Watter soort mense behoort julle te wees?
1 ’n Tyd van rekenskap kom nader vir die hele mensdom. Die Bybel noem dit “die dag van Jehovah”. Dit is die tyd wanneer Goddelike oordeel aan die goddeloses voltrek gaan word; dit is ook ’n tyd van verlossing vir die regverdiges. Alle mense wat dan lewe, sal rekenskap moet gee van hoe hulle hulle lewe gelei het. Met die oog hierop opper Petrus ’n ondersoekende vraag: “Watter soort mense behoort julle dan te wees”? Hy beklemtoon die belangrikheid van ‘heilige gedragshandelinge, dade van godvrugtige toegewydheid en om die dag van Jehovah goed in gedagte te hou’, sowel as die belangrikheid daarvan om ‘vlekkeloos, smetloos en in vrede’ te wees.—2 Pet. 3:11-14.
2 Heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid: Heilige gedrag sluit voorbeeldige werke in waardeur respek vir Bybelbeginsels getoon word (Tit. 2:7,8). ’n Christen moet wêreldse gedrag vermy wat uit selfsugtige, vleeslike begeertes voortspruit.—Rom. 13:11,14.
3 “Godvrugtige toegewydheid” word beskryf as “’n persoonlike gehegtheid aan God wat voortspruit uit ’n hart wat deur ’n diepe waardering vir sy innemende eienskappe beweeg word”. Ons ywer in die bediening is ’n uitstekende manier waarop ons hierdie eienskap openbaar. Ons word deur meer as ’n blote pligsgevoel beweeg om te preek; ons beweegrede is ’n diepgewortelde liefde vir Jehovah (Mark. 12:29, 30). Aangesien ons deur sulke liefde beweeg word, beskou ons ons bediening as ’n betekenisvolle blyk van ons godvrugtige toegewydheid. Aangesien ons toewyding bestendig moet wees, behoort ons ’n gereelde aandeel aan die predikingswerk te hê. Dit moet ’n integrerende deel van ons weeklikse rooster vir bedrywighede uitmaak.—Heb. 13:15.
4 Om Jehovah se dag ‘goed in gedagte te hou’, beteken dat ons dit in ons daaglikse gedagtes op die voorgrond hou en dit nooit as iets onbelangriks op die agtergrond skuif nie. Dit beteken dat ons Koninkryksbelange altyd eerste in ons lewe moet stel.—Matt. 6:33.
5 Vlekkeloos, smetloos en in vrede: As lede van die groot skare het ons ‘ons lang gewade gewas en dit wit gemaak in die Lam se bloed’ (Op. 7:14). Om “vlekkeloos” te wees, beteken dus dat ons onwrikbaar daarteen moet waak dat ons rein, toegewyde lewe deur onsuiwerhede van die wêreld besmet word. Ons hou ons “smetloos” deur nie toe te laat dat goddelose, materialistiese strewes ons Christelike persoonlikheid skend nie (Jak. 1:27; 1 Joh. 2:15-17). Ons toon dat ons “in vrede” lewe deur “die vrede van God” in al ons handelinge met ander te weerspieël.—Fil. 4:7; Rom. 12:18; 14:19.
6 As ons met welslae teen wêreldse besmetting waak, sal ons nooit “na hierdie stelsel van dinge gevorm” word, wat deur Jehovah veroordeel is nie. Ons voortreflike werke sal ander eerder help om die onderskeid te sien “tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie”.—Rom. 12:2; Mal. 3:18.
7 Jehovah se naam word verheerlik, die gemeente word versterk en ander vind daarby baat wanneer ons “voortreflike werke” getrou verrig (1 Pet. 2:12). Mag ons altyd daardie soort mens wees.