy daarvan hou om vir ewig op die aarde te lewe? [Laat huisbewoner antwoord.] Die Bybel verseker ons dat ewige lewe moontlik is en dit vertel ons hoe ons daardie doel kan bereik.” Lees Johannes 17:3. Wys dan vir die huisbewoner prent 49 en vra: “Sal jy daarvan hou om in so ’n wêreld te lewe?” Bied die brosjure aan en reël vir ’n herbesoek.
6 Die brosjures bespreek tydige onderwerpe, beantwoord mense se vrae en bied bemoediging. As ons hierdie instrumente op ’n vaardige wyse gebruik, kan ons opregte mense help om ‘tot ’n juiste kennis van die waarheid te kom’.—1 Tim. 2:4, vgl. NW.